Brief uit Serowe
Serowe is ’n uitgestrekte dorp in Botswana se Sentrale Distrik. Leanne Rencken het daar grootgeword.
Ek en my twee broers was in die koshuis in Pietersburg (nou Polokwane), ’n goeie 350 km en ’n grenspos ver. Saam met ’n hand vol niggies en neefs het ons net elke drie maande huis toe gekom.
Wanneer jy só lank uit jou tuisdorp weg is, is dit maklik om met jou terugkeer te voel jy het nie wortels nie.
Dinge kan verander in jou afwesigheid. Ek het begin lysies maak van dít wat konstant gebly het, soos sekere winkels waar ons verbygery het op pad Serowe toe, of die aantal bek-enklouseerhekke waardeur ons moes ry, en ’n paar gunstelingsemausu’s (klein kiosks). Dié lysies van bekende gesigte het my gouer laat tuis voel.
Jare later, as volwassene wat in Johannesburg woon en werk, het hierdie rituele selfs belangriker geword. Wanneer ek Serowe toe ry om my ouers te besoek, begin ek dadelik weer items op my ou lysies afmerk, beginnende met die Limpoporivier. Dis belangrik om te stop op die enkelbaanbrug wat oor die rivier span uit te klim en die “magtige” Limpopo te bewonder. Of ek nou alleen ry, of saam met my twee broers, ons sê altyd vir mekaar hoe indrukwekkend die rivier is, selfs al is dit by tye kurkdroog.
Dan sit ek ook graag vir ’n oomblik, met die ruite afgedraai. Ek onthou die swart-wit foto van my ouma en oupa, geneem in die vroeë 1950’s. (Oupa is in Botswana gebore en het in 1902 as tweejarige saam met sy ouers Serowe toe verhuis.) Oupa sit met sy rug teen ’n boom, Ouma leun teen hom. Op haar skoot is ’n baba – my ma, piepklein, met Ouma se hand wat die son beskermend weghou.
Dié is nie sigbaar op die foto nie, maar ek weet dit staan ook daar: hulle Bedford-vragmotor, staalraamkampstoele, G&T’s en ander kampgoed. Die oewer van die Limpopo was een van hulle gunsteling-uitspanplekke.
Met elke tuiskoms merk ek hoe Serowe al weer oor sy voorheen afgebakende grense begin rank het. Die “nuwe” hospitaal is nie meer aan die rand van die dorp nie – dié word nou deur iets anders gemerk, dalk ’n nuwe skool.
Oor die Kers- en Paastyd is hier altyd ’n polisieteenwoordigheid onder die groot mopanieboom daar waar die hoofpad ’n draai maak soos jy die dorp binnery. Stop. Dumela. Lisensie wys. Tot siens.
Ek glimlag wanneer ek deur die laning bome ry wat my pa help plant het in die vroeë 1990’s: jakarandas, flambojante en seringbome. Hulle eerste jare was moeilik; hulle moes vertroetel word en is toegespan sodat die bokke en donkies hulle nie verniel nie. Nou staan hulle groot en fier langs die hoofpad asof hulle nog altyd daar was. ’n Dekade gelede moes die pad breër gemaak word, maar hulle het dit oorleef: Die pad is só gebou om die bome te akkommodeer.
Ek hou ook altyd ’n paar pula byderhand om ’n sakkie vars manyonyomane (vetkoek) by die Goodhope General Dealer te koop.
Wanneer ek by die Serowedam verbyry, onthou ek die ou motswiri (hardekool) wat daar gestaan het – dalk is hy nog steeds daar, maar ek is te bang om te gaan kyk. My ma het my eenkeer soontoe gevat – dit was destyds ’n plek waar die dorpsmense ontmoet het wanneer gewigtige sake bespreek moes word.
Die Bamangwato-stam onder leierskap van die Khamafamilie het Serowe gestig toe hulle vroeg in die 1900’s hier kom woon het. Wanneer ek verby die kgotla, die koninklike begraafplaas en die standbeeld van sir Seretse Khama ry, erken ek dié pioniers met ’n saluut. Hierdie bakens staan almal duskant die Serowekoppie; my familie woon in die valleitjie anderkant die koppie.
As kind het ek soms met die sementpad teen die koppie uitgedraf, verby die hotel, tot bo. Daar sou een van die Katolieke nonne ons soms wys hoe om tai chi-bewegings uit te voer.
Ek waai ook so in die ry vir al my familie se besighede – van die hede en uit die verlede: Billy Woodford se lekkernykoswinkel, Dennis Service Station, Aunty Pat se winkeltjie Sunvalley, Oupa en Ouma se algemene handelaar, my pa se kroeg en my ma se kleuterskole.
Toe my ma jonk was, het Ouma soms die Katolieke kerkdiens op die huis se stoep laat hou – sy het later priesters uit Ierland na Botswana gelok om te kom help met die kudde gelowiges. Later is die kerk uiteindelik gebou, tussen Oumahulle se huis en Thataganyane Rock. Die kerk staan steeds, en daarnaas is die boorgat gesink wat steeds help om ons tuin groen te hou wanneer die droë wintermaande die res van die dorp stowwerig laat.
Wanneer ek lanklaas by die huis was, sit ek soms op kantoor en kyk na my grootwordhuis op Google Earth. Met die kolle groen is dit maklik om te sien.
‘Met elke tuiskoms merk ek hoe Serowe al weer oor sy voorheen afgebakende
grense begin rank het.’