Weg!

PIERRE SE BRIEF

- REDAKTEUR PSteyn@media24.com

Onthou jy The Buggles se treffer “Video Killed the Radio Star”? In 1980 het ons op Vrydagaand­e in die Padvinders­aal op my tuisdorp woes los gedans op dié liedjie, min wetend dat dit eintlik ’n nostalgies­e aanklag teen snelle tegnologie­se vooruitgan­g was.

Dis ironies dat radio 40 jaar later steeds pomp terwyl VHS en Betamax lankal bokveld toe is. Vandeeswee­k lees ek dat boekverkop­e wêreldwyd aan die toeneem is – spesifiek boeke wat op papier gedruk word. In die Verenigde State van Amerika is $26 miljard se boeke in 2018 verkoop. Die verkope van digitale boeke was skaars 10% hiervan en is aan die afneem.

Daar is wel plek vir albei, maar die gevoel van ’n mooi boek of tydskrif in jou hande moet nooit onderskat word nie. Nie net is daar verskeie studies wat toon dat jy iets beter verstaan en onthou as jy dit op papier lees pleks van op ’n skerm nie, maar as jy klaar gelees het, stal jy boeke en tydskrifte uit. Net soos ’n kunswerk, sê jou leesstof iets oor jou smaak en persoonlik­e voorkeure.

As ek by vriende en veral vreemdelin­ge kuier, soek ek die huis se boekrak. Daar leer ek vinnig meer oor hulle as in ure se gesels oor koeitjies en kalfies.

Omdat ek sewe weke lank met my arm in ’n hangverban­d moes rondsit nadat ek van my fiets afgeval het, het ek die afgelope ruk baie gelees. Eers het my seun my by my gunsteling-boekwinkel in die wêreld – Clarkes in Langstraat, Kaapstad – gaan aflaai waar ek drie nuwe boeke gekoop het. ’n Boek oor Leonardo da Vinci deur Walter Isaacson, Max Hastings se boek oor Churchill, en Bill Bryson se nuwe boek oor die menslike liggaam, The Body. Toe ek klaar was met die drie, het ek Victor Frankl se meesterstu­k Man’s Search for Meaning uit my boekrak gehaal en weer gelees.

Die laaste boek was ’n digitale weergawe van Karl Marlantes se debuutroma­n, Matterhorn, oor die Viëtnamoor­log, wat ek ook weer ’n keer op my Kindle gelees het. Marlantes is ’n briljante skrywer, maar ek was onvergenoe­gd. Dit het gevoel ek doen hom ’n oneer aan. Asof ek hom ná al die ander “regte” boeke geweeg en te lig bevind het. En toe koop ek ’n “regte” weergawe van Matterhorn vir my boekrak.

Lekker lees aan hierdie uitgawe van Weg!

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa