Suid van die wind
Weg stof ’n klassieke Afrikaanse boek af.
deur Elsa Joubert Tafelberg, 1965
Ons daal skerp. Op die blou see wat vinnig nader kom, sien ons ’n spatsel groen. Met oorweldigende vaart kom dit nader. Land, berge – snaakse gevormde, spits, vulkaniese berge, klein dwergbergies – en grond; paaie waarop motors soos kewers kruip, word sigbaar. Die geweldigste indruk van alles – groen suikerrietlande wat wuiwend onder ons in die son blink, in die wind buig asof dit die groen seewater is waaroor die branders dein. Oral. Dit lyk asof die suikerriet die eiland van kant tot kant oortrek.
Só beskryf die bekroonde en geliefde reisskrywer Elsa Joubert, wat in Oktober verlede jaar 97 jaar oud geword het, hoe sy in die winter van 1961 op die Plaisance-lughawe in die suide van Mauritius land.
Suid van die wind – Die verhaal van drie eilande is een van haar gewildste reisboeke. Op dié reis het sy Mauritius, Réunion en Madagaskar besoek. Aanvanklik het sy gedink dit sou nooit moontlik wees om Madagaskar te bereik nie, want die enigste opsie destyds was op vragskepe met vae vaardatums. Maar toe vind sy uit van ’n SAL-vlug na Australië wat op Mauritius land, waarvandaan sy met ’n Franse passasiersboot na Réunion en Madagaskar kan vaar:
Om te sien hoe die rasse wat mekaar op hierdie eilande ontmoet het, vandag saamwoon, is een van die redes waarom ek na dié drie eilande – Mauritius, Réunion, Madagaskar – wou kom. Hoe leef hulle saam in dié lande wat ons bure is? Watter patroon is hier gevorm deur die lotswisselinge van die geskiedenis, en hoe vergelyk die patroon met ons eie? Eintlik is ons en hierdie lande bure wat na aan mekaar geleef het in die verlede, en is dit jammer dat die verbintenis tussen ons, in groot mate afgesny is en doodgeloop het.
Lees net hierdie wonderlik sintuiglike beskrywing van ’n oomblik in ’n moskee:
Ek is skoon oorrompel. So iets moois soos die binnehof van die Jummah-moskee in Port Louis het ek lank nie gesien nie. Dit laat my terugdink aan die Alhambra in Granada. Ek hoor die water wat uit die pype in die groot ablusiebakke loop, dit borrel uit en plas oor die reeds oorvol marmerbakke en vorm die weerkaatsing van die son wat skeef inskyn, van die minarette wat verblindend wit bo die skaduwee van die binnehof uitsteek, van die vlerke van ’n duif. Want waarlik ja, nou dat die gebedetyd verby is, het die duiwe teruggekeer, spierwit duiwe wat kom water drink en oor die koel swart en wit marmer-ingelegde vloer rondloop. Want die marmer is so koel teen die pootjies ná die hitte buitekant, en die water koel in die bek en die geluid van die water vertroud soos die gekoerrr wat nou weer hoorbaar word.
Later nader sy Réunion per boot:
Daar is iets voorwêreldliks en verlate in die toneel voor my. Aan die een kant, as ek afkyk, die see, rusteloos, vasgehou, beperk onder die grys afdak van die lug waaruit hy hom nie kan losspoel nie; aan die ander kant die basaltmassa wat uit die see opstyg. Soos ’n ysberg, ’n laaste, oorblywende bergpiek van ’n verlore kontinent wat onder die see verdwyn het. ’n Mens voel asof dit die berg Ararat moet wees en ons die ark is wat teen sy hange vasgespoel het.