VERSTADIG JOU PAS OP HOPEFIELD
Met ’n verlede vol stories en ’n toekoms vol moontlikhede is Hopefield ’n plek waar jy gerus kan inswaai wanneer jy weer R45-langs deur die Swartland skiet.
“Die geritsel van die wind deur die koring, die enorme windturbines op die horison wat stadig draai, die soet oesreuk wat by die afgedraaide motorruite indwarrel... dit alles laat die wêreld so ’n bietjie stadiger draai, voel dit.”
Ek het die dorp nou skoon misgery. Die goue koringlande aan weerskante van die R45 het my so gehipnotiseer dat ek kwalik vir Hopefield in die effense laagtetjie langs die pad sien hurk het. Ag tog, daar mis ek nou die tweede afdraai óók! Binne minder as ’n minuut is my skrapse blik van die dorp (’n waas van laedakhuise) wéér vervang deur nóg koringlande, struikgewasse en spookwit bloekomstamme. Dankie, Hopefield, dit was lekker om jou te ontmoet.
Selfs die inwoners stem saam: Dis maklik om hulle dorp mis te ry. (“Die R45 loop nie – soos in die meeste ander dorpe – déúr Hopefield nie. Dis ’n probleem, maar eintlik ook nie – want dis hoekom ons so baie van die plek hou,” sou John Smuts my later vertel.) Maar ’n mens kan die dorp se bykans onsigbare bestaan nie slegs aan die geografiese ligging toeskryf nie.
Sodra ’n mens deur die padwerkgedrang langs Malmesbury en die besige N7 vir die meer skilderagtige R45 verruil het, begin jy maklik dagdroom. Die geritsel van die wind deur die koring, op die horison die enorme windturbines wat stadig draai, die soet oesreuk wat by die afgedraaide motorruite indwarrel… dit alles laat die wêreld so ’n bietjie stadiger draai, voel dit.
Ná ’n lomp driepuntdraai op ’n plaaspad ry ek Hopefield uiteindelik binne. Dis nog net 9.30 vm., maar die teerstrate glim reeds van die hitte. Die weervoorspelling het gesê vandag se temperatuur gaan bó 40 ºC draai – vir eers is dit nog ’n “koel” 32 ºC.
Ek ry verby die kerk, omring deur bome en kleurryke blombeddings, en die pad begin teen ’n steiltetjie uitkruip. Buiten ’n paar motors wat in skadukolle geparkeer staan, is daar geen teken van lewe nie. Die huise swyg langs die straat. Party is mooigemaak met ou fietsrame of stukke van ’n boot. (Dis immers steeds Weskus dié.) Ek voel soos ’n stoornis, asof selfs die sagte dreuning van my Volkswagen Polo se enjin die dorp se stilte gaan versteur en ’n horde ontstoke inwoners my binnekort tot in die koringlande gaan jaag.
Ek hou in Voortrekkerstraat naby die museum stil. Dit dien as Hopefield se toerismekantoor. Maar die deur is gesluit en die vensterhortjies toe. By die munisipale kantoor langsaan sit ’n vrou haarself met ’n pakkie vasgekramde blaaie en koel waai. Volgens haar is die vrou wat die toerismekantoor bedryf, met verlof. “Wanneer maak hulle weer oop?” vra ek. “Wanneer sy terug is,” kom die antwoord. Terug buite betrag ek die omgewing. ’n Seningrige ou man is besig om potplante van ’n kruiwa af te laai en in ’n rytjie op die sypaadjie staan te maak. Verbeel ek my, of verlep die plante sommer dadelik van die hitte? Naby die onderpunt van die straat is drie tieners met swaargelaaide inkopiesakkie op pad na die brug oor die Soutrivier. Die geur van suurdeeg by Die Spens-bakkery kielie my neus.
Oorkant die straat staan die Commercial Hotel se kroegdeur oop. Ek sien daar’s ’n beweging daarbinne…
In die kroeg speel die sonlig oor die houtpanele. Die twee mense by die toonbank stel hulle voor – John Smuts en Lorrain de Wet. John – bebaard, “ek gaan jou nie sê hoe oud ek is nie” – vertroetel ’n koue bier. Die ys in Lorrain se glas rinkel toe die kroegman haar drankie volmaak. “Hierdie hitte,” merk sy op. “Maar dis nog niks – dit raak baie erger.”
John grinnik: “Baie, baie erger.”
In die volgende halfuur neem die twee my op ’n ongevraagde dog gedetailleerde reis deur Hopefield se geskiedenis: Die dorp is in 1852 gestig en genoem na die twee manne wat sy grense afgemeet het: maj. William Hope (’n ouditeur-generaal) en ene mnr. Field, wie se voornaam met verloop van tyd vergete geraak het. Elke Hopefielder wat ek hierna raakloop, het dié verhaal soos ’n mantra herhaal.
“Die kerk is later gebou, in 1879,” vertel Lorrain. Dis nou die NG kerk waarby ek vroeër verbygery het. Dit was een van die eerste kerke in die omgewing en het gereelde besoekers uit die omliggende Swartland- en Weskus-dorpies gelok. Hopefield was sentraal – in die middel tussen Malmesbury en kusdorpe soos Langebaan en Velddrif – en het ’n oorstaanplek vir moeë reisigers geword. En toe word die R45 verlê en Hopefield bly op die kantlyn agter.
“Dis nou stil hier,” sê John, wat al meer as 20 jaar hier woon. “Maar ek verkies dit so.”
Dis nie net die dorpie wat gekrimp het nie. Die Soutrivier loop ook al hoe swakker. Volgens die twee in die kroeg is dit nou skaars ’n sypeltjie vergeleke met vanmelewe se waters wat hier verbygekom het. “Die mense vertel dat jy in die ou dae met ’n pont moes oorvaar,” beklemtoon John.
Wat maak ’n mens deesdae hier op Hopefield, wil ek weet.
“Goeie vraag,” beaam hy. “Nie veel nie.”
“Is nie, man!” sê Lorrain laggend. “Ek’s mal oor die plek.”
John neem ’n slukkie van sy bier. “Dis die anderste leefwyse wat my nog al die jare laat bly. Jy hol nie soos ’n mal ding rond nie, jy baklei nie oor parkeerplek nie, jy wag nie by verkeersligte nie… Die huise wat ’n mens hier kan bekostig, is groter. Die meeste van ons besit nie ’n televisie nie en jy kan diere aanhou.”
“Ek voer élke oggend die poue in my tuin,” las Lorrain ingenome by.
“Dis veilig hier,” hervat John. “En die mense is vriendelik. Ja, ons skinder dalk ’n bietjie van mekaar, maar as iemand ooit hulp nodig het, los die res alles en jy’s dáár.”
Doen jou eie ding
Toegerus met ’n beter idee van die dorp stap ek uit in die verblindende sonlig. Daar’s heelwat om te verken, maar eers wil ek iets te ete gaan kry. Op in Voortrekkerstraat, dan af in Kerkstraat. A, hier’s Hello Eatery – Ilze Mostert se restaurant. Sy’s ook ’n skrynwerker en die eetplek staan vol meubels wat sy self gemaak het. Ek teug aan ’n glas yskoffie.
Ilze stap in nes ek wegval aan ’n peuselbord. Sy kom sit by my en tussendeur die snye oondwarm brood, dik gesmeer met appelkooskonfyt, vra ek haar uit oor haar lewe hier op Hopefield.
“Toe ek hier aangekom het, was my eerste >
indruk: Dié is ’n one-horse town en die perd het gevrek,” sê sy laggend. “Dit was ’n aanpassing!”
Ilze en haar man, Inus, het in 2007 van Stellenbosch af hierheen verhuis toe hy ’n pos as hortoloog by die nabygeleë Arnelia-proteaplaas by Velddrif aanvaar het. Met verloop van tyd het sy van die dorpie begin hou en sy’ t geleer dat “doen jou eie ding” die plaaslike leuse is. Sy’t met houtwerk begin en ook ’n bietjie spyseniering gedoen. En toe, twee en ’n half jaar gelede, Hello Eatery se deure geopen. Dis hier waar sy die voordele van ’n klein dog betrokke gemeenskap ontdek het.
“Almal ken mekaar op die naam, en ons probeer mekaar ondersteun.” Ek wil nog vra wat sy daarmee bedoel toe Ilze opvlieg. “Weet jy met wie jy moet gesels? Met Babsie!”
Troebadoer en tuinier
Ilze draf uit, maar dan verskyn sy weer in die deur, met ’n ouerige man kort op haar hakke. Toe hy vir my glimlag, verkreukel sy hele gesig. Dis dan nou Babsie, oftewel Louis Cleophas – met sy leerhoed en rustige manier van beweeg. So asof hy die dorpie se bedaardheid vergestalt.
Hy kom sit oorkant my op Ilze se stoel en ’n paar minute later daag ’n Crème Soda- float vir Babsie op. Sy storie volg: Hy’s hier gebore en het in sy 64 lewensjare tot op hede vir Hopefield in al sy gedaantes gesien – van ’n welvarende halfwegstop tot ’n sluimerdorpie. Hy onthou die dae toe daar nog ’n handelspos in Voortrekkerstraat was: “Ons het groente en eiers daar gaan smous.” En die mense het hulle perde en beeste sommer so langs die strate vasgemaak (daar’s vandag nog teuelpale in Kerkstraat te sien). Babsie vertel my hoe ’n tiran van ’n “oubaas” hom leer tuinmaak het. En toe verander Hopefield. En hy daarmee saam.
“Ek was lank aan dwelms verslaaf,” erken Babsie. Totdat leukemie hom laat wakker skrik het. Dit was ’n stryd, maar in 1994 het Babsie die siekte oorwin. En ’n nuwe koers ingeslaan. Sy liefde vir musiek en kitaarspeel was nou ’n dryfveer, en hy’t begin liedjies skryf.
Met die jare het sy musiek hom dikwels na ander plekke gelok, maar hy keer telkens terug. “Ag, ek is net so lief vir die plek. Elke keer as ek my voete weer hier sit, sê ek: dís huis.”
Babsie bied aan om my die ánder kant van Hopefield te gaan wys, oorkant die Soutrivier. Buite is die son steeds fel en op pad na waar my Polo geparkeer staan, voel dit of my voete binnein hulle stewels begin kook.
Ons eerste stop is by Hopefarm Restoration waar Babsie die tuinier is en ook soms vir die gaste musiek maak. Dis ’n hawe vir mense wat met verslawing worstel, ’n plek om tot verhaal te kom en op die eenvoudige dinge in die lewe te fokus. “Ek het ’n vermoede dís hoekom Hopefield ’n goeie plek is,” sê Babsie. “Hier is ’n goeie energie.”
Babsie tel sy kitaar op en begin speel. Sy geoefende vingers toor ’n jazz-melodie op en die klanke van ingeleefde staalsnare vul die vertrek. Dis die liedjie van vergenoegdheid, van geanker wees in iets wat eg is.
Markdag
My draaie vir Weg vat my dieper die Swartland in, maar teen die Saterdag is ek terug op Hopefield. Dis koeler vandag en hierdie keer mis ek nie die afdraai nie.
Die Mill Country Fair vind elke Saterdag plaas en strate wat met my vorige besoek dolleeg was, staan nou vol motors en besoekers wat gekom het vir groente uit die Hopefielders se eie tuine, ingelegde goed en varsgebak.
Die mark is by die ou meul, langs die Merry Widow Country Retreat. Daar staan reeds ’n tou mense en die sterk mengelmoesgeure van blomme, brood en koffie lok my ook nader. Dis onweerstaanbaar – veral op ’n leë maag!
Binne gekom, ontmoet ek vir Lizana de
Jongh. Sy’ t die mark in 2011 begin in ’n poging om besoekers Hopefield toe te lok en die wins help om plaaslike welsynsprojekte te befonds.
Dis maar net een van die maniere waarop inkommers probeer om nuwe lewe in die dorpie te plaas. Toe Ulrich Donaggi ’n dekade gelede hier aankom, het hy die potensiaal in die ou 19de eeuse geboue raakgesien en van dié plaasopstalle gekoop en omskep in gastekamers wat nou deel uitmaak van die Merry Widow. Daar’s ’n moderne aanslag te bespeur – soos die bouvallige graansuier in die binnehof wat omskep is in ’n ronde swembad!
Hopefield het vir Ulrich ’n eiesoortige bekoring. “Dis die mense, die ligging, maar bowenal – die stilte,” reken hy. Maar dis veral saans dat ’n mens die atmosfeer aanvoel. “Dán is dit ’n ware ontvlugting.”
’n Gedugte kaaskoek
Die markie loop leeg en ek gaan loer in by ’n tydelike kunsgalery in Dirkie en Billy Griffiths se huis. Slegs op Saterdae gooi dié kunsversamelaar en skrynwerker hulle deure vir besoekers oop, en terwyl ek deurstap, vertel Dirkie my van háár Hopefield en van hoe die eens bedrywige opstalle leë plaashuise geword het, maar ook hoe die dorp onlangs weer ’n renaissance beleef.
“Hier lê ’n ryk verlede,” sê sy. “’n Mens kan dit sommer aanvoel.”
En sy deel dié belewenis met enigeen wat bereid is om hier stil te hou. “As jy daardie deur op ’n Saterdag sien oopstaan – kom in, kom sit. Steek ’n sigaretjie aan in die binnehof, geniet ’n stuk kaaskoek. Dis nou ás ek nog oor het!
“Ek bak ’n gedugte kaaskoek,” voeg sy by.
Ek vaar weer die strate in. Rondom die NG kerk trek twee tuiniers onkruid uit. Aan die voorkant van die gebou staan trougaste ’n bruid en inwag. In Voortrekkerstraat jaag kinders met kiskarre tussen die bakkies wat stadig aankruie.
’n Paar tieners waad heupdiepte deur die Soutrivier; hulle gelag klink op wanneer hulle mekaar natspat. Uit ’n agterplaas trek ’n rokie op en ek kan braaivleis ruik. Ilze van die Hello Eatery wuif toe sy verbyry, en daar oorkant op die sypaadjie staan Babsie sy kitaar en tokkel.
En in dié oomblik sien ek wat Hopefield so aanloklik maak. Dis nie ’n spookdorp nie. Dis ’n plek waar jy – sodra jy die deure begin oopstoot – gasvrye mense en boeiende stories aantref. Stap by die kroeg in, by ’n restaurant of ’n werkswinkel. En jy sal sien: Die inwoners – boorlinge én inkommers – maak tyd vir jou. >