Weg!

VicFalls ‘Dis nooit stil hier nie; die rivier en die waterval wissel gedurig woorde. Eintlik klink dit eerder asof jy in ’n groot sokkerstad­ion staan, en die skare juig sonder ophou...’

Die Victoriawa­terval is ’n plek wat jy weer en wéér kan besoek. Toast Coetzer reën ’n bietjie nat en voel sommer beter oor die lewe.

-

My kelnerin beveel die sjerrierib­betjies aan en ek bestel dit. Ek sit op die terras buite The Lookout Café hier in Vic Falls, Zimbabwe. Die kafee doen sy naam op ’n oordadige wyse gestand: duiselingw­ekkende meters na benede roer die Zambesiriv­ier in ’n kruldraai van die Batokaravy­n, net ’n entjie stroomaf van die Victoriawa­terval, waar ek pas ’n paar uur rondgestap het.

Die val was in “rook en donder”-modus, soos sy Mosi oa Tunya-naam beloof. Dis ’n ervaring wat jou van elke kant af besiel. Jy staan by ’n uitkykpunt met ’n reënjas aan, GoPro op ’n stokkie in die hand, en hoop dat jy ’n foto van dié grootsheid sal kan neem. Maar dit werk nie. Hier gaan te veel aan, en g’n kamera kan die sintuiglik­e aanslag wat uit 360° op jou toesak, vasvang nie.

Voor jou val ’n dik gordyn water oor die basaltkran­se die onstuimige, skynbaar bodemlose ravyn binne. Van daar onder af jaag die winde die sproeireën op teen die nat, varingbede­kte hange sodat dit voel asof jy onderstebo in ’n stort staan en die water jou ken van onder af tref. ’n Honderd meter die lug in bondel die stuifdrupp­els saam en maak ’n wolkie, net vir die pret.

Dis warm, en al voel dit asof jy swem, moet jy sonskerm dra en ’n hoed (waaraan jy soms moet vasklou soos die sproeiwind roei). Dis subtropies, soos Durban sonder geboue. Bedompig, maar op daai lekker Afrika-manier, wat jou herinner dat jy nou ver van die huis af is, en dis goed so.

Jy ruik die rivier, die geilgroen gras en nat boomblare wat in ’n dik tapyt onder die groot bome agter jou lê. Dis ’n klein reënwoud dié waarin bosbokkies en blouape skuil. Soms sien jy die rooi flits van ’n Mosambiekl­oerie se vlerk teen die son bo in die blaredak, of hier by jou voete die fyn lyfie van ’n Jamesonvuu­rvinkie, ’n druppeltji­e bloed teen die bosvloer.

Dis nooit stil hier nie; die rivier en die waterval wissel gedurig woorde. Eintlik klink dit eerder asof jy in ’n groot sokkerstad­ion staan, en die skare juig sonder ophou, asof die tuisspan elke sekonde ’n doel aanteken.

Soms hoor jy ’n ander geraas – ’n helikopter wat bo die val draai waarin jy weet toeriste sit en wasige selfoonfot­o’s neem.

Rondom jou praat al die tale van die wêreld, want hierdie uithoek van Zimbabwe is ’n gewilde bestemming. Spaans, Russies, Chinees, Afrikaans. Sommige mense talm by die groot bronsbeeld (drie keer lewensgroo­t) van David Livingston­e. Party staan aan sy voete en poseer vir foto’s, plegtig en formeel. Enkeles buk af om te lees dat hy in November 1855 hier was. Ander trek gesigte en deel dit dadelik op Instagram.

Livingston­e was hier in ’n tyd voor karre, voordat Afrika-reise maklik geword het. Livingston­e sou dalk treinspore sien kom het. Hy sou dalk voor sy geestesoog kon sien hoe hier eendag ’n groot dorp uitgelê sou word. Hy sou selfs kon dink dat toeriste hier sou sit en koffie drink en poskaarte skryf om huis toe te stuur, oor ver waters heen. Maar ek glo nie hy sou Wi-Fi sien kom het nie.

Ek’s hoeka nou op The Lookout Café se Wi-Fi soos ek hier sit. Loer gou na ’n e-pos, deel ’n foto oor WhatsApp. En hier kom my sjerrierib met skyfies en slaai. Nog iets gebeur: ’n Donderslag knal só naby dat dit voel of my mes en vurk warm word in my hande. Almal wat buite op die terras gesit het, tel nou inderhaas hulle borde en glase op en storm na binne, want die reën is dadelik op ons, asof ons oop oë ’n lokval binnegesta­p het.

Ek gaan staan onder ’n seilafdakk­ie saam met twee van die kelners, Darlington Tshabalala en Khanyi Ndlovu.

“Would you like anything else?” vra Khanyi my, dalk bloot uit gewoonte. Wat van swart koffie? Khanyi draf dadelik deur die druppels na die kombuis en keer minute later terug met ’n beker warm koffie. Ek sê dankie, en dan staan ons vir ’n ruk saam en kyk na die laatsomers­torm, met glimlagte op ons gesig. Darlington gryp ’n sambreel en gaan red wat te redde is van die papierserv­ette en sout- en peperhouer­s wat nog op die tafels staan.

Nou-nou gaan die son weer skyn, en ek gaan hier wegstap en die res van my toergroep gaan soek. Darlington en Khanyi se glimlagte sal ek saamdra, en onthou. Lank nadat my klere droog is, sal ek ook steeds die watervalsp­roei voel, sy oergebulde­r in my bloed voel bruis.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa