Kom soek jou tiervis in die Zambesi
Die Zambesirivier tussen Sesheke en Livingstone in Zambië kan maklik aangelas word by ’n toer deur die noorde van Botswana en Namibië se Zambesistreek. Op hierdie manier kom jy by ’n paar puik kampplekke – waar voëlskyk en tiervisvang op die spyskaart is
Die heuglinjanfrederike kyk wie die hardste kan sing. ’n Moeraswaterfiskaal hop teen die watersoom rond op soek na iets te ete. Op die eiland oorkant die systroom van die Zambesirivier voor my (die hoofstroom vloei aan die ander kant van dié eiland) wei beeste waarop veereiers kort-kort ry. In die vlak water waar die hengelbootjies geanker lê, swem honderde vissies – sommige driekol-, ander rooiborskurpers. Iemand bondel ’n nat net op ’n mokoro. ’n Haan kraai. Dave Orr, die lodgebestuurder, sit op die stoep van die Shackletons Fishing Camp met ’n boek op die skoot – Brother Fish van Bryce Courtenay. Die boek is “rubbish,” bevestig Dave, maar hy’ t nie veel van ’n keuse nie – die naaste Exclusive Books is in Johannesburg.
Ek was gisteraand Shackletons se enigste gas. Die meeste mense vlieg uit Suid-Afrika en land in Livingstone, 140 km hiervandaan, waar hulle opgepik en hierheen aangery word. Daar’s hoeka nou drie gaste op pad en Dave wag vir hulle met Brother Fish, twee selfone, ’n beker koffie en ’n rooi plastiekvlieëplak op die tafel voor hom.
Maar Dave kyk meestal elders... Na die waters van die rivier, waar hy weet die visse op hom wag.
Wag, en jy sal beloon word
Wag is iets wat ek vandag heelwat gedoen het.
Die grenspos tussen Namibië en Zambië is by Katima Mulilo. Dis eenvoudig genoeg om Namibië te verlaat – een stempel later en ek’s weg. Die Zambiëkant is ’n ander storie. Dis eintlik ’n aangename grenspos met ’n logiese uitleg (al die hokkies waar jy moet ingaan, is in een lokaal) sodat jy maklik by al die betrokke punte kan uitkom.
Eers ruil ek geld – Amerikaanse dollar vir Zambiese kwacha, want ek weet dat jy van die tariewe hier met kwacha moet betaal, en ander weer met dollar. ’n Ou genaamd Costa kry vandag my besigheid en ek sorg dat hy my nie te veel rook nie. (Eers later sien ek hier’s ’n OTM; dus het jy nie regtig ouens soos Costa nodig om kwacha in jou beursie te kry nie – jy kan bloot kwacha trek met jou SA bankkaart – as dit werk, bygesê.)
Als vorder flink totdat ek by die venstertjie kom waar ek my voertuig se tydelike invoerpermit moet koop. Ek besef dat ek die man agter die toonbank herken. Ek is twee jaar gelede ook hier deur, en dis dieselfde ou. Maar hoekom onthou ek sy gesig so goed?
Sowat 45 minute later, toe ek uiteindelik my dokumentasie ontvang, besef ek dat ek sy gesig so goed ken omdat ek laas seker ook so lank vir hom moes staan en kyk.
Dis ook nie die arme man se skuld nie – dis blykbaar die rekenaarstelsel wat so stadig is. (Dieselfde proses neem skaars drie minute wanneer jy Namibië binnekom.)
Anderkant die grenspos ry ek met ’n brug oor die Zambesirivier. Dis lekker om in Zambië te wees. Van hier af begin Suid-Afrika vér voel.
Jy’s nou een stappie verder as net in ’n buurland. Om die Zambesi oor te steek maak ’n mens skielik lus om verder te ry, verder noord, verder weg... maar nie vandag nie, herinner ek myself.
Ek ry deur Sesheke – ’n bedrywige dorpie vol groentestalletjies en winkelgeboue wat dekades gelede hulle beter dae beleef het. Dis ook orraait – “beter dae” is ’n relatiewe konsep.
