’n Skoenbekooievaar?
Ons ry van Kampala noordwaarts vir 170 km (4 uur) tot by die Ziwa Rhino Sanctuary. Vroegoggend het die wekker reeds om 6.30 vm. gelui en ons het net tyd vir ’n vinnige koffie en ’n sny roosterbrood voordat ons ons waterstewels en ’n gids toegesê word. En nee, ons soek nie renosters nie, maar skoenbekooievaars. Dié voël met die vreemde bek se vlerkspan is meer as 2 m.
Die gids is saam met ons in ons Hilux en ons het vir ’n paar kilometer na ’n moerasagtige omgewing gery. Ons gids het gesê normaalweg sien toeriste een of twee voëls, maar ons het vyf gesien! Skoenbekooievaars is skugter, en ons eerste twee probeerslae om nader te gaan was nie suksesvol nie.
Sonder ’n 500 mm-zoemlens sou ons nooit daai foto neem waaroor voëlkykers droom nie. Ons het met verkykers dopgehou hoe hulle vroegoggend jag maak op longvisse en selfs ’n babakrokodil. Die US$30 p.p. (R440) is wraggies die geld werd.
Die volgende dag het ons ’n 200 km lange agterpad gevat na die suidelikste punt van die Murchisonwaterval- nasionale park. Dit het vyf uur geneem. Die dag daarna is ons die park in (toegang is US$40 p.p. en US$50 vir jou voertuig, R1 900 altesaam) om die waterval te sien. ’n Ravyn druk die polsende water voort wat oor ’n afgrond tuimel om die bruisende Murchisonwaterval te vorm.
Ná twee uur van dié skouspel bekyk, is ons met ’n veerboot oor die Victoria-Nyl ( Witnyl) na die wildkykdeel van die park. Die plek vir wildkamp (US$50 p.p.; R730) op die rand van die Albertmeer is gaaf. Ons het een nag hier deurgebring. Van ons kamp af het ons ’n groep van sowat 80 Rothschild se kameelperde gesien, en olifante en leeus het kom groet. Dit was ’n fantastiese ervaring en ons was spyt ons het nie eerder drie aande hier gebly nie. >