Is dit reën of piepie?
Van die grens af het ons 230 km (4 uur) noord gereis tot by die Koningin Elizabeth- nasionale park. Die plan om ’n kampplek in die park te kry is laat vaar as gevolg van die turfgrond. Ons het lelik vasgeval, maar van die locals het ons gehelp. Min het ons geweet dis standaard om vas te val in Uganda.
Ons het net buite die park gekamp en die volgende oggend 100 km noord gereis; sommer direk na die Kibale- nasionale park. ’n Paar aande was ons die eerste gaste van ’n halfvoltooide gemeenskapskamp. Ons wou graag op ’n aandstaptog gaan, maar die reën was te swaar.
Op pad na die kampplek het ons weer vasgeval. Dit was agtuur die aand en ons het besluit om maar ’n ongemaklike nag in die Hilux deur te bring. Die nag had wel ’n hoogtepunt: Een van die ontwykende woudolifante het kom gesig wys.
Sjimpanseekyk is ’n groot bedryf in Uganda, veral Kibale. Dit kos US$150 p.p. (R2 200 met toegangstarief ) en nadat ons ingelig is, is ons verdeel in twee groepe van sowat sewe elk. Ek en Marie is in die jonger groep geplaas, wat beteken ons gaan vinnig stap.
Ons het in die voertuie gespring en is woud-in, waar ons staptog begin. Die sjimpansees was op hulle eie (baie vinnige) middagstappie en min gepla met ons.
Vir ’n paar stil oomblikke kon ons hulle ongesteurd dophou, en een slag het ek en ’n alfamannetjie stip na mekaar gekyk. Meer as een keer moes ’n gids iemand waarsku om uit die pad te kom sodat ’n aap nie op hom/haar piepie van waar hulle hoog in die boomtoppe na wilde vye soek nie.
’n Paar mense het ons teen Kampala se verkeer gewaarsku en ons het besluit om net vinnig aan te doen. Ons het by die Red Chilli Hideaway gebly, ’n backpackershostel net buite die besige stadskern. Hier is ’n gratis busdiens wat ons twee keer gebruik het vir inkopies en om die stad te verken. Kampala is ’n mooi smeltkroes van straatverkopers en groot inkopiesentrums. Van die koffiewinkels en restaurante hoef nie terug te staan vir soortgelyke plekke in Kaapstad en Johannesburg nie. Dis smaakvol ingerig en die diens is goed.
Ons het inkopies gedoen by Shoprite en geëet by Meza, wat shawarmas verkoop, en agterna is ons oorkant die straat vir koffie en nagereg by die luukse Cafesserie. Daarna is ons na die (stowwerige) Nasionale Museum wat nie goed onderhou word nie, maar ons verkyk ons aan ’n interessante swart-wit-fotouitstalling oor Idi Amin.
Dit het ons twee uur geneem om uit die stad te kom – en dít op ’n Sondagoggend! >