Weg!

Wen ’n Weg- kamerasak ter waarde van R520 met jou foto

Canon EOS 7D Mk. II Tamron 150-600 mm-lens

-

MARIETJIE SKRYF: As amateur was dit nog altyd my doelwit om ’n skerp foto van ’n leeu of luiperd in die Kruger te neem.

Van my fotografie­mentors het skertsend opgemerk dat ’n mens só ’n foto moet verdien. Daarmee het ek verstaan dat ek gereeld die park moet besoek én geduldig moet wees. Hulle het my aangeraai om te probeer om ’n oomblik – ’n moment – vas te vang.

Op besoek het ek gehoor dat daar by die Sabledam (naby die Phalaborwa­hek) ’n trop leeus met welpies lê. Ek het soontoe gery met die hoop dat ek hulle darem sal sien en dalk ook ’n foto sal kan neem. Daar is altyd so baie motors rondom die leeus!

Ek was gelukkig en kon my kar in ’n goeie posisie kry en het vinnig my kamera verstel. Ek was amper drie uur lank op die toneel. Hierdie is dalk nie die skerpste foto nie, maar dit was beslis ’n moment! Ek is nou ’n trotse beginner...

TOAST SÊ: Jy mág maar spog met hierdie een, Marietjie! Dis glad nie maklik om ’n leeufoto te neem wat bo die res uitstaan nie. Daar is soveel wat teen jou tel: Leeus is nie so volop soos rooibokke nie (nog een...), leeus lê gewoonlik plat in die lang gras wanneer jy daar aankom (sug), én leeus word gewoonlik só omring deur voertuie (skuif!) jy’s gelukkig as jy een se hakskeen so tussen als deur sien.

Die drie uur wat Marietjie afgestaan het, het vrugte afgewerp. Vir ’n uitstaanfo­to wil jy aksie hê, of oogkontak, of iets ouliks. Marietjie het iets ouliks én aksie. Die ma wat die welpie lek, is mooi en dis veral die ma se voorpote wat die welpie soos ’n mensbaba omarm wat besonders is.

Knap gedaan.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa