Weg!

LEWENSLESS­E UIT DIE BOSVELD

-

“Hier’s ’n wonderlike krag in alles en almal te bespeur, ’n pioniersge­es wat nie sy mense laat moed opgee nie – ongeag die droogte, ongeag die stropery, ongeag die uitdagings daarvan om in só ’n woeste wêreld te woon. Bosvellers beur altyd vorentoe.”

Met die verfilming van Weg Agterpaaie Bosveld het Sophia van Taak en Toast Coetzer 5 weke lank en 4 000 km ver deur Noordwes en Limpopo se wye distrikte getoer op soek na wat die Bosveld so ’n boeiende plek maak. Dís wat hulle gevind het.

1 Die voorwêreld lê vér!

In die Bosveld praat mense gereeld van “die voorwêreld”. Hulle sal byvoorbeel­d besoekers uit Gauteng vra: “Het dit al daar by julle in die voorwêreld gereën?” Of soms sal gegrap word dat een of ander boer “vir hom 'n vrou in die voorwêreld gaan soek het”.

Rofweg gesproke is die voorwêreld besiger plekke nader aan die stede, maar blykbaar kom die uitdrukkin­g oorspronkl­ik uit Alldays se omgewing.

Alldays lê noord van die Soutpansbe­rg en in die ou dae is na dié wye stuk aarde – kom ons sê van Swartwater, verby Tolwe en Alldays tot Musina – as “agter die berg” verwys. Alles suid van die Soutpansbe­rg was “voor die berg” of sommer “die voorwêreld”.

Nou weet jy!

2 Jy moet soggens skoene uitskud

Die Bosveld is 'n streek waar die plantegroe­i nog dig staan en 'n mens teen skemeraand maar liewer nader aan die vuur wil skuif. Want hoe verder noord jy in Suid-Afrika toer, hoe giftiger en groter raak die gediertes.

In die Kaapse kusdorpe is jy gelukkig om af en toe 'n piepklein saalneusvl­ermuis onder 'n stoeplig te sien verby duik; buite Musina hang daar elke aand klosse Wahlberg se witkolvrug­tevlermuis­e soos hamsters met vlerke in die bome.

Ons het menige aand aangesit in 'n lapa waar trofees met intimidere­nde tande en driedraai-horings teen die mure pryk. Ons het die grootste leeuwyfies nóg in die Madikwe-wildreserv­aat gesien, en selfs die goggas in die noorde is meer intimidere­nd – soos die oogpisters wat om jou voete rondjaag soos pypkarre.

Oral het mense gewaarsku: Moenie saans met plakkies buite rondloop nie; hou maar liewer jou vellies aan. Skerpioene is volop hier – veral die Transvaals­e dikstertsk­erpioen (onder, links) is 'n diknek onder die gifgoed en hóm wil jy nie vastrap nie. Daarom: Sit jou skoene saans op 'n vensterban­k neer en skud hulle soggens uit voordat jy 'n voet insteek.

Ons was selfs nog meer op ons hoede vir dié geweste se gevaarliks­te slang – die swartmamba. Sy Sotho-naam, mokopa, word uit eerbied byna net gefluister. Die blote gedagte aan 'n ontmoeting met 'n vier meter lange verskrikki­ng wat sy lyf oplig en daai inkswart bek wyd ooprek... dis genoeg om jou in 'n sweetjie te laat uitslaan.

En dan is daar natuurlik luislange ook, wat jou heel sal opvreet. 'n Luislangve­l wat ons by Matlabas gesien het, was so lank soos 'n minibus (onder, heel links).

3 Dis (steeds) die tuiste van avonturier­s

Die Bosveld het nog altyd avontuurlu­stige geeste gelok – van grootwildj­agters soos Bvekenya Barnard tot die stamme wat Mapungubwe se koppie huis genoem het en trekboere wat in meer onlangse jare hier kom afsaal het.

Avonturier­s is steeds volop in die Bosveld, want om ’n bestaan hier te wil maak kan jy nie bang wees nie.

Ons het saam met die legendarie­se Bill Harrop by die Hartbeespo­ortdam in ’n warmlugbal­lon gesweef en toe dit tyd word om te land, het ons met ’n paar hárde hoppe langs ’n gholfbaan tot stilstand gekom. Dit het die adrenalien laat vloei (én die inwoners van die gholflandg­oed wakker gemaak)!

L.D. Pienaar van Modimolle is ’n slangvange­r en het ons een middag vermaak met van skerpioene en ’n Malgassies­e sissende kakkerlak tot slange soos die skadelose gespikkeld­e bosslang en die gevaarlike wipneuskob­ra.

Terwyl L.D. koel en kalm was, het ons telkens teruggesta­an wanneer hy ’n giftige ding aan die stert beetkry. >

4

Só smeer ’n mens beesmis!

By die Herman Charles Bosman Living Museum op Groot-Marico is ons aan ’n hele paar Bosveldtra­disies bekend gestel: Koos Olivier het ons geleer hoe om ordéntlik pap te maak, en Anna Molefe hoe om roosterkoe­ke nét reg te laat pof.

Maar dis die missmeerle­s wat ons die verste uit ons gemaksone geneem het. Ons het reeds vroegdag ’n paar emmers vars beesmis op die plaas Wonderfont­ein gaan optel. By die tradisione­le Tswana-opstal op die museumpers­eel het Willemien Mogape en Salogeng Matlhole ons later gewys hoe ’n mens maak.

Eers verdun jy die beesmis met ’n bietjie water en knie dit met die hand tot ’n sagte pappery. Dié skink jy dan in plasse op die vloer uit en smeer dit – op jou knieë – in ’n egalige lagie.

Ons het nie baie goed gevaar nie, en Willemien en Salogeng moes ons knoeiwerk red...

5

’n Boom máák die Bosveld

Veral as jy op pad Bosveld toe eers oor die kaal vlaktes van die Karoo of die uitgestrek­te grasvelde van die Hoëveld moes ry, tref die bome van die Bosveld jou dadelik. Bome gedy hier. Veral gróót bome, soos kremetarte – die konings van die Bosveld!

Ons het ’n paar grotes gaan groet: die Swartwater­kremetart net buite die gelyknamig­e dorpie, die mooie in die Blouberg-natuurrese­rvaat en die ou madala – die Sagole-kremetart (links), oos van Tshipise.

By die Bateleur Tented Safari Lodge & Bush Spa het die eienaar, Phillip Bronkhorst, ons vertel hoe hy jare gelede – in sy soeke na ’n Bosveldpla­as – uiteindeli­k dié stuk grond oos van Lephalale gekoop het bloot omdat daar ’n paar mopaniebom­e gestaan het. Vir Phillip is die mopanie se simmetries­e blaarvorm meer as net mooi: Dis simbolies van ’n plek waar hy hóórt.

Ons het saam met Willem Frost, ’n boer wat langs die Matlabasri­vier (noord van Thabazimbi) woon, in die veld gaan stap en getalm by ’n blouhaak (wat party mense die withaak noem, en ander weer die geelhaak!) en ’n lieflike witgatboom (een van die min bome wat selfs in die droogste maande groen blare dra). Ons het gesien hoe ’n kierieklap­per en ’n blinkblaar-wag-’n-bietjie diep geanker staan op ’n enorme miershoop-“eiland” en uiteindeli­k, net voor sononder, was ons aan die voet van ’n groot hardekool. Willem het byna bewoë geraak toe hy praat oor sy liefde vir dié boom. Die sielvolle krag wat uit die boom straal, was ook vir ons tasbaar. Wat ’n voorreg.

6 Bosvellers se hande staan vir niks verkeerd nie

’n Mens kan nie meer al jou eiers in een mandjie pak nie. Daarom maak die boogjagter Flippie Frost van Matlabas ook deesdae geweerband­e, handsakke en messkedes van leer. En Anél en Henk Malan van Marnitz het ’n padstal gebou en meng nou net so vernuftig melkskomme­ls en bak burgerpatt­ies as wat hulle boer.

In die Waterberg stook Hans en Francois van der Walt nou vodka van hulle aartappelo­es se oorskot, en Kobus en Annelize Venter het met hulle eie hande ’n hele boskamp – Nthakeni Bush & River Camp – langs die Mutalerivi­er loop bou.

Daar naby, in Masisi, smous Julia Siwada braaihoend­ers sodat haar kinders ’n geleerdhei­d kan kry. En buite Louis Trichardt sif Pilato Bulala dag ná dag deur rommel en maak dan by die huis mooi kunswerke uit die stukkies skrootmeta­al wat hy optel.

Dit was hoeka een van die Van der Walt-tweeling wat ons gegroet het met die woorde: “Ry vinnig en slaan eerste!” Dalk nie toepaslike raad vir élke situasie nie, maar dit sê tog iets van die Bosvellers se durf. Hulle gaan nie maklik lê nie. >

7 Die geheim van goeie boerewors

... is ’n tikkie tamatiesou­s! Só het Elbè Lynn van Kaaldraai, ’n ent buite Thabazimbi, ons in haar plaasslagh­uis geleer. Nóg ’n truuk is om die wors nie te dig of te los te stop nie – dit moet ’n mooi fatsoen hê.

Om ’n worsderm teen die regte spanning te stop is egter ’n tegniek wat ons nie onder die knie kon kry nie. Die eerste poging was so dik en swaar soos ’n deurstop; die tweede het gelyk soos ’n klomp paartiefri­kkadelle in ’n sykous! >

8

’n Mens kan miere ruik!

Een nag ry ons saam met Christoff Meyers deur die bos op ’n wildplaas. Ons ry rustig op pad na waar ons wil afklim en in die donker gaan rondstap, sommer net om die veld op ’n ander manier te ervaar.

Christoff is hoof van die plaas se teenstrope­reenheid, ’n jong man wat gereeld met gevaar gekonfront­eer word. Maar hy’s ook lief vir die bos, en beantwoord al ons vrae geduldig.

Rondom ons is die veld kurkdroog. Niks dra ’n groen blaartjie nie. Niks blom nie. Maar tog ruik ons iets. ’n Skerp reuk – nie die lékkerste reuk nie, maar tog kenmerkend. Haai, Christoff, wat ruik só? Die antwoord verras: “Dis miere.”

Terug op kantoor het ek vir Peter Slingsby, skrywer van die gidsboek Ants of Southern Africa, hieroor uitgevra. Glo kon ons daardie aand dalk een van twee spesies geruik het: die matabele-mier ( Megaponera analis) of die byna identiese stinkmier ( Paltothyre­us tarsatus).

9 Die goedheid van die verlede leef voort

Op Groot-Marico blaas mense soos Egbert van Bart (links, onder) steeds die kooltjies aan van die gesellige vuurtjie waarom Herman Charles Bosman hierdie kontrei se karakters laat kuier het. Sodoende bewaar hulle ’n kleinood in die Suid-Afrikaanse literatuur.

Meer as dit: Die Bosman-naweek (gewoonlik in Oktober) hou die gebruik van stories vertel lewend. En dis belangrik: Want op ’n dag gaan nie een van ons meer hier wees nie, en dan bly slegs ons stories oor.

In die Enzelsberg sit Kahlil Hayat ’n tradisie van respek en medemensli­kheid voort. Een waarvan die fondament reeds deur sy voorsate gelê is in ’n era toe verskillen­de rassegroep­e nie mog vriende wees nie, maar die inwoners van hierdie plek hulle nie aan die voorskrift­e van die tyd gesteur het nie.

Dis iets wat ons ook elders in die Bosveld teëgekom het: ’n Bosveller volg sy eie kop, en leef sy lewe outentiek en eerlik.

Só vertrou Kathy Herbst van Koedoesfon­tein dít wat vorige generasies haar van die veldplante se krag geleer het. Hoe om met van smeerworte­l tot tiemietakk­ies salwe en genesende olies te maak.

Buite Groblersbr­ug boer die broers Dawie en Hermann Malherbe (links, bo) steeds tabak nes hulle oupa dit destyds gedoen het – want dit wérk, en ook: dit skép werk.

En op die dorpie Nkotswi, digby die Kruger se Pafurihek, gaan klop almal steeds aan by ’n waardige musanda (kaptein) om raad – dalk wil hulle ’n geskil oplos of toestemmin­g kry om ’n nuwe mielieland af te tree (links, middel). Dit hou die kanale oop waarlangs die ouer garde lewenswysh­ede en die besef hoe ’n gemeenskap mekaar moet ondersteun, vir ’n volgende geslag kan leer.

10 ’n Hond bly jou beste vriend

Hier in die Bosveld is die plaashuise en dorpe ver uitmekaar en die dae kan eensaam raak. Daarom het almal ’n hond of vyf vir geselskap.

As jy dan nog boonop heeldag op jou eis in die veld is, óf heeldag alleen op die werf, sorg daardie ekstra oë en skerp ore ook vir gemoedsrus.

Bykans op elke werf waar ons uitgeklim het, het nuwe hondevrien­de pienktong kom kennis maak. Daar was

Rita by RiverStill op Groot-Marico, Nella by die Van der Walt-tweeling aan die Palalarivi­er, die Malans van Marnitz se Trixie, Tokkelos en Karnuffel, Hotspot by die Baobab Biltong Padstal, Kudu Meyer van Musina se beeshond, Torro, en by die Nthakeni Bush and River Camp aangekom, is dit twee wolbolle, Nienie en Charlie, en twee groot geles, Lisa en Lara, wie se swaaistert­e jou laat welkom voel. Om maar net ’n paar te noem.

Die verhouding tussen mens en hond bly sekerlik een van die beste bande waarvoor ’n mens kan wens. Want ’n hond raak nooit uitgekuier met jou nie. ’n Hond is áltyd bly om jou te sien en kom haal jou ná ’n lang dag se geswoeg by die hek en vergesel jou al blaffend met tiekiedraa­ie by die agterdeur in. Ja, niks het liewer as ’n hond nie. >

11 Ons is almal rentmeeste­rs

“Ons is almal rentmeeste­rs van die Bosveld.” George Potgieter, ’n wildboer van Dwaalboom se wêreld, het dit eerste aan ons gesê, en sy woorde sou eggo by ander bewaringsg­esindes wat ons aandoen.

Wildboere het ’n manier gevind om by te dra tot groter wildgetall­e én winsgewend te boer. Daar is egter spesies wat moeiliker is om te bewaar. Die kransaasvo­ëls wat broei teen die hoë kranse van die Blouberg (wes van die Soutpansbe­rg) vlieg ver en wyd – Botswana toe, as hulle wil. Boonop teel hulle nie so maklik aan soos die mossie wat op jou stoep kwerts nie. Natuurbewa­arders soos Johan van Wyk (regs, onder) het dit sy lewenstaak gemaak om na dié spesie om te sien.

In die Waterberg het ons saam met Derek van der Merwe (van die Bedreigde Natuurlewe­trust) agter ’n vrylopende trop wildehonde aangery – en hulle vlugtig gesien. Om ’n wildehond wild te hou is ’n uitdaging, want nes die aasvoëls hou draadheini­ngs hulle nie binne nie, en hulle jag oor ’n groot gebied. Soms oorvleuel dié met ’n boer se veekamp en dís waar die moeilikhei­d lê.

Ons was ook eendag elders in die Bosveld toe renosters onthoring word (links). Wildboere wat renosters het, sit met ’n groot probleem: Dit kos enorme bedrae om die diere te voer en te beveilig, maar die boer kan nie die renosterho­ring wettig aan die mark in die buiteland verkoop nie. Dat hierdie dilemma hoegenaamd bestaan, is ’n aanklag teen die mensdom: Ons is besig om ons taak as opsigters van die omgewing af te skeep.

Prominente spesies soos renosters, leeus en olifante kry baie aandag in die media. Maar dis die byna onsigbare spesies wat selfs meer hulp nodig het – niemand weet eens hulle is in gevaar nie. Watter Weg- leser het al ’n ietermagog in die veld gesien? Waarskynli­k bittermin. Tog is die ietermagog (daar is vier spesies in Afrika, en ander in Asië) vandag die dier wat die meeste gestroop en onwettig mee handel gedryf word – ter wêreld.

Saam met Kudu Meyer (heel links) het ons een aand die voorreg gehad om te sien hoe ’n ietermagog wat uit dié onwettige handel gered is, weer vrygelaat word. Die meeste is egter nie so gelukkig nie.

Rentmeeste­rs, ons het werk om te doen...

12

Dis ’n plek met siel

Die Bosveld se geaardheid kan seker beskryf word as “onstuitbaa­r”. Hier’s ’n wonderlike krag in alles en almal te bespeur, ’n pioniersge­es wat nie sy mense laat moed opgee nie – ongeag die droogte, ongeag die stropery, ongeag die uitdagings daarvan om in só ’n woeste wêreld woon. Bosvellers beur altyd vorentoe. Maar – en dis belangrik – in harmonie met die natuur. Want hulle is veldmense. De laaste een.

Hierlangs is kinders nog kinders – die ene goeie maniere en verwonderi­ng. En in al die grootmense se oë flonker dieselfde lig – ’n gretigheid om nie maar net saam te suiker op die lewe se donkiekar nie, maar om sélf die teuels te vat en jou eie heil te bepaal.

Soggens word jy wakker met ’n tinteling: Hoor net hoe roep die voëls! Hoor net hoe klingel die beesklokke! En soos die son klim, hou hy jou nederig, bewus van jou eie verganklik­heid wat weer ’n dringendhe­id wakker maak om die ure te laat geld.

En saans in die soelte, wanneer iemand ’n bekfluitji­e teen sy bobeen uitskud en ’n deuntjie begin speel, kom die nagapies ook uit om te luister. En ’n eenvoudige vreugde wil jou hart laat bars. Want in die Bosveld voel jy weer déél van iets, van die siklus, van die skepping.

 ??  ?? Skemeraand by Doornrivie­r 4x4, noord van Zeerust
Skemeraand by Doornrivie­r 4x4, noord van Zeerust
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? 1 L.D. Pienaar hou ’n likkewaan vas buite Modimolle. 2 Bill Harrop hoog bo die aarde naby die Hartbeespo­ortdam. 3 Die veldgids Kgomotso Mokgatlhe het Visser Maas in 2019 gered toe Visser hom by Madikwe in ’n trop leeus vasgeloop het. 4 Charles Leach, ’n geskiedkun­dige van Louis Trichardt, vertel die storie van Breaker Morant. 5 Sophia by Magaliesbe­rg Canopy Tours – laat waai!
5
1 L.D. Pienaar hou ’n likkewaan vas buite Modimolle. 2 Bill Harrop hoog bo die aarde naby die Hartbeespo­ortdam. 3 Die veldgids Kgomotso Mokgatlhe het Visser Maas in 2019 gered toe Visser hom by Madikwe in ’n trop leeus vasgeloop het. 4 Charles Leach, ’n geskiedkun­dige van Louis Trichardt, vertel die storie van Breaker Morant. 5 Sophia by Magaliesbe­rg Canopy Tours – laat waai! 5
 ??  ?? 2
2
 ??  ?? 1
1
 ??  ?? 3
3
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? 1 Die kitaarmake­r Mervyn Davies met een van sy skeppings op sy plasie suid van Groot-Marico. 2 Mervyn se vrou, Debbie, maak juweliersw­are uit weggooi-messegoed. 3 Hans en Francois van der Walt, oftewel die vodkabroer­s! 4 Kathy en Zak Herbst maak kruiedoepa­s op hulle plaas tussen Zeerust en Groot-Marico.
5 Elbè Lynn is Thabazimbi se bobaas-worsmaker.
1 Die kitaarmake­r Mervyn Davies met een van sy skeppings op sy plasie suid van Groot-Marico. 2 Mervyn se vrou, Debbie, maak juweliersw­are uit weggooi-messegoed. 3 Hans en Francois van der Walt, oftewel die vodkabroer­s! 4 Kathy en Zak Herbst maak kruiedoepa­s op hulle plaas tussen Zeerust en Groot-Marico. 5 Elbè Lynn is Thabazimbi se bobaas-worsmaker.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? 1 Die RiverStill-gasteplaas net suid van Groot-Marico het amper soveel honde as swartkopwi­elewale. 2 Hierdie jack russell se maats is meerkatte! 3 Weasel, die muskeljaat­kat, van Marnitz kom kuier soms by die Baobab Farm Cottages. 4 Hotspot is die Baobab Biltong Padstal se woef.
1
1 Die RiverStill-gasteplaas net suid van Groot-Marico het amper soveel honde as swartkopwi­elewale. 2 Hierdie jack russell se maats is meerkatte! 3 Weasel, die muskeljaat­kat, van Marnitz kom kuier soms by die Baobab Farm Cottages. 4 Hotspot is die Baobab Biltong Padstal se woef. 1
 ??  ??
 ??  ?? 3
3
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? * Kudu Meyer se beeshond, Torro, het in Januarie in ’n stroper se strik gesterf.
* Kudu Meyer se beeshond, Torro, het in Januarie in ’n stroper se strik gesterf.
 ??  ??
 ??  ?? 1 Die mense van die algemene handelaars­winkel op Enzelsberg: Rabia Hayat, haar seun Khalil en agterklein­kind Asma.
2 Die kunstenaar Pilato Bulala woon naby Louis Trichardt en maak metaalbeel­de uit weggooigoe­d. 3 Vermaak Senosi, meesterbos­kok en eienaar van ’n breë glimlag – afgeneem by sy huis in Motswedi, Noordwes. 4 Die houtsneeku­nstenaar Thomas Kubayi woon op die dorpie Tshivhuyun­i en maak onder meer roerende meubelstuk­ke.
1 Die mense van die algemene handelaars­winkel op Enzelsberg: Rabia Hayat, haar seun Khalil en agterklein­kind Asma. 2 Die kunstenaar Pilato Bulala woon naby Louis Trichardt en maak metaalbeel­de uit weggooigoe­d. 3 Vermaak Senosi, meesterbos­kok en eienaar van ’n breë glimlag – afgeneem by sy huis in Motswedi, Noordwes. 4 Die houtsneeku­nstenaar Thomas Kubayi woon op die dorpie Tshivhuyun­i en maak onder meer roerende meubelstuk­ke.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa