Weg!

BAARSVANG BY CLANWILLIA­M

Die jaarlikse Clanwillia­m Winter Bass Classic is ’n visvangbon­anza waar oud en jonk kat-en-muis speel met die Clanwillia­mdam se bekendste glibberige inwoners.

- WOORDE EN FOTO’S SVEN HUGO

“Almal praat teen ’n honderd kilometer per uur oor wat môre se vangs gaan bring, en elkeen weet hy weet die beste. Dis ’n jolige affêre waar visvangsto­ries en dubbels die ronde doen.”

BYT HULLE AL? (oorkantste blad) Hengelaars is ’n gretige lot – fyn aandag word gegee aan hulle gereedskap: van die lyn, aas en visstok tot die sleepwaent­jie en voertuig om die boot te vervoer. Elke span moet teen die einde van die kompetisie besluit watter vis hulle wil inweeg vir die boedel- of enkelkateg­orie – groot geld is op die spel!

Daar gloei ’n volmaan in die Augustusko­ue bo die spits van die Sederberg. In Clanwillia­m aan die voet van dié bergreeks ritsel geen blaar nie en die maanlig skyn silwer op die swart laken van die Clanwillia­mdam.

By die De Kelder-restaurant op Clanwillia­m, nie ver van die dam af nie, praat vissermann­e ernstig oor visvangsak­e, soos ’n groep ekonome wat die mikro-ekonomie ontleed. “Kyk net daai maan... mmm, belowend!” sê die een. “Nee. Dam te vol. Water te koud. Maar jy weet nooit nie,” sê ’n ander. Vir nou hang die baars nog onverstoor­d in die hoekies en baaie van die dam, in die vlak modderige water wat hulle verkies. Môre word hier visgevang. Of altans, dis die plan.

Die groep van sowat 60 begeesterd­e hengelaars is by De Kelder om te registreer vir die jaarlikse Clanwillia­m Winter Bass Classic by die Clanwillia­mdam, wat al sedert 1989 aangebied word. Moenie die Winter Bass Classic met die Summer Bass Classic verwar nie. Albei toernooie vind by dié dam plaas, maar die wintertoer­nooi lok die hardebaard­e, die meeste van hulle beroepsvis­sermanne met Springbokk­leure vir baars vang.

Ek weet bra min van visvang af, maar op die oog af lyk die registrasi­eproses vir my baie soos dié van ’n hardloop- of fietsryres­ies, behalwe vir die kroeg hier neffens die tafel waar jy ’n kruisie langs jou naam maak. Elke deelnemer is reeds geklee in die keps en hemp wat hulle môre gaan dra. Op die hemde pronk visvanghan­delsmerke in groot, helder letters: Rapalla, Bassing, Varkenelli Customs, Humminbird, Yamaha, Berkley... Een ou het ’n tatoeëerme­rk van ’n onuitkenba­re vis op sy voorarm. Almal praat teen ’n honderd kilometer peruur oor wat môre se vangs gaan bring, en elkeen “weet” hy weet die beste.

Dis ’n jolige affêre waar visvangsto­ries en dubbels die ronde doen, veral wanneer daar gebie word op wie môreoggend eerste kan wegspring om sý plekkie op die dam vir homself toe te eien – dit kos R1 500 vir dié voorreg. En bewaar jou siel as jy op ’n kol vang waar ’n ander span reeds dobber.

Ten spyte van die vorige aand se manewales is die spanne van twee per boot klaar op die water toe ek douvoordag by die Clanwillia­mdam-kampterrei­n inry en langs die oewer agter ’n trop 4x4-bakkies stilhou. Hier roer nie ’n bries nie en die lug is eenvormig blou.

’n Eenmanwoon­waentjie met ’n paar gazebo’s rondom is die sentrale punt vir vanjaar se Classic. Die waentjie het ’n uitvoutafe­ltjie waarop ’n weegskaal staan; dis die eerste stop vir deelnemers wat van die water af oewer toe jaag om ’n vis in te weeg. Die vis se gewig word onder die spannaam in ’n rekenaar gevoer en die resultate word op die grootskerm aan die agterkant van die waentjie vertoon – alles regstreeks.

Maar dinge is nie so eenvoudig nie. Spanne moet besluit of hulle hulle eersteprys­vangs wil inskryf in die afdeling vir die grootste vis of wil uithou vir die boedelprys waar jou grootste twee visse se gewig saam tel. Dis die een of die ander. Die swaarste vis wen R10 000; die span met die swaarste twee visse kry R20 000. Visvang is dus nie net geduld en dissipline nie, maar ook ’n goeie dosis intrige... The Bold, the Bass and the Beautiful.

Op die witbord teen die waentjie word die grootste vangs in kokipen geskryf. Die gewig van die swaarste vis in die vorige toernooi is nie heeltemal uitgevee nie en teen 3,4 kg was hy blykbaar ’n bielie. Die swaarste baars wat nóg in Suid-Afrika gevang is, het die skaal op meer as 5 kg getrek. Dit was in die Theewaters­kloofdam, maar die Clanwillia­mdam word deur baie as die topbestemm­ing in die land vir baars vang bestempel.

“N-e-e-e-e-e, dis nog vroeg in die game,” sê Jacques Aproskie, bestuurder van die nasionale juniorbaar­svisvangsp­an, toe ek vra of iemand al ’n vis ingeweeg het. Dis 9 vm. en die meeste ouens is al twee uur lank op die water. “Daar’s nog ’n hele twee dae se visvang oor,” sê Jacques. Hy weeg vandag en môre die visse in en maak seker almal hou by die reëls.

Al wat meer geduld verg as visvang is om te kýk hoe ouens visvang. Die bote sirkel soos haaie om die dam en af en toe sny ’n visstok met ’n swiesj deur die lug, maar niemand het al ’n vis oewer toe gebring nie.

Die meeste spanne vang waarskynli­k nader aan waar die Olifantsri­vier by die Clanwillia­mdam invloei, suidoos in die Kaap se rigting, verduideli­k lede van die nasionale juniorvisv­angspan, Luke Pelser (15) van Stanford en Ethan Elinhorn (15) van Tableview. Hulle help die naweek met klein takies, soos om die geweegde visse in tenks met suurstofry­ke vars water te sit voordat hulle weer vrygelaat word. Dit hou die visse gesond voordat elkeen wat aan die hoek beland het, teruggaan dam toe.

Ethan en Luke raak net so begeesterd >

oor die eienaardig­hede van ’n dam soos branderpla­nkryers oor branders. Luke ken die inhamme van die damme by Stanford so goed soos familie, en Ethan weer die damme rondom Kaapstad – en as die twee oor en weer kuier, deel hulle geheime oor hulle viswaters. Die ouer vissermann­e is meer geheimsinn­ig.

Jy benodig allerhande gereedskap om te kan vis vir baars. ’n Visstok, ja, maar jy kan nie sommer kaalvoet ingooi van die strand af nie. Daar is ook die kwessie van ’n boot, ’n sleepwa vir die boot en ’n voertuig wat die sleepwa en boot kan sleep. Ja, sal party mense vir jou sê, al wat jy kort, is ’n vishoek en aas en ’n knertsie geluk, maar jy kan ook die Comrades in plakkies hardloop, sou jy wou.

Hayden Poulter van Knysna, ’n deelnemer en semi-profession­ele visserman, verduideli­k dat jy, soos met enige sport, self besluit hoeveel geld jy op toerusting wil uitgee.

Hayden en sy spanmaat, Brendan Gravenor, van Gauteng, vang vanjaar op ’n Thunderbir­d-boot met ’n 200 Pk.-V-Max-enjin, ’n boot wat meer lyk soos ’n Formule 1-kar sonder wiele as enigiets anders. “Jy kan goedkoop, minderwaar­dige toerusting gebruik, maar jy kry die meeste uit goeie toerusting,” sê Hayden.

Team Spro Outdoors 360, Hayden en Brendan se span, vang ook met Falcon-visstokke en fluoorkool­stoflyn, en die meeste van hulle gereedskap kom uit Amerika of Japan, wat die beste visvangger­eedskap produseer, verduideli­k Hayden. “Dis maklik ’n miljoen rand wat op die water dobber,” sê Jacques toe ek hom later oor die bote se pryse uitvra.

Vir ’n beroepsvis­serman is geluk ’n vloekwoord. Om byvoorbeel­d nasionale kleure in baarshenge­l te verwerf is gewoonlik ’n proses van ongeveer vyf jaar waar jy heeltyd onder die land se bestes moet eindig. “Enige ou kan een keer ’n vis vang, maar dit verg talent om dit konstant oor vyf jaar te doen,” sê Jacques. “En die laaties doen goed – daar’s ’n paar juniors wat die ouer manne pak slae gee.”

Baarsvisva­ng is meer van ’n kat-en-muisspel as enige ander visvangspo­rt, juis oor ’n mens met kunsaas vang. “Jy moet die vis uitoorlê,” meen Jacques. “Soms sien jy hoe lê daai lure vir 10 minute en hoe die vis net kyk,” sê hy, “dan raak ’n mens paniekerig.”

Hayden verduideli­k dat ervaring en vernuf van jou ’n topvisserm­an maak, maar dat geluk soms van jou ’n wenner kan maak. “Jy moet die regte besluite neem, by die beste plekke gaan visvang en nie ’n belangrike vis aan die lyn verloor nie,” sê hy. “Die topvyfouen­s by die toernooie is gewoonlik altyd dieselfde ouens.”

Die eerste dag se visvang is moeilik as ’n mens na die geskerts en geskel onder die ouens en vroue luister: “Jy weet wat hulle sê: ‘One’s better than none’” en “Ons moes net reguit na ons spot toe gegaan het,” hoor ek hoe brom een of twee. “Ons moes ge- stick het met gholf.”

Rian Aproskie, Jacques se tienerseun, help ook om die visse in die tenks vry te laat en roep my nader. Ek moet gou ’n foto kom neem voordat hy ’n vis laat gaan. “Hier’s hy, die wenvis,” sê hy sonder goeie rede, behalwe dat die vis effe groter as die res in die tenk lyk, en laat die modderige outjie sag uit sy hande gly soos ’n koekie seep in ’n vuil bad. Die vis kyk vir ’n sekonde of twee na ons en sink weg eerder as wat hy spartel. Die enigste tyd dat die baars ’n bohaai maak, is wanneer hulle geweeg word...

Die visse vandag is klein en min, maar dis nog vroeg in die game, soos Jacques sê. Die meeste deelnemers gaan vanaand terug na De Kelder om oor die dag se vangs – of verlies daaraan – te praat, maar ek is moeg en my vel en oë is rooi van die son... en ek was nie eens op die water nie. Op pad huis toe ry ek verby die gazebo waar vissermann­e met arms gevou na die grootskerm kyk met die dag se resultate. In die laatmiddag­son sing Journey oor die luidspreke­rs, “Do-o-o-n’t stop believin’!”

“Van die tien bote wat voor die toernooi op die dam kom vang het, het net een span ’n vis gevang,” vertel Hayden. Swarries, die Old Boys, die Dopskiet-span, Team Vega Sandveld Aartappels, almal het die naweek gesukkel, maar, soos Hayden filosofeer, as een sukkel, sukkel almal en die beste span sal bo uitkom.

Dag 2 is in een woord teleurstel­lend. Daar is oomblikke van intrige met spanne wat moet besluit in watter afdeling hulle die grootste vis gaan inskryf, maar soos die organiseer­der, Vincent de Boer, later by die prysuitdel­ing sê: “Dit was van die moeilikste dae wat ek al ooit op die water beleef het. Gelukkig was dit pret om met die boot te ry.”

Die grootste vis weeg 2,4 kg, wat vir Rowan Timmer en Greg Schluep van die Varkenelli­span R10 000 in die sak bring. Die sogenaamde bag prize vir die twee swaarste visse saam (5,2 kg) word deur die einste Hayden >

en Brendan van Spro Outdoors 360 gewen – hulle is R20 000 ryker. “Ons was gelukkig om een groot vis vroeg op die eerste dag te vang,” sê Hayden en ek glimlag effens oor die gebruik van die woord “geluk”.

“Dis nie moeilik om vir agt of tien uur per dag vis te vang nie,” verduideli­k hy toe ek vra wat ’n mens doen om besig te bly op die water as die vis nie byt nie. “Soms voel dit vir my soos tydmors om so te staan en wag vir iets wat waarskynli­k nooit gaan gebeur nie. Dan beweeg jy na ’n ander plek toe en maak ’n plan,” sê Hayden.

Geluk, geduld, dissipline, teleurstel­ling, deursettin­gsvermoë... Dis alles ook deel van die groter game, wil ek vir Hayden noem voordat hy koebaai sê, maar hy weet klaar: As jy geduldig wag, is daar nog baie vis om te vang.

Vir meer inligting oor die toernooi soek vir “Clanwillia­m Winter Bass Classic” op Facebook. Die datums vir vanjaar se toernooi is nog nie vasgestel nie, maar die kans is goed dat dit weer in Augustus sal plaasvind. Hou die Facebookbl­ad dop. Skryf in by

weighmaste­rs.net – dit kos R1 800 per span.

 ??  ?? WAAR HOU DIE VIS? Kenners meen die Clanwillia­mdam in die Olifantsri­viervallei is een van die topbestemm­ings in Suid-Afrika vir baars vang, maar jou kanse om een aan die lyn te kry is hoegenaamd nie ’n uitgemaakt­e saak nie.
WAAR HOU DIE VIS? Kenners meen die Clanwillia­mdam in die Olifantsri­viervallei is een van die topbestemm­ings in Suid-Afrika vir baars vang, maar jou kanse om een aan die lyn te kry is hoegenaamd nie ’n uitgemaakt­e saak nie.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? BOSKLOOF SWEMGAT
BOSKLOOF SWEMGAT

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa