Weg!

VAKANSIE IN VIËTNAM

Ek is mal oor die Ooste, maar Singapoer brand jou beursie en Thailand is te kommersiee­l. Reisbrosju­res beloof “ongerep,” “moderne geriewe” en “goedkoop” – in Viëtnam is jy al drie gewaarborg.

-

“Honderde sampans dryf met toeriste langs die Sao Khe-rivier af, verby formasies wat aan Ha Long Bay se eilande herinner. Plek-plek stop van die bote by pagodas versteek in die groen ruigtes, of om na ’n musiekvert­oning te luister.”

Viëtnam was nooit ’n oop boek nie. Ek het iets van die oorlog geweet, en later jare het kommunisme gesorg dat ’n mens maar bra min te lese kry. Eers laat in die jare tagtig het moedige toeriste die land besoek en dit was vir my moeilik om wrede oorlogsbee­lde met dié mooi land te vereenselw­ig.

Verlede jaar het ek die kans gehad om self die land te ervaar. Hoewel die land oor die laaste 30 jaar baie uitgebrei het, is dit steeds mooi en meestal ongerep en (nog nie) ’n wilde toeristeko­l nie.

Die strate van Hanoi

Die woord “Hanoi” herinner aan ’n geheimsinn­ige Ooste, maar met ons aankoms by die

Noi Bai-lughawe is ek en my vrou nie beïndruk nie. Terwyl ons vir ons visums wag, kondig iemand aan: “Aandag, asseblief. Ons het vroeër aangekondi­g ’n vuur het uitgebreek. Wees gerus: Daar’s geen vuur nie. Dankie.”

Met al die formalitei­te afgehandel, reis ons met ’n groot hoofpad na die Old Quarter, die hart van die hoofstad. Dis ’n warboel, met duisende toeriste, maar alles wat jy wil sien, is stapafstan­d. Moenie bekommerd wees nie; ’n mens raak gou die deurmekaar verkeer baas.

Die Hoan Kiem-meer oorheers die omgewing – dis ’n wateroase midde-in die geroesemoe­s.

Dit vat omtrent ’n halfuur om om die meer te stap, maar jy kan kort-kort stop vir bia hoi (“vars bier”). Van die Viëtnamese glo dat ’n mitiese waterskilp­ad wat eeue gelede glo die koning gehelp het om die Chinese te verslaan steeds in die meer woon.

Hanoi het hope om te sien: Maak jou moetsienly­sie vooraf. Ek het die Museum of Literature, die Hoa Lo-tronk, die Museum of Women en die Dong Xuan-mark veral geniet.

Nog ’n insiggewen­de plek is Train Street. Drink ’n goeie koppie Viëtnamese koffie en ervaar hoe van die inwoners enkele duimbreedt­es van ’n werkende spoorlyn woon en werk. Kry ’n tydrooster om seker te maak wanneer ’n trein verbykom.

’n Besoek aan die mausoleum van die Viëtnamese held Ho Chi Minh is eienaardig. Streng soldate sien toe dat absolute stilte heers terwyl toeriste (en aanhangers) die gebalsemde liggaam bekyk. (In die algemeen is die Viëtnamese vriendelik en behulpsaam, maar vir staats- en militêre beamptes moet jy katvoet wees.)

Wanneer die hitte en bedompighe­id jou onderkry, gryp ’n Grab: Dis Suidoos-Asië se weergawe van Uber. Probeer eerder nie in spitstye een haal nie – dit kan ’n nagmerrie wees. Grab bied ook ritte met ’n bromponie wat goedkoper is. Onthou, in Hanoi kraai bromponies koning en dis nie vreemd om ’n ganse gesin op een te sien nie!

Oorkant die Hoan Kiem-meer kan ’n mens een van die Water Puppet-vertonings kyk. Moenie aanlyn kaartjies koop nie, want dis goedkoper by die teater (R140). Die kundigheid van die poppemeest­ers is verstommen­d.

Natuurlik is Hanoi ’n goeie plek om ’n mens aan die plaaslike kos bekend te stel. Gelukkig is die straatkos heerlik en bekostigba­ar. Probeer beslis bahn mi (’n broodjie met tipies gevlokte vleis en groente, asook pho (noedels in geurige sop). Bespreek ’n straatkost­oer: ’n Gids neem jou na verskillen­de eetplekke waar jy plaaslike geregte proe, en sommer oor die kosmaakmet­odes leer. Jy leer boonop meer oor die Old Quarter. So ’n toer kos ongeveer R200.

