MENSE SE LENSE
LESERSFOTO’S • FOTOGRAFIEWENKE • PORTEFEULJE
Die Weg- lesers het hulleself weer vandeesmaand oortref met foto’s van ’n berghaanpaartjie, ’n ongewone kokerboomportret en ’n beneukte buffel. Klink een van dié dalk soos jou foto?
WERNER REYNEKE
IG: @w_reyneke Nikon D500
Nikon 600 mm-lens
WERNER VERTEL: Hierdie is naby die Ganab-watergat in die NamibNaukluft- nasionale park geneem.
Ek het die kameelperd vroegoggend gesien en besluit om laatmiddag terug te gaan vir nog foto’s. Die toneel was mooi met die son wat agter die kameelperd sak.
TOAST SÊ: Goeie fotograwe weet dat beplanning – en ’n bietjie ekstra moeite – dikwels vrugte afwerp. Indien jy ’n paar dae op ’n plek oorbly, het jy tyd om te kyk waar die diere loop en waar die treffendste landskappe is. Teen laatmiddag kan jy sien watter van dié landskappe mooi belig word.
Op hierdie manier kan jy die stukke van ’n legkaart bymekaar begin sit – en dan wag vir die regte oomblik om die prentjie te voltooi. Jy’t steeds geluk nodig, want Werner sou nooit 100% seker kon wees dat die kameelperd wél teen die goue uur op die betrokke rant sou verbyloop nie. Maar hy’t homself die kans gegun deur die foto te gaan soek.
Die elegante proporsies van ’n kameelperd sorg vir ’n sterk silhoeëtfoto, en dié een is perfek! Dit lyk asof ’n kunstenaar dit geteken het en byna elke kenmerkende liggaamsdeel is duidelik sigbaar – van die stert tot die ore en horinkies. Dis net die hoewe wat effens versteek lê teen die horison, maar dit pla nie. Die komposisie volg rofweg die reël van derdes, en daar is genoeg ruimte voor die kameelperd sodat hy spasie het om na te loop.
Dis netjies verby, Werner – en daarom wen jy vandeesmaand die kamerasak!
CHRIS COLVERD
Nikon D500
Sigma 150-600 mm-lens
CHRIS SKRYF: Ek het dié berghane in die Krugerwildtuin afgeneem. Ek en my vrou, Merle, was op vakansie saam met my seun, Chris, en dogter, Sam. Dit was die eerste keer in ’n lang tyd wat ons almal saam was, en het dit baie geniet.
TOAST SÊ: Die Kruger is wraggies ’n gawe plek vir ’n gesinsvakansie. Hemels.
Hierdie is ’n berghaanwyfie wat met haar rug na die kamera sit – haar vere het ’n liggrys paneel in elke vlerk.
Die berghaanwyfie is ook effe groter as die mannetjie. Sy is die ster van die foto – die oogkontak en die weerkaatsing van die son in haar oë maak die foto besonders.
Ek hou baie van die simmetrie wat gevorm word deur die koppe wat in teenoorgestelde rigtings gedraai is. Dis ’n ongewone komposisie wat byna soos ’n wapenskild lyk.
Wanneer jy ’n foto vir “Mense se lense” stuur, maak seker jy kies die regte een. Ek weet dis moeilik om net een te kies; vra dus jouself af: Watter foto bied iets unieks? >
MELANIE MASKE
IG: @africanmamaske Nikon D850
Nikon 200-500 mm-lens
MELANIE SKRYF: Dié foto is geneem in die Sentraal-Kalahari-wildreservaat in Botswana. Dit was ons eerste besoek aan die reservaat en ons het die eerste dag afgesluit met skemerkelkies by Piperpan.
Daar was net ’n paar springbokke in die ronde, totdat dié leeuwyfies kom water drink het. Die goue uur het alles verskaf wat die foto nodig gehad het.
TOAST SÊ: “Sentraal” is een van ons vasteland se ware wildernisgebiede. Dit maak nie eens saak watse wild jy daar sien nie, want die atmosfeer en “vervelige” diere soos springbokke en tarentale is genoeg. Dis net jy en die natuur.
Soms staan die tyd egter stil en iets besonders gebeur. Soos vier leeus wat spesiaal opdaag sodat jy hulle kan dophou. Hulle drink, kyk rond, drink nog ’n bietjie en verkas.
Baie dankie, Melanie, dat jy hierdie besonderse oomblik met ons kon deel!
EMILE VAN ZYL
Nikon D7100
Nikon 200-500 mm-lens
EMILE SKRYF: In 2019 het ons 30 dae lank in die Kgalagadi-oorgrenspark deurgebring. Hierdie breëkoparend is afgeneem naby Gemsbokplein op pad na Mata Mata.
TOAST SÊ: Ek hou baie hiervan! Dit lyk asof iemand die breëkop op die skouer getik het en hy nou skielik omkyk om te sien wie hom gesteur het.
Die Kgalagadi is een van die beste parke om ons groot roofvoëlspesies te sien en af te neem. Hulle sit dikwels op prominente plekke in veral kameeldoringbome wat al teen die rivierbeddings – waar die paaie ook loop – staan.
Boonop sit hulle gereeld in droë bome, wat jou kans op ’n “skoon” skoot verbeter – daar’s minder takkies en blare wat in die pad kan wees. Hierdie breëkop sit eintlik “verkeerdom,” want tipies sou jy hom van voor af wou afneem. Hulle kyk ook nie altyd om wanneer jy wil hê hulle moet nie, maar hierdie een het saamgespeel.
Die oë is altyd belangrik, en Emile kon daarin slaag om die arend se deurdringende kyk (behoede die stomme meerkatte...) vas te vang. Hy lyk ’n bietjie soos ’n kwaai onderwyser!
DALEEN VAN AS
Nikon D3100
Nikon 55-200 mm-lens
DALEEN SKRYF: Ons was in die
Kaap Vidal-deel van die iSimangaliso-vleilandpark. Dit was die eerste keer in 30 jaar dat ons weer daar gekuier het.
Dié buffel was befoeterd! Hy het onverwags verskyn en toe op en af getrippel en na ons kant toe gesnork. Ek het die foto geneem net toe hy omdraai en kop oplig.
Die park is ’n fantastiese plek om foto’s te neem, want om elke draai wag iets anders op jou.
Die paaie en kampe is ook in ’n goeie toestand.
TOAST SÊ: Jy kan maar “asseblief” sê nes jy wil, maar ’n buffel gaan nie vir jou glimlag net omdat jy mooi vra nie. Dis in hulle wese om nukkerig te wees en Daleen se foto vang hierdie knorrigheid goed vas.
Buffels kan moeilik wees om af te neem, veral in helder sonlig waar die kontras tussen hulle swart vel en die agtergrond groot kan wees. Om hulle korrek te belig kan dus uitdagend wees. Maar op ’n bewolkte dag soos dié is dit effens makliker, want die kontras is minder.
Ek hou baie van die geheel en al groen agtergrond – die lug sou in elk geval grys gewees het. iSimangaliso se ruie, tropiese plantegroei is kenmerkend – dis dadelik duidelik dat hierdie foto byvoorbeeld nié in die Kruger geneem is nie.
Die oogkontak is deel van die sukses van die foto, en dan daardie imposante horings wat menige Bosveld-buffelboer jaloers sal maak.
Goeie werk, Daleen! >
MICHELLE PRETORIUS
Nikon D7500
Nikon 70-300 mm-lens
MICHELLE VERTEL: Ons het ’n week lank op Jongensfontein vakansie gehou. Ons huisie was so te sê óp die rotse en ek het elke dag op die stoep gesit en die dassies dophou.
Hierdie een was ’n bietjie ver van my af, maar ek kon hom bykom met my Nikon 70-300 mm-VR-lens.
Dis eers toe ek die foto’s ná die tyd opknap dat ek iets langs die dassie gewaar. Ek zoem toe in en sien hierdie koggelmander by hom!
TOAST SÊ: Kyk nou net hierdie onpaar maatjies! Amper soos ’n o.13 B-span-voorryspeler en ’n biblioteek prefek. Dit lyk asof die koggelmander en die dassie ou vriende is en op die klip oor ditjies en datjies sit en gesels. Of dalk is hulle nié vriende nie en is die koggelmander – dit lyk soos ’n suidelike rotskog gelmander – suur vir die das omdat hy op sy klip sit (en dassies ruik hoeka nie vars nie...).
Hoe ook al: Elke leser sal ’n ander storie in hierdie foto lees. Ek hou daarvan dat die twee diere duidelik uitstaan teen die agtergrond. Veral ’n plat ding soos ’n akkedis wil jy graag in profiel afneem – as jy hom selfs net effens van bo af afneem (eerder as van die kant af), dan lyk ’n akkedis soms te “plat” teen die klip waarop hy sit.
Wat’s nog lekker hier? Kyk fyn na die kleure van die koggelmander: die blou kop eggo die blou lug, en die oranjebruin lyf eggo weer die oranje klipmos.
Oulik.