Gorillas en swamme
Die Mgahinga-gorilla- nasionale park vorm ’n oorgrenspark met sy eweknieë in Rwanda en die Demokratiese Republiek van die Kongo. In die bekende Bwindi- ondeurdringbare nasionale park is 12 groepe berggorillas wat deur toeriste besoek mag word, maar in Mgahinga is net een so ’n groep. Ons het egter Mgahinga gekies, want die terrein is platter en meer oop, en hier is minder toeriste.
Die pad na Mgahinga is vol slaggate en dit het ons langer as verwag geneem om daar uit te kom. Ná drie uur (100 km) is ons uiteindelik in die park en begin kamp opslaan – vir Callum bespreek ons ’n kamer.
Die volgende dag kom ons om 7.30 vm. bymekaar, luister na die reëls en vertrek in ’n groep van net ses toeriste. Die gidse en spoorsnyers was waarskynlik twee keer soveel.
Ná net 35 minute se stap het ons die inwonende groep van 10 gorillas gesien waar hulle kos soek, speel en mekaar versorg. Dié diere is baie groter as wat ’n mens dink. Die hoofman, ’n silwerruggorilla, se skouers was ’n volle meter breed. Hulle lywe is die ene spiere en hulle besef self nie eens hoe sterk hulle is nie.
Callum is aan die groot kant, en kon sy man staan toe ’n mannetjie liggies aan hom stamp, maar een van die vroue in die groep is per ongeluk omgestamp. Ons gids het vertel dat toe die gorillas oor ’n tydperk van drie jaar hier aan mense gewoond gemaak is, het dié spesifieke mannetjie, Mafia, gereeld gidse rondgestamp.
Die ander ster op ons uitstappie was ’n Jackson se driehoringverkleurmannetjie – hy lyk wraggies soos ’n klein dinosourus. Ons het ’n paar foto’s geneem en is terug na ons kampplek vir middagete.
Ná die geskud Uganda-in moes ek eers kyk of ons dakrakklampe nog heel is. Drie was stukkend en net een nog heel! Daai enkele een het die hele spul deur genade aan mekaar gehou.
Ek is met ’n motorfietstaxi na die naaste dorp (12 km ver), en het ’n boswerktuigkundige opgespoor – ook genoem ’n foendi, soos enige “vakmanspesialis” hier genoem word. Hy kon darem vier klampe uit ’n ou stuk hoekyster prakseer. Terug by die kampplek het ons die klampe gemonteer, en sedertdien het hulle 2 500 km se slegte paaie getrotseer.
Ons is van Mgahinga na Bwindi op ’n nimmereindigende kronkelpad wat ons deur bergdorpies en teeplantasies geneem het. Die 50 km het byna 3 uur geneem!
Die Bwindi- ondeurdringbare woud is een van Afrika se oudste habitatte en nou die tuiste van die grootste bevolking – ongeveer 400 – van die wêreld se oorblywende berggorillas. Hier is ook 350 voëlspesies, 11 aapspesies, woudolifante en wildevarke.
Ek en Marie, en veral Callum, wou egter ook kleiner goed sien, soos insekte, swamme en plante. Dis gidse was verstom – hulle opleiding het nie gefokus op die kleiner lewende wesens nie en hulle kon die meeste van ons vrae nie beantwoord nie. Hulle was net so geboei soos ons.
Ons het twee natuurstappe in Bwindi gedoen (US$70 p.p.;
R1 025 p.p.) en in die suide gebly net buite die Rushaga-hek by die Ichumbi Gorilla Lodge. Die lodge was ’n welkome – maar duur – verposing ná die gekamp.
Ons het ook baie oor die Batwa-stam geleer. Hulle is klein en skraal mense en aangewese op jag en kos versamel in die woud. In die 1990’s het die regering al die Batwas uit reservate verban. Vandag woon net ’n paar mense in die Ugandese woude en die meeste woon aan die buitewyke van hulle voorvaders se grond. Sedertdien is die regering die Batwa-mense goedgunstig en van die parkwinste word bewillig vir Batwa-projekte. Ongelukkig kon die meeste van die stamlede nie by die samelewing buite die woude inskakel nie en word nou geteister deur depressie, drankmisbruik en die stam mag dalk selfs uitsterf.
Ná ons besoek aan Bwindi is ons vinnig weer na Kigali, Rwanda, waarvandaan Callum na die Verenigde Koninkryk moes vlieg – hy studeer aan die Universiteit van Bristol. Weer het ons na Uganda gemik, of so het ons gedink... >