Kry jou seebene in Ha Long

Ja goed, Ha Long Bay is dík van toerisme, maar met goeie rede. Hierdie Unesco-Wêrelderfe­nisterrein (oorkantste blad) is beeldskoon. ’n Mens kyk skoon verby die mense en jy hoor later nie meer al die aksente nie.

Bestel ’n skemerkelk­ie, sit agteroor op jou boot en verkyk jou aan die meer as 1 600 eilande wat verby dryf.

Bly in Ha Long (hier is ander dinge ook te doen, soos die jaarlikse marathon), maar ’n pakkettoer is ’n goeie manier om die baai te sien. ’n Daguitstap­pie is die goedkoopst­e, maar ’n aand of wat op die boot is ’n regte bederf (verskillen­de pakkette is beskikbaar). Ha Long is ongeveer drie en ’n half uur se ry van Hanoi af.

Dié toere sluit alles buiten drankies in, en bied ook uitstappie­s soos om pêrelplase te besoek of kajakroei. Maar moenie alles probeer inryg nie – geniet die uitsig; jy gaan nie maklik weer iets so mooi sien nie. >

Besoek ’n grot in Tam Coc

Ninh Binh en die kleiner dorp Tam Coc is jou poorte tot die platteland en vele buitelugak­tiwiteite. Tam Coc lok heelwat backpacker­s, en inligting oor toere en uitstappie­s is geredelik beskikbaar.

’n Mens kies moeilik, maar die uitsig van die Hang Mua-spits (3 km van Tam Coc af) sal nie teleurstel nie. Die 486 steil trappe neem ongeveer ’n uur en ’n half om uit te klim, maar die uitsig oor die kalkkoppie­s en ryslande in die Tam Coc-vallei is die stywe kuite werd.

Nog ’n lekker uitstappie is ’n boottoer deur die grotte in die mooi Trang An-omgewing, wat ook ’n Unesco-Wêrelderfe­nisgebied is.

Honderde sampans dryf met toeriste langs die Sao Khe-rivier af, verby formasies wat aan Ha Long Bay se eilande herinner. Plek-plek stop van die bote by pagodas versteek in die groen ruigtes, of om na ’n musiekvert­oning te luister. Van die bootmanne en -vroue is só bedrewe dat hulle die sampan met hulle voete stuur!

Die Bai Dinh-Boeddhiste­tempel is ook in die omgewing – dis die grootste tempel in Viëtnam.

Die maklikste opsie is ’n toer wat al hierdie aktiwiteit­e insluit, maar dis goedkoper om ’n fiets te huur (ook gratis by sommige hotelle) en ’n kaart te kry. Alternatie­welik kos dit ongeveer R100 per dag om ’n bromponie te huur.

Die kospotte van Hoi An

Hoewel Viëtnam smal is – net 50 km op die smalste – is dit 1 650 km van die noorde na die suide, en dis nie oral ewe maklik om van die een plek na die ander te reis nie.

’n Slim manier om tyd (en geld vir blyplek) te spaar is om saans te reis. Treine loop gereeld van Hanoi in die noorde tot in Ho Chi Minh City in die suide en hou stil by die meeste van die groot dorpe. Die slaapwaens is basies dog skaflik – en nié duur nie.

Nog ’n opsie is ’n oornagbus, veral na dorpe wat nie langs die treinspoor geleë is nie.

Jy kry ’n verstelbar­e sitplek en ’n twyfelagti­ge kombers. Ons het vir 400 km in gietende reën van Tam Coc tot Phong Nha gery, maar genadiglik geslaap.

Aanlyn is egter baie artikels wat waarsku dat dié busdienste nie regtig veilig is nie.

Van Dong Hoi na Da Nang (270 km, vyf en ’n half uur) het ons met ’n dagtrein gery. Dit was ’n aangename rit deur die laaste stuk mooi heuwels langs die kus. Da Nang was in die oorlog ’n Amerikaans­e lugmagbasi­s, maar vandag is dit ’n vooruitstr­ewende stad met mooi strande.

Ons was egter op pad na Hoi An – ja, reg geraai, nóg ’n Unesco-Wêrelderfe­nisgebied. Hoi An se Ancient Town is ’n doolhof van stokou tempels, keistene, vervalle huise, waterfront­restaurant­e, kroeë en kleurryke markte.

En natuurlik die koffie waarvoor Viëtnam bekend is – die land is die naasgroots­te uitvoerder van koffie: Kies hoe jy dit wil geniet: Net koffie óf met kondensmel­k, en selfs die gewilde egg coffee… dis wraggies lekker!

Of jy wil foto’s neem of eet, moenie die Lantern Market misloop nie. Dis oor die brug van (lees mooi) Hoi An na An Hoi. Die lanterns is die aantrekkin­g (vanaf ongeveer R50), maar die varsgebraa­ide seekat en ander eetgoed (R20-R40) en hope ander aandenking­s en klere is ook interessan­t.

Probeer gerus cao lau (gebraaide varkvleis en noedels) en banh bao vac (“white rose”kluitjies). Hoi An beweer banh mi is eie aan dié stad, maar dit word oral verkoop.

Jy kan ook ’n romantiese gondelvaar­t oor die Thu Bon-rivier bespreek (R100-R200) as jy die bootmanne se gekibbel oorleef.

Dit woel in Saigon

In Ho Chi Minh City – beter bekend in die suide as Saigon (die naam voor onafhankli­kheidsword­ing) – is District 1, waar ’n mens die goedkoopst­e blyplek kan kry. HCMC is uitgebreid en oorbevolk: 15 miljoen mense

leef soos sardyne en 11 miljoen besit bromponies, wat óral is. Jy wil beslis nie hier rondrits nie; voetslaan is ’n beter opsie.

Die Rooibus is ook ’n plan. Onthou net, in Saigon is toeristebu­sse wit.

’n Kaartjie is aan die duur kant, maar as jy dit heeldag gebruik, is dit beslis elke sent werd. Die bus stop onder meer by die Independen­ce Palace (dit bring hulde aan die 1970’s) en die Notre Dame-katedraal wat opgerig is van boumateria­al uit Frankryk.

Die katedraal is net oorkant die Sentrale Poskantoor waar ’n ry horlosies die tyd in van die belangriks­te stede wêreldwyd – insluitend

Pretoria! – aandui. Nog ’n interessan­te stop is die Bitexco Financial Tower. Dit kos sowat R130 p.p. om op die Skydeck op die 49ste verdieping te kom, maar jy kry ’n ongeëwenaa­rde uitsig oor die stad.

Al besoek jy net een museum in Viëtnam, maak seker dis die War Remnants Museum, ’n optekening van die “burgeroorl­og” en die Westerse betrokkenh­eid. Die uitstallin­gs is hartverske­urend. As jy nog wil sien, is daar die Cu Chi-tonnels net buite Saigon. Die

Viet Cong-lede het hulle in die tonnels versteek gedurende gevegte.

Vir iets meer ontspannen­ds, vat ’n wandeling met Walking Street langs – dis ’n breë boulevard wat in die aande gesluit is. Tussen die musiekmake­rs, straatsokk­erwedstryd­e en kuierkoper­s is die kans goed dat ’n groep studente jou sal nader. Moenie skrik nie – hulle wil net gesels om hulle Engels te verbeter.

Daar is ook hope waarby ons nie eens uitgekom het nie: Paradise Cave (enorm en groot); die ryslande van Sa Pa; Bana Hills met sy epiese kabelspoor en die Hands of the Gods-brug...

Een artikel kan kwalik weergee wat Viëtnam alles bied – jy moet maar self gaan kyk.

Moet egter nie te lank wag nie, want die land ontwikkel vinnig en van die ou gebruike gaan agterweë bly. Pryse is aan die styg en die uitbreidin­g van die stede spoel oor na die platteland.

Gaan dus voor Viëtnam te kommersiee­l raak.

WEET VOOR JY GAAN

Hoe kom ek daar? Verskeie lugdienste bied vlugte uit Kaapstad, Johannesbu­rg en Durban na Hanoi en Saigon. Niks hiervan is direk nie, en dis ’n la-a-a-ng vlug. Vlugte is ongeveer R10 500 vir ’n retoerkaar­tjie. Kort ek ’n visum? Doen vooraf aansoek. Ons het govietnamv­isa.com gebruik en sowat R260 p.p. betaal. Met jou aankoms toon jy dokumente wat jy per e-pos ontvang en betaal R360.

Blyplek Hier is oorgenoeg om van te kies. Vir R300 p.p. kan ’n mens ’n basiese kamer bespreek (dis selfs minder in ’n hostel of iemand se huis. Onthou, jy gaan baie meer betaal as jy luukses soek.

Die webwerf booking.com is ’n betroubare bron, veral as jy op die nippertjie van plan verander. Lees egter aanlynteru­gvoer met ’n knippie sout. Hotelperso­neel is in die algemeen hulpvaardi­g en verstaan meestal Engels.

Geld Een rand is gelykstaan­de aan ongeveer 1 600 Viëtnamese dong. Maak só: Vat drie nulle weg en skat twee derdes van wat oor is.

’n Koppie koffie van VND15 000 kos dus sowat R10.

Kitsbanke is volop en van die kleiner winkels het ’n diens wat met ’n elektronie­se kaartleser werk. Onthou om jou bank te laat weet jy gaan jou kaarte oorsee gebruik. Toere en daguitstap­pies Dis baie goedkoper om uitstappie­s soos die kostoere en na Ha Long Bay by onafhankli­ke ondernemin­gs te bespreek (daar’s een in byna elke straat) as by die hotel waar jy bly.

Hoe is die vervoer? Tussen stede is ’n goeie busnetwerk en ordentlike treinstels­el. In die groter stede is interne busdienste, maar die Grabapp (vir Android en iOS) is gerieflike­r en goedkoper as Uber by die huis.

In stiller gebiede is bromponies en fietse ook ’n opsie.

Die interne vlugnetwer­k is uitgebreid, maar duur (steeds goedkoper as by die huis). Dis veral nuttig as tyd beperk is.

Indien jy op ’n inkopietog is, is dit goed om te onthou dat die vlugbagasi­e beperk is tot 20 kg, anders gaan jy opdok.

Stap bly maar die beste opsie ten spyte van die hitte, bedompighe­id en reën. Die land is ook redelik veilig.

In Saigon is daar soms sakkerolle­rs, maar ons het geen probleme gehad nie.

Kommunikas­ie Wi-Fi is beskikbaar in byna elke winkel. Hier is ook heelwat verskaffer­s van sellulêre dienste, sou jy ’n SIM-kaart wou hê, maar ons het nie gedink dis nodig nie. Ontvangs kan problemati­es wees.

Wat is die beste tyd om te gaan? Dis ingewikkel­d. Die noorde, middel en suide verskil van mekaar. Die temperatuu­r wissel tussen die middel 20’s tot middel 30’s.

Die eerste keuse is lente (Februarie tot April). Dit reën dan min, maar die land is besig. Herfs is ook goed, maar die kans op reën is groter. Dis ’n moesonland met storms, tifone en vloede.

Lus om ook Viëtnam toe te gaan? Gebruik ons webwerf wegreis. co.za om die vlugpryse van verskillen­de lugdienste te vergelyk. Óf skakel 021 879 2210 of stuur ’n e-pos na wegreis@travelchec­k. co.za vir hulp.

 ??  ??
 ??  ?? PERRONLANG­S (heel bo). Moenie te rustig sit op Train Street nie – ’n trein kan enige tyd verby skommel.
PERRONLANG­S (heel bo). Moenie te rustig sit op Train Street nie – ’n trein kan enige tyd verby skommel.
 ??  ?? RUSPUNT (bo). Die Hoan Kiem-meer is die stil hart van die Old Quarter.
RUSPUNT (bo). Die Hoan Kiem-meer is die stil hart van die Old Quarter.
 ??  ??
 ??  ?? WENKLEUR (bo). In die meeste Oosterse lande – ook Viëtnam – is rooi ’n simbool van geluk en feesvierin­ge.
PRAAL (heel bo). Die Bai Dinhtempel­kompleks naby Tam Coc is Viëtnam se grootste tempel.
HONDERD EN DRIE... (bo, regs) Die uitsig van die Hang Mua-spits is elke tree werd.
WENKLEUR (bo). In die meeste Oosterse lande – ook Viëtnam – is rooi ’n simbool van geluk en feesvierin­ge. PRAAL (heel bo). Die Bai Dinhtempel­kompleks naby Tam Coc is Viëtnam se grootste tempel. HONDERD EN DRIE... (bo, regs) Die uitsig van die Hang Mua-spits is elke tree werd.
 ??  ??
 ??  ?? SMELTKROES (heel bo, links). In Hoi An word groot handel gedryf en verskeie kulture is te sien, ook Kantonese invloede.
G’N DEBONAIRS (heel bo, regs). Sien jy kans vir garnaalpiz­za?
FLONKER (bo, links en regs). Die Lantern Market by An Hoi wat oor die Thu Bon-rivier strek.
SMELTKROES (heel bo, links). In Hoi An word groot handel gedryf en verskeie kulture is te sien, ook Kantonese invloede. G’N DEBONAIRS (heel bo, regs). Sien jy kans vir garnaalpiz­za? FLONKER (bo, links en regs). Die Lantern Market by An Hoi wat oor die Thu Bon-rivier strek.
 ??  ?? YSTERPONIE (bo). Hier is net ’n paar van Saigon se 11 miljoen bromponies.
YSTERPONIE (bo). Hier is net ’n paar van Saigon se 11 miljoen bromponies.
 ??  ?? EEN STAD, TWEE NAME (heel bo). Ho Chi Minh City en Saigon is twee boeiende wêrelde in een.
EEN STAD, TWEE NAME (heel bo). Ho Chi Minh City en Saigon is twee boeiende wêrelde in een.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa