Weg!

VIR DIE VOËLS

DEUR FAANSIE PEACOCK

-

RAAD MET ROOFVOËLS

“Daar’s ’n roofvoël!” Waar ’n paar van ons iewers in Zimbabwe in die berg stap, weergalm dié kreet teen die hange en laat almal opkyk – net betyds om die groot bruin gedaante oor die boomtoppe te sien sweef. Hy is só laag bo ons koppe verby dat my vriend Jason Boyce homself net nie kon keer nie.

’n Oomblik later kom die arend se maat ook verby en wéér gil Jason van opwinding. Pleks daarvan om die roofvoëls met ons verkykers te volg, vou almal dubbel van die lag.

In daaropvolg­ende voëlkyktoe­re na Zim en Mosambiek het dit in ons vriendekri­ng ’n grappie geword vir een om so hard as kan “roofvoël!” te skreeu. Dit lok altyd vreemde kyke van ander.

En eenmaal, toe ons die nes van ’n Afrikaanse boomvalk sit en dophou, het ’n polisieman ons kom vermaan – skynbaar het die opgewonde uitroepe die plaaslike inwoners daar naby ontstig.

Maar ons almal is dit met Jason eens: Vir voëlkykers is min dinge meer luisterryk as om ’n roofvoël te sien verby sweef. Die frustrasie om hom ná die tyd te identifise­er is egter nét so groot!

Roofvoëls is moeilik om uit te ken. Nie eens vernuftige kenners kan élke roofvoël wat hulle sien, élke keer op sy naam roep nie.

Maar is dit nie juis wat voëlskyk verslawend maak nie? Hopelik sal hierdie tien wenke jou eie valkoë verskerp.

1 Kyk boontoe. Jy het ’n groter kans om ’n roofvoël in vlug raak te sien as waar hy iewers in ’n boom sit. Bygesê, kweek ook die gewoonte aan om hoë stellasies wat in ooptes staan te fynkam – dís waar hulle graag land: kragpale, radiomaste, dooie bome... Hulle is lief daarvoor om veral op triestige reëndae in ’n sonkol te sit.

2 Hou jou afstand. Ek weet dis opwindend om ’n arend of valkie op ’n telefoonpa­al langs die pad te sien sit. Maar as jy tot reg langs hom ry en stilhou, gaan daai voël wegvlieg. Betrag hom liewer van ’n afstand af of ry stadig verby.

3 Kry die tydsbereke­ning reg. Verskillen­de roofvoëls is op verskillen­de tye van die dag

(of nag!) aktief. Groot arende is gewoonlik op die hitte van die dag op die vlerk wanneer stygende warm lugstrome hulle ’n hupstoot gee; valke, boomvalke en sperwers jag vroegoggen­d of laatmiddag.

4 Luister. Roofvoëls is gewoonlik nie lawaaimake­rs nie. Maar hulle prooi is. Ander voëlspesie­s maak baie gou en luidkeels alarm wanneer hulle iets soos ’n arend gewaar. Kyk dadelik op wanneer die voëls rondom jou eensklaps paniekerig klink of selfs wegvlieg.

5 Vorm troef kleur. Is die vlerke lank of kort? Gepunt of rond? Breed of smal? Hoeveel “vingers” het ’n vlerk? En het dié vingers groot, geronde punte of skerp, delikate punte? Hoe lank is die stert in verhouding tot die breedte van die vlerke? Al dié dinge is waardevoll­e leidrade tot ’n voël se identiteit.

6 Grootte is belangrik. En onthou: Die wyfies is groter as die mannetjies. Wanneer jy ’n broeipaar saam sien sweef, is dit gewoonlik maklik om die wyfie uit te ken.

7 Jong voëls is verwarrend. Wanneer ’n roofvoël nog nie sy volwasse veredos het nie, kan ’n mens hom maklik vir ’n ander spesie aansien.

Van die groter spesies neem vyf tot ses jaar om hulle ware kleure te kry en tot tyd en wyl neem hulle talle gedaantes aan. Dis onmoontlik om al hierdie stadiums in ’n gidsboek te illustreer – hou dit net in gedagte. 8 Oogkleur verander oor die jare heen. In die algemeen het ’n volwasse voël met ligte oë (soos bruinarend­e) gewoonlik donker oë as ’n jong voël. En andersom: Volwasse roofvoëls met donker oë (soos jakkalsvoë­ls) het in hulle kuikendae ligte oë gehad.

9 En daar is kleurverme­ngings. Buiten die verskille wat afhang van roofvoëls se ouderdom en geslag, kan ’n spesifieke spesie boonop ook in verskillen­de kleure voorkom.

Soek op Google na foto’s van die roofarend, bruinarend, bruinjakka­lsvoël en wespedief – daar is ’n verbystere­nde aantal variasies! Witkruissp­erwers – ook ander spesies soos die vleivalk

– val almal binne ’n groep melanistie­se roofvoëls waarvan ’n mens die een bittermoei­lik van die volgende onderskei.

10 ’n Foto kan help. Verstel jou kamera vooraf sodat jy die oomblik dat jy ’n roofvoël gewaar, vinnig ’n rits opeenvolge­nde foto’s kan neem. Indien moontlik, neem foto’s van sy rug- sowel as borskant, dan kan jy dit later met illustrasi­es in ’n gidsboek vergelyk.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa