PIERRE WYK UIT WESKUS TOE
Die Langebaanstrandmeer is die hart van een van ons kleiner en jonger nasionale parke, maar sy siel strek terug tot aan die begin van die mensdom. Vandag – soos destyds – bied dit ’n salige wegkruipplek vir die mens.
“Hierdie is nie ’n diere-Disneyland nie, maar eerder ’n plek wat sy ryk lae fynbos, lenteblomme, kusduine, vleiland, uiteenlopende voëlspesies, seelewe, natuurskoon, geskiedenis en bowenal rus en vrede aan jou blootlê hoe meer tyd jy hier deurbring.”
Daar is vele besonderse maniere om die dag in ons land te groet, maar hierdie een – op die dek van ’n huisboot wat in Kraalbaai geanker lê – vat dalk net die koek. Daar is die voor die hand liggende estetiese redes: Die huisboot die Larus draai rustig om sy eie anker en jou uitsig oor die Langebaanstrandmeer verander langsamerhand. Die Preekstoelrots lê ’n paar honderd meter ver as jy weswaarts strand se kant toe kyk. En as jy jou verkyker uithaal, kan jy die enkele vakansiehuisies in die suide by Churchhaven sien. Die Larus wieg en kantel, en nou kyk jy diep die strandmeer in, na die ooste waar Langebaan se liggies net-net in die skemer begin kop uitsteek. Bo ons kop draai meeue rond, al rasend op soek na iets om te aas. ’n Hans Hartlaubmeeu kom land by ons voete, gryp ’n Nik-Nak wat wees op die dek lê en vlieg triomfantelik weg met ’n ontstoke gevolg wat hom agterna sit.
Teen die tyd dat dié Survivor- episode in die kleine hom afgespeel het en jy weer ’n slukkie rooiwyn neem, doem Postberg en Konstabelkop in die noorde voor jou op. Vroeër in die dag was daar ’n wolkekrans om die koppe gevou, maar nou staan die bakens duidelik afgeëts teen die oranje horison.
“Ons braai oor ’n halfuur,” sê my vriend Antonie. Hy krap met ’n stok in die smeulende stompe in die braaidrom op die agterdek, en vonke skiet skouspelagtig die vinnig naderende donker in.
’n Mens kan kwalik vir ’n beter Sondagaand en ’n beter einde aan ’n langnaweek vra in hierdie vergete hoek van die Weskus.
Altans, dit was vir ’n lang tyd vir mý vergete. Die Weskus- nasionale park is in 1985 geproklameer. Vóór dit was hierdie stuk wildernis een van my gunstelingplekke.
Dis hier waar ek as ’n laerskoollaaitie in ’n piepklein Optimist begin seil het, en later op ’n blitsvinnige Hobie Cat die strandmeer verken het. Die meeste vakansiegangers het die Suidooster vervloek – nie ek nie.
Later jare het my ouers op Langebaan afgetree, maar op my besoeke daar het ek nooit weer tyd gemaak om in die park ’n draai te maak nie. Dit was die buurman wat jy in die verbygaan met ’n kopknik herken, maar jy betree nooit sy drumpel nie.
Maar ek het verlang. Veral nadat ek A Giant in Hiding, Lawrence G. Green se aangrypende biografie oor sy vriend en seiljagvaarder Frank
Wightman, onlangs as ’n verjaardaggeskenk gekry het. Wightman is ’n Weskus-legende en het in die 1940’s op die Wylo, ’n seiljag wat hy self gebou het, die Langebaanstrandmeer binnegevaar. Toe hy by Kraalbaai kom, het hy summier besluit dis waar hy vir die res van sy lewe gaan bly.
“The anchor splashed over the bows and his yacht came to rest. The scent of spring flowers wafted off the land, ostriches stood watching from the beach. Frank knew immediately he was falling in love. ‘May I live to be a hundred,’ he prayed. ‘May I always return here. This will be my hiding place from the world.’”
Dit voel gepas om ons laaste aand in die park op die water in die waai van Wightman se geliefde Kraalbaai deur te bring. Kom volg in Frank (en ’n Eva) se voetspore en verken saam die antieke skat van die Weskus.
In die begin
Die Weskus- nasionale park is relatief klein
(’n bietjie meer as 320 km²) en baie hiervan is strandmeer. Hier is geen teken van die Groot
Vyf nie. Die grootste roofdier is ’n rooikat, en jy gaan hom moeilik sien. Ek kan my verbeel ’n buitelandse toeris ry binne ’n uur of wat om die strandmeer, swenk uit vir ’n rooipensskilpad, sien ’n volstruis of twee in die pad en ’n eland diep in die bos, en ry weer uit by die hek, draai na sy vrou en sê: “Brunhilda, was ist das?”
Hierdie is nie ’n diere-Disneyland nie, maar eerder ’n plek wat sy ryk lae fynbos, lenteblomme, kusduine, vleiland, uiteenlopende voëlspesies, seelewe, natuurskoon, geskiedenis en bowenal rus en vrede aan jou blootlê hoe meer tyd jy hier deurbring. Dit beteken jy gaan in die park wil oorslaap vir ’n naweek, ’n langnaweek of verkieslik langer. Wightman het 25 jaar gebly!
Hoewel jy nie in die park kan kamp nie, is hier ’n groot verskeidenheid selfsorgopsies: Sanparke se huise, meer luukse B&O-opsies by Churchhaven of die huisbote by Kraalbaai.
Jy kan die park met die Weskushek binnery skaars ’n uur ná jy Kaapstad verlaat het. Die afdraai is op die R27, sowat 11 km noord van die Yzerfontein-Darling-kruising. Maar ek, my vrou, Ronel, en ons vriende Antonie van der Smit en Mari le Grange het verkies om Langebaan toe te ry, waar ons inkopies vir die naweek gedoen het omdat daar geen winkels in die park is nie. Die ingang by die Langebaanhek is vyf minute van die middedorp af. >
Jy’t skaars jou bewaringstariewe betaal en die park binnegery of jy’t ’n keuse te maak. Jy kan óf afsaal by jou blyplek vir die aand en diep rustig raak óf jy kan regs swenk, en opry na die uitkykpunt bo-op Seeberg. Kies laasgenoemde. Dis ’n lekker manier om die park te groet, want van hier af het jy van die mooiste uitsigte oor die hele strandmeer. Sit ’n bietjie op die koel rots naby die rand, haal diep asem en kyk hoe die kransvalkies onder jou voete in die lugstrome speel.
Daar is ’n klein veewagtershuisie bo-op die granietknoets en binne-in word die geskiedenis van die plek en sy mense netjies met foto’s en teks uitgebeeld.
Die geskiedenis strek ver terug, tot 117 000 jaar gelede toe ’n jong vrou langs die strandmeer gestap het. Haar voetspore het later versteen, en dit is in 1995 by Kraalbaai in die rots gevind.
Eva (soos sy gedoop is) se voetspore word nou in die Iziko Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad vertoon, maar afdrukke daarvan word by die Geelbek besoeker sentrum in die park uitgestal.
Die heel eerste Khoi-woordeboek met altesame 400 woorde is ook in 1648 hieraangetekende u r É tien n ede Flacourt, die direkteurgeneraal van die Franse Oos-Indiese Maatskappy. Die Fransman, wa taan al die eilande in die strandmeer hulle name gegee het, was so opgetrek met Langebaan dat hy die Franse koning gevra het om die hele gebied Frans te verklaar. Maar Louis XIV het gesloer, en vier jaar later het Jan van Riebeeck opgedaag en die Kaap was Hollands.
Noudat jou kennis verryk is, kan jy aanry na jou blyplek en afpak. Ons het ons eerste twee aande oorgeslaap in Sanparke se Jo-Anne’s B Cottage naby Churchhaven (sowat 31 km van die Langebaanhek af). Van die stoep met ’n ingeboude braaiplek af kan jy sit en kyk oor die strandmeer wat net twee minute se stap van jou voordeur af is.
Voëls vir Afrika
Omdat hier geen groot roofdiere is nie, kan jy groot dele van die park te voet en te fiets verken. Hier is formele staproetes of jy kan net strandmeerlangs wandel en so Churchhaven en sy ouwêreldse strandhuisies en kerkie verken, of selfs van Tsaarsbank in die noordwestelike hoek van die park langs die strand suidwaarts stap na die wrak van die vragskip Pantelis A. Lemos (sowat 3,6 km heen en weer).
Moenie jou fiets vergeet nie! Ek en Antonie het vroegoggend ons bergfietse opgesaal en die 30 km lange bergfietsroete rondom Seeberg en op na die Mooimaak-plaas in die noordooste van die park gery. Dis ’n gans ander ervaring om ’n trop massiewe elande uit die mis voor jou op ’n veldpaadjie te sien opdoem as om hulle verlangs uit ’n karvenster te sien!
En toe die son opkom en die mis begin verdwyn, het ons te fiets begin om die park se vier befaamde voëlskuilings te besoek.
Dit is ’n Ramsargebied en ’n kwart van Suid-Afrika se voëlspesies hou hier – waadvoëls, seevoëls, roofvoëls en endemiese spesies wat net in die skaars fynbos, strandveld en renosterbos gevind word. Boonop is dit een van die min plekke waar ’n mens Siberiese besoekers soos die knoet, drietoonstrandloper en krombekstrandloper kan sien.
Postberg is oop!
Die beste tyd van die jaar om die park te besoek is Augustus en September, wanneer die Postbergdeel in die noordweste van die park vir die publiek oopgestel word.
As jou tydsberekening reg is en die weer saamspeel, word jy begroet deur ’n skouspel van plate blomme waar rooihartbeeste, bontebokke en Kaapse bergsebras wei. Die lekkerste manier om dié ongerepte deel van die park te verken is natuurlik om deur hom te stap.
Daar is ’n eendag- en ’n tweedagroete wat by Plankiesbaai eindig.
Selfs al stap jy nie, moet jy by Plankiesbaai ’n draai gaan maak. Die rede vir sy naam word gou duidelik, want die seestrome stort menige stukke dryfhout hier. Nou lê dit gladgepoets in die sand en tussen die rotse. Jy kan hier piekniek hou of grondpadlangs deur skouerhoogte fynbos opry na die uitkykpunt bo-op Postberg.
Met ons besoek vroeg in Augustus was die berg in mis gehul en ons kon skaars ons hand voor ons gesig sien. Die mis het teen middagete gelig, maar teen daai tyd was ons knus op ons huisboot in Kraalbaai – ek in die middagsonnetjie op die naat van my rug met my Lawrence G. Green-boek in die hand.
“Here the tyranny of time would be annihilated. The sweep of the tides would clean the beaches at the appointed hours but never would the sounds of the lagoon jar on him like a factory hooter. Here he could live by the values of remote ancestors…”
Net so, Lawrence. En dankie dat jy die herontmoeting aangewakker het. >