Vandag is fantasties.
’n Tier aan die hoek
Die pad tussen Sesheke en Kazungula is minder fantasties. Dis eintlik legendaries vir hoe vrot dit is. Ek is dus die ergste te wagte, maar die eerste 45 km is dit goed – plek-plek kan ek sien dat hier reggemaak is. Maar wanneer die slaggate kop uitsteek, moet ek stadig ry – 25 km/h – en deur maankraters kruip.
Uiteindelik sien ek Shackletons Tiger Fishing Lodge se bordjie. Die Renault Duster is verlig om van die “teer” af te draai op ’n sanderige paadjie wat reguit rivier toe lei.
Met my aankoms word ek gegroet deur
Obed Mukuni. Hy is my hengelgids vir die dag. Ek wou nog altyd ’n tiervis vang en Shackletons is dié plek vir tiere aan hierdie deel van die Zambesi.
Dis ’n netjiese, eksklusiewe kamp – gewoonlik bespreek ’n groep mense dit vir ’n sekere aantal aande. Hulle het vir my ’n vergunning gemaak sodat ek dit op my eie kan besoek. Dis die stil seisoen – November, en sinkplaatwarm.
Ná ’n paar geroosterde tamatie-en-kaastoebroodjies is ek reg vir die water waar dit met wind in die baard aansienlik koeler is. Obed draai ons bootjie se neus stroomaf. Die rivier is op sy laagste vlak dié tyd van die jaar. Binnekort sal reën wat verder op in Zambië en Angola val, dit stelselmatig opstoot. Obed ken die rivier – hy is ’n boorling van die gebied. Hier vaar hy om ’n riet-eiland, daar swenk hy om ’n stomp en vermy die water waar dit te vlak span oor bedrieglike sandbanke.
Ons sluit aan by die hoofstroom en volg dit in die rigting van die dorpie Mwandi. Oorkant, op die Namibiese oewer, steek ’n selfoontoring uit waar die dorpie Schuckmannsburg lê. >
(Ek was al daar: Koue bier is beskikbaar én ’n groot boom waaronder jy kan sit en na musiek luister wat uit ’n gehawende luidspreker pols.)
Hierdie deel van die rivier is – wat toerisme betref – baie stiller as die deel tussen Kazungula en Livingstone. Wat jy hier doen, is tiervisvang – en wonder bo wonder vang ek vanmiddag my eerste een! Dit was eintlik ’n vloekskoot (en geheel en al danksy Obed se kundigheid), maar ek het ’n foto as jy my nie glo nie...
Van modderpoele tot ravyn
Die volgende dag ry ek in Livingstone se koers. Vir lang ente moet ek langs die pad ry, want hier word gewerk en reggemaak.
Dalk is jy gelukkig en is die pad tiptop wanneer jy eendag hier ry, maar vir nou ry ek soms deur modderpoele, ander kere vir lang ente in die stof van ’n vragmotor.
Naby Kazungula verbeter dit skielik, en jy kan Livingstone toe seil teen ’n beskaafde spoed. Ek het bespreek om vanaand by ’n plek genaamd Jungle Junction te slaap. Dis op ’n eiland in die Zambesirivier sowat 40 km stroomop van Livingstone. Ongelukkig kom ek nooit daar uit nie – ná 8 km op die toegangspad (eers sand, later modderpoele danksy ’n onlangse reënbui) moet ek omdraai met die Duster 4x2, bang dat ek gaan vassit en aasvoëlkos word.
Dis egter nie ’n probleem nie, want nader aan Livingstone is waar die meeste van die beste blyplekke lê.
Ek slaap een aand by die Kubu Camp en daarna by Camp Nkwazi, net langsaan. Kubu se chalets word weer opgeknap, maar die kampplek se ligging is eersteklas en die opsigter,
Kebby Mutemwa, laat my dadelik tuis voel. Jy’s reg teen die Zambesirivier, op gras en onder groot bome. Eers is ek alleen, maar laatmiddag daag Alta en Bill Naudé van George ook op. Hulle is op pad terug Suid-Afrika toe nadat hulle in die Kasanka- nasionale park (in die noorde van Zambië) gaan draai het.
Dis altyd lekker om met Weg- lesers te gesels oor hulle toere, veral in ’n mooi kampplek soos Kubu. Wraggies, dit voel asof ons in ’n paradys sit. ’n Paradys vol voëls, groenigheid en die rustige teenwoordigheid van ’n rivier.
By Camp Nkwazi, waar Salomé en Gawie Botha die bestuur hanteer, is die tuine rondom die chalets genoeg rede om in te loer. Hoewel die kampterrein ’n bietjie weg van die rivier lê, is aandag gegee aan elke staanplek: groot bome en ruim ablusiegeriewe. Ek maak my tentjie staan onder ’n enorme mopanieboom en begin wasgoed was – dis daai tyd van my vakansie.
Ek slaap twee aande by Camp Nkwazi, en tussendeur ry ek Livingstone toe om ’n bietjie in die mall rond te hang. By Mosi-oa-Tunya Square is onder meer ’n apteek en ’n groot Shoprite. Reg langs laasgenoemde is die Kubu Café, waar ek aansit vir ’n cappuccino en spring rolls (as jy lank toer, is jy soms lus vir iets “eksoties”).
Ek verken ook ’n paar lodges waar ek nog nie vantevore was nie. Dis veral Taita Falcon Lodge wat my beïndruk. Dis stroomaf van Livingstone en op die rand van die diep Batokaravyn. Die karakter van die rivier is hier totaal anders as stroomop van die Victoriawaterval. Dáár – by Kubu Camp en Camp Nkwazi – lê dit wyd gesprei en vloei die stroom stadig. Hier onder Taita Falcon Lodge is dit witwaterwêreld, en hoor jy die gedruis teen die kranse uitstyg.
Dis die lekker ding van die Zambesi wat ek oor die afgelope paar dae verken het – die verskeidenheid. Tussen Sesheke en Kazungula kry jy ’n meer landelike gevoel en sien hoe mense eeue reeds ’n bestaan maak teen die rivier. Jy kan soms selfs sien hoe tradisionele visvangmandjies (dit word matumba genoem) gebruik word om visse te vang.
Nader aan Livingstone het jy die gerief van plekke soos Camp Nkwazi (hier’s meer luukse lodges as jy die begroting het), en op die dorp is al die winkels en eetplekke wat ’n toeris ooit nodig sal kry. Wild is maklik om te sien in die aangrensende Victoriawaterval- nasionale park en jy kan by enige blyplek op ’n riviervaart gaan. Jy besoek natuurlik ook nie Livingstone sonder om by die Victoriawaterval te gaan gesig wys nie – dit sal wees soos om Kaïro te besoek, maar nie die piramides te sien nie.
Op my laaste middag in Zambië bespreek ek ’n sonsondergangvaart by Camp Nkwazi.
Dis darem maar lekker om in ’n stoel te gaan gemaklik raak met ’n kamera op die skoot, ’n bier in die hand en die gevoel van afwagting wat in jou opwel. Wat gaan jy sien?
My ritueel neem oor sodra ons op die rivier is. My oë vee oor die water op soek na bekende buitelyne: die riffelrug van ’n krokodil of die ronde frikkadeloortjies van ’n seekoei. Ek fynkam die waterkant vir klein grys waadvoëls. Die bos wat verby dryf vir wild – ons kyk na die Zim-kant, waar die Zambesi- nasionale park lê. Tussendeur luister ek na die oe’s en aa’s van die ander toeriste – almal buitelanders – op die boot. Vir baie van hulle is dit die eerste keer dat hulle ’n waterbok sien, ’n kolgans, ’n visarend.
Teen sononder kyk ons hoe ’n paar bobbejane speel, op en af teen ’n lang bobbejaantou, soos brandweermanne sonder broeke
(of ’n brand). Nes hulle gaan ek ook hier slaap vanaand, op die oewer van die Zambesi, iewers in Afrika.
Dis ’n voorreg.