KOOP NÓÚ JOU KAARTJIE VIR RÉUNION!
“Dis nog vroeg en reeds dwarrel wolke oor die pieke en versluier puntige rotsriwwe, net om die volgende oomblik weer soos ’n gordyn oop te swiep en die dramatiese formasies ten toon te stel. Dís mos nou ’n ware bergavontuur!”
Die binneland van die eiland Réunion is ’n wonderwêreld van hoë vulkaniese spitse, kleurryke Kreoolse dorpies en woude waar orgideë en varings soos halssnoere hang. Die beste manier om al dié mooi te beleef is te voet – langs die Grande Randonnée Route 1.
Die nimmereindigende kinkels in die smal paadjie en die hengse afgrond hier reg langs ons laat my nekhare rys. Ons is gewaarsku: met sy sowat 400 draaitjies is dit Réunion se skouspelagtigste pad – een wat van die kus af opkrul tot die dorpie Cilaos in die binneland se heuwels. Goeiste! Dis angswekkend! Ek is heimlik dankbaar ek bestuur nie.
Ek en die fotograaf Shaen Adey is op pad na die beginpunt van die Grand Randonnée Route 1 (GR R1). Dis ’n sirkelstaproete wat rondom Réunion se hoogste bergspits – die 3 070 m hoë Piton des Neiges (oftewel Sneeuspits) – krul.
Dié veeldagroete staan ook bekend as die Tour de Piton des Neiges of Tour des Cirques. Dit strek deur drie valleie – Cilaos, Mafate en Salazie – wat saam die “hart” van Réunion vorm. Die streek is beroemd vir sy ongeewenaarde natuurskoon en is daarom ’n Unesco-Wêrelderfenisgebied.
Réunion is ’n administratiewe gebied van Frankryk, en hoewel dit skaars 226 km suidwes van Mauritius lê, moet ’n mens nie ’n tropiese Indiese Oseaan-eiland te wagte wees nie. Toegegee, hier is strande vir sonbaai, eksotiese plantegroei, strandmere en ’n rits geleenthede vir watersport wat nie by sy buurman s’n afsteek nie.
Maar met ’n aktiewe vulkaan, bergagtige binneland, diepe klowe en aktiwiteite wat die adrenalien by jou ore sal laat uitborrel, is Réunion ’n bestemming vir avontuursoekers.
Die magdom staproetes maak die eiland ook ’n gewilde bestemming onder stappers. Die Franse het in 2019 die GR R1 as die mooiste staproete aangewys. En dít dra gewig as jy die gewildheid én skoonheid van Frankryk se eie staproetes in gedagte hou. Ja-nee, die GR R1 onttroon glo selfs die Tour du Mont Blanc, die Grande Traversée des Pyrénées en die Grande Randonnée 20 (GR20) op die eiland Korsika – een van Europa se taaiste staproetes.
Ek het die GR R1 in 1996 gestap – ’n paar maande nadat ek van die Verenigde Koninkryk af Suid-Afrika toe verhuis het. Laasjaar was die roete 40, en dié keer het ek en my stapmaat, Shaen, dit aangedurf.
Dis byna middag toe ek en Shaen uiteindelik in Cilaos stilhou. Ons gaan sit by ’n kafeetjie en neem die grootse bergtonele in, drentel dan deur die strate en verwonder ons aan die kleurryke houtgeboue en doen aankope by die markie.
In die namiddag stap ons die vyf uur lange La Chapelle-roete om ’n voorsmakie te kry van wat op ons wag. Dis een van die eiland se mooiste dagstappe (9,5 km heen en terug) en daal 800 m af tot by ’n rivier onder in ’n ravyn.
Ons volg die stroom al verder die noutes van die bergkloof in tot by ’n poel wat ’n waterval oor tyd uitgekerf het. Bo lyk die rotswande soos ’n ou katedraal wat bo ons koppe uittroon. Die skoonheid is verbysterend. Ons pluk ons klere af en waag dit in die ysige water. >
DAG 1 CILAOS NA MARLA (12,5 KM)
Net berge waar jy kyk!
Ons haal douvoordag ’n bus na waar die staproete begin. Die pad is selfs nóg smaller en vol kartels as gister s’n. Sommer op die eerste draai al skuur die bus se een wiel teen die steunmuur wat moet keer dat motors teen die berghang af tuimel. Die bestuurder maak nonchalant ’n soort driepuntdraai om die bus om die knak in die pad te dwing. Shaen, wat heel voor sit, se gesig is wasbleek.
Ons maak dit darem heelhuids tot by die vertrekpunt. Die eerste deel van die voetpad is ’n stywe klim tot bo by die Col du Taibit, ’n deurgang deur die bergrif wat die Cirque de Cilaos van die aangrensende Cirque de Mafate skei (’n cirque is ’n diep dal of vallei, met ’n “amfiteater” van kranse rondom).
’n Uur later, op ’n plato’tjie genaamd Îlet des Salazes, gewaar ons ’n teekamertjie tussen ’n paar perdestertbome ( Casuarina equisetifolia) – ’n welkome gesig. ’n Paar bebaarde mans sit koppies blomtee en snye chou chou- koek voor. Dis ’n lieflike uitspanplek en teen slegs €2 is die versnaperinge goeie waarde vir geld.
Ons groet verfris en neem eers gou ’n kort afdraaipad na ’n uitkykpunt op die rand van
’n krans. Dóér onder lê die Cilaos-vallei, al die pad tot by die glinsterende oseaan sowat 1 500 m ondertoe. Dan moet ons aanstoot tot bo, by die Col du Taibit, waar ons ons régte ontbyt vir die dag sit en eet met ’n uitsig oor die Cirque de Mafate.
Vanaand slaap ons in ’n plekkie genaamd Marla. Dié kan ons in ’n oopte onder in die dal uitmaak, maar waarlangs die voetpad van daar af loop, is onmoontlik om te sê. Mafate se rotsskanse lyk ondeurdringbaar en die woude teen die hellings verbloem enige tekens van ’n roete. Ek ril skoon van opwinding! Dis nog vroeg en reeds dwarrel wolke oor die pieke en versluier puntige rotsriwwe, net om die volgende oomblik weer soos ’n gordyn oop te swiep en die dramatiese formasies ten toon te stel. Dís mos nou ’n ware bergavontuur!
Nadat ons die tonele bewonder het, voelvoel ek en Shaen ons koers in die vallei af.
Dit kos mooitrap – die voetpad is vol los, gladde klippe en boomwortels. Marla is ’n groterige nedersetting met ’n kroeg, restaurant, kampterrein en verskeie goedgeplaasde gîtes – eenvoudige oornagplekke met bed-enontbytgeriewe. Hier’s ook ’n winkeltjie wat hom vir ’n boulangerie (’n bakkery) uitgee, maar hulle het nie aldag vars brood nie en nie
eintlik veel meer as gaskoeldrank, koekies en geblikte groente nie. (Wees liefs voorbereid en bring jou eie peuselkos saam. Sodra ’n mens die binneland se twee hoofdorpe – Cilaos en Hell-Bourg – verlaat, raak voorrade beperk.)
By die gîte aangekom vir die nag, tref ons die gasvrou Yolande Horeaux in die tuin aan, besig om vars groente en kappertjies vir aandete te pluk. Die tafel is gedek en in die yskas wag koue wyn. Ek is dadelik spyt dat ons nie aandete bespreek het nie, ai!
Die houthutte is skoon en gerieflik met ongelooflike uitsigte oor die vallei. En danksy sonpanele het ons dié aand warm water en ligte. Ná ’n stort loer ek wat die weer die volgende dag maak en probeer uitpluis wat die aangewese roete na ons volgende oorstaanplek, Hell-Bourg, is. Ek en Shaen was aanvanklik van plan om ’n tent saam te dra sodat ons meer aanpasbaar kan wees. Maar die Île de la Réunion Tourisme (IRT) het ons aangeraai om liewer in gîtes te oornag. Ons rugsakke sou ligter wees, maar ons kon dus net langs roetes stap waar blyplek beskikbaar is.
Die amptelike roete loop oor La Nouvelle, die grootste dorpie in Cirque de Mafate en ’n gewilde bestemming vir dagstappers. Maar dit sal ’n wye ompad beteken en buitendien is al die verblyf in La Nouvelle reeds volbespreek.
Dit laat ons met twee keuses: óf die direkte, bittersteil bergpad oor die Col de Fourche óf die ietwat makliker maar langer roete oor die Col des Boeufs. Ongeag watter een ons kies, môre gaan ’n harde dag van minstens agt uur se stap behels. Die vooruitsig van ’n koffietrokkie by Col des Boeufs is die deurslaggewende faktor – kom ons stap daarlangs!
Dit begin liggies reën net toe ons aandete soek. Maar die maaltyd van lensies, eiers en rys onder ’n sambreel by die Le Marla-eetplekkie langs die kampterrein is heerlik. Daarna is dit rustyd vir moeë bene.
DAG 2 MARLA NA HELL-BOURG (23 KM)
Hemel op aarde
Ek en Shaen is al voor sonop aan die gang. Die lug is kraakvars en nog vol sterretjies. Daar’s nog geen ander mense in sig nie, maar ’n paar lysters hop van tak tot tak al agter ons aan.
Toe die son uiteindelik opkom, lyk dit asof die hoogste spitse brand soos wat die vulkaniese rots gloei. Ek herken een van die staproete se bakens – die ikoniese Trois Salazes se drie gepunte spitse – wat regs wagstaan. >
Dis geen verrassing nie dat die klim tot bo by Plaine des Tamarins wéér ’n kuitbyter is. Dié gelykte staan oortrek van suurdadelbome waarvan die stamme heel verknot is – ’n bewys van wat sikloonwinde aan die eiland doen. Die bome staan dig en is oortrek met mos en oumansbaard.
By Col de Fourche gekom, sien ons ’n afdraaipad na die ánder roete. Ek en Shaen wik en weeg, maar besluit dan dat die lus vir koffie by Col des Boeufs se roepstem steeds sterker is.
Maar dis ’n fout! Die koffietrokkie is nêrens te sien nie en ons moet vir ’n halfuur lank met ’n grondpad aanploeter voordat die voetpad weer in ’n woud wegswenk.
Maar, soos wat die Franse sê: c’est la vie – só is die lewe maar. Ten minste het ons nou ’n bietjie meer van Réunion te sien gekry!
Die volgende skof deur die woud blyk ons beloning vir die ompad te wees. Oral skitter die blaartjies van boomvarings en wildegemmer, fuchsias en lugplante. Ons dop anderkant die woud in Le Belier uit.
Omdat ’n mens met ’n motor tot hier kan ry, is dié dorpie ook ’n gewilde beginpunt van die GR R1. Hier’s nie ’n gîte of ’n eetplekkie in sig nie, maar ek slaag daarin om ’n dierbare tante te oortuig om vir ons ’n bietjie kookwater te gee sodat ons darem kan koffie maak.
Die res van die oggend glip weg terwyl ons in die reën die bonkige Gros Morne-spits oorsteek. Langs die pad smul ons aan lukwarte en swem in die Fleur Jaune-rivier (Geelblomrivier) se poele.
’n Grafsuil van graniet herinner ons weer aan hoe onstabiel hierdie vulkaniese hellings onder ons voete kan raak: Teen Le Grand Sable-monument is ’n lys van 63 name – mense wat in November 1875 hier omgekom het toe brokke rots uit die 3019 m hoë spits losgekom en na benede gestort het…
Die woude maak mettertyd plek vir plase en my moed sak effe in my skoene toe ons sien wat nog voorlê: Hell-Bourg lê nog helhoog aan die ander kant van ’n hengse ravyn! Ná wat soos ’n ewigheid voel, strompel ons uiteindelik verby die murasies van die dorp se eertydse warmwaterbron. Die smal straatjies staan vol kleurryke Kreoolse huise. Dis só ’n betowerende plek dat sy naam heel onvanpas klink. (Hell-Bourg is genoem na ’n voormalige goewerneur van die eiland, Anne Chrétien Louis de Hell.)
Ons gaan meld aan by ons slaapplek en sit dan in ’n restaurantjie aan vir ’n hoender-enseekatbredie – eg Kreools! Die lewe kan nie beter nie.
DAG 3 HELL-BOURG NA CAVERNE DUFOUR (6,5 KM)
’n Koshuis in die wolke
Vanoggend het ons wéér twee maniere om te kom van Hell-Bourg tot by ons laaste bestemming, Caverne Dufour teen die hang van Piton des Neiges. Ons wou eintlik met dié skof een van Réunion se mees ongeskonde woude – die Forêt de Bélouve – beleef. Maar Hell-Bourg se mense het ons afgeraai – dele van die voetpad deur die woud is glo ’n modderpappery. Dus bly daar net een roete oor – soos die kraai na die platorand sou vlieg.
Ons is nie haastig nie en pak rustig op, geniet koffie en varsgebakte croissants by die boulangerie en gaan koop ook ’n bietjie voorraad aan vir wanneer ons Piton des Neiges gaan uitklim.
Die voetpad is weer net ons s’n en – net soos gister – word ons verras met boomryke paadjies vol varings en mos en, in die gebied tussen 1 400 m en 1 650 m bo seespieël, ook pienk orgideë. Op ’n hoogte van 2 155 m is ons bo die bome en draai om vir ’n uitsig oor Cirque de Salazie. Die terrein plat effe af. Ons volg ’n paadjie deur laaggroeiende bossiegoed. Net soos Suid-Afrika se fynbos is dié spesies van die windgeteisterde lawaplato ook gehard.
By Refuge de la Caverne Dufour aangekom, begroet ’n klompie stappers met mussies laag oor hulle ore getrek ons op die stoep en in die skraps gemeubileerde eetsaal. Hulle wag vir die gîte om oop te maak.
Die groot stappershut lyk soos dié in die Alpe, met groot slaapsale en gemeenskaplike eettafels. Waar dit dalk in afronding tekortskiet, vergoed dit met hartlike diens. Toe die deure oopmaak, waag die dapperes dit in die kouewaterstorte. Wonder bo wonder is gratis kookwater vir koffie beskikbaar. Maar die beste van alles: ons is bó die wolke! Met sonsondergang sit ek en Shaen op die rand van die eskarp – met ons aandete en ’n paar biere. >
DAG 4 CAVERNE DUFOUR NA CILAOS VIA PITON DES NEIGES (15 KM)
Ys in die trope
Twee uur voor sonsopkoms is ek en Shaen reeds goed op dreef teen Piton des Neiges se klippieshelling uit. Onder ons lê Cirque de Cilaos dig toegetrek onder ’n miskombers, met net hier en daar ’n rant of spitsie wat uitloer, soos eilandjies in ’n skuimende see.
Dis góéd koud bo. Hier, op 3 070 m bo seespieël, vries ons asems en knars die ys onder ons voete. Met dié onbelemmerde uitsig kan ek die eiland se eiesoortige geologie mooi begryp: Die drie valleie ( cirques) lyk saam soos ’n klawerblaartjie en hulle het ontstaan toe die enorme skuldvulkaan wat eens hiér was, ineengesink het.
Na die suide staan die 2 631 m hoë Piton de la Fournaise, een van die wêreld se aktiewe vulkane wat die maklikste bereik kan word. Réunion se ánder meerdagstaproete, die GR R2, verbind hom met die Piton des Neiges en strek dan verder oor die lengte van die eiland tot aan sy noordepunt – 140 km in totaal.
Al op die rotsknikkies langs kan ons die silhoeëtte van nog stappers uitmaak en die klompie wat nog in aantog is, se koplampies verlig die berg soos ’n Kersboom.
Die duisternis swig voor ’n diepblou hemel, gevolg deur ’n pienk skynsel van sonsopkoms. Cirruswolke vang die eerste strale en verander in kwashale van helderoranje en rooi. Oral groet vreemdelinge mekaar met ’n breë glimlag.
Ons stap nog ’n rukkie op die spits rond en keer dan terug na Caverne Dufour vir ontbyt, gevolg deur die heel laaste skof – terug tot onder in Cilaos.
Ons is skaars ’n paar dae terug in SuidAfrika toe die nuus breek: Piton de la Fournaise is aan ’t uitbars! Ek wil met alle mag sommer weer op ’n vliegtuig spring om dáái skouspel te beleef. Én dan sommer die GR R2 gaan stap…