FOTOPORTEFEULJE
Die Galápagos-eilande is – grotendeels danksy Charles Darwin se studie van die spesies wat slegs hier voorkom – vir die meeste natuurliefhebbers ’n plek wat jy beslis eendag wil besoek. Die toergids en fotograaf Albie Venter het onlangs dié voorreg beleef en deel sy foto’s met ons.
Die Galápagos-eilande is ongeveer 1 000 km van die kus van Ecuador af. Uit die hemelruim is dit dalk net spikkels rots in die enorme Stille Oseaan, maar hier woon seldsame voëls en diere. Van hulle kom nie net op die eilandgroep voor nie, maar is beperk tot één eiland! Byvoorbeeld die skaarsste pikkewyn ter wêreld, die skaarsste seemeeu, die enigste nagseemeeu, die enigste see-iguana…
Hierdie eilande is biologies van die interessantste plekke op aarde en lok wetenskaplikes, ekoloë en toeriste sedert die 1830’s toe Charles Darwin dit besoek het.
Albie Venter is een van dié besoekers. Hy is ’n toergids en fotograaf, en die skrywer van ons voormalige “Veldfeite”-rubriek.
Sy maatskappy, Africa Unlocked, bied ook toere op versoek na internasionale bestemmings soos die Galápagos-eilande en die Amasonekom in Ecuador.
Die eilandgroep bestaan uit 13 groot eilande, 6 kleineres en duisende eilandjies en rotsriwwe. Mense woon op net 5 van die eilande. “Dis glad nie kommersieel nie,” vertel Albie. “Toerisme word goed bedryf en tot klein dele van die eilande beperk.
Hier is nooit te veel mense nie.”
Seeswerwer
Hierdie is ’n pronkfregatvoël in vlug. Dié voël is groot met ’n vlerkspan van tot 2,3 m. Die twee spesies wat op die eiland aangetref word – groot- ( great frigatebird) en pronkfregatvoël
( magnificient frigatebird) – het meestal donker vere en ’n mooi gesplete stert. Dié wyfie se kop sal mettertyd donker word, maar die pens sal wit bly. Die mannetjies het ’n kenmerkende rooi keelsak wat in die broeiseisoen groter word.
HOE? Nikon D4; 600 mm-lens; lensopening f4; sluiterspoed 1/6 400ste van ’n sekonde; ISO 1 250. >
Dis myne!
Toe Albie een oggend op die Baltraeiland was vir brandstof, het hy dié bruinpelikane naby die hawemuur sien visvang. Hulle is oorval deur grootbruinsterretjies, op soek na enige kos wat die pelikane se groot snawels gemis het. Die pelikane het hulle snawels in die water gedompel om die sterretjies te systap.
HOE? Nikon D4; 600 mm-lens; lensopening f8; sluiterspoed 1/2 000ste van ’n sekonde; ISO 1 600. >
Sonvanger
Galápagos se land-iguana woon in die droë lae lande van die Fernandina-, Isabela-, Santa Cruz-, North Seymour-, Baltra en South Plaza-eiland.
Dis die grootste bevolking van die drie landspesies op Galápagos en steur hulle min aan mense, wat goeie nabyfoto’s moontlik maak.
HOE? Nikon D4; 600 mm-lens; lensopening f5.6; sluiterspoed 1/800ste van ’n sekonde; ISO 1 000. >
Die bruinpelikaan bied op Galápagos en in die grootste dele van die Amerikas goeie fotogeleenthede, veral aan ’n Suid-Afrikaner wat nie maklik weer die kans gaan kry om dié eienaardige voël af te neem nie.
HOE? Nikon D3S; 600 mm-lens; lensopening f7.1; sluiterspoed 1/1 600ste van ’n sekonde; ISO 800. >
Dis koud, man!
Die see-iguana kom net op Galápagos voor en is een van dié eiland se mees charismatiese spesies. Terwyl landiguanas vleisvretende aasdiere is, eet see-iguanas meestal net seewier. Groter mannetjies sal swem en tot 30 m diep duik vir kos, terwyl kleiner mannetjies en wyfies met laaggety in die tussengety sal kos soek. Hulle verloor baie liggaamshitte in die water en herwin dit deur op die strand se lawarotse te bak.
HOE? Nikon D4; 600 mm-lens; lensopening f8; sluiterspoed 1/1 600ste van ’n sekonde; ISO 1250.