KAOKOVELD TOE
In die noordweste van Namibië wag die Kaokoveld, een van Suider-Afrika se beste 4x4-bestemmings. As dié streek se stof eers in jou ore kom lê het, hoor jy later niks anders as sy wildernisklanke nie. Haal diep asem en duik in, ons gaan Kaokoveld toe...
“Daar is min sulke plekke oor, en jy is hier om hierdie andersheid te ervaar en om jou ’n paar dae in ’n nuwe ritme te begeef.”
Af is die enigste pad wat daar is sodra jou bakkie eers daardie eerste, weifelende treetjie gee teen die (vir sommige) vreesaanjaende Vanzylspas af. Maar hou kop, volg die aanwysings van jou maat wat voor staan en die pad beduie. Sodra jy hierdie struikelblok oorkom, kry jy jou beloning. Jy ry die ooptes (grasvlaktes as daar reën in die somer geval het) van die Marienfluss binne. Skielik begin hierdie avontuur ook na vakansie voel. Jy volg jou toerleier se spore, en stop waar hy stop, soos by die Rooidrom, ’n dieseldrom wat al dekades lank hier ’n kruispad aandui. Daar draai julle konvooi suid. Oral om jou lê die Kaokoveld, ’n plek sonder selfoonsein, petrolstasies en die ander fieterjasies van jou bestaan by die huis.
Daar is min sulke plekke oor, en jy is hier om hierdie andersheid te ervaar en om jou vir ’n paar dae te begeef in ’n nuwe ritme, bepaal deur hoe die skurwe tweespoorpaadjies jou nuwe bande kou, hoe gereeld die konvooi stop om iets te bewonder: ’n ou marmermyn dalk, of ’n mooi staning sprokiesbome, wat herinner aan miniatuur-kremetartjies as jy vinnig kyk.
Verder vergeet jy van tyd, en wonder net wat vanaand in die potte op die kampvuur gaan prut. En hoe laat in die donkerswartnag, wanneer die sterre soos veraf stadsliggies bo jou glim, die laaste kole koue as gaan word, wat slaaptyd beteken.
Gebaande weë is skaars in die Kaokoveld met net die C43 wat ’n hoofroete genoem kan word. As jy uit die suide ry, kan jy die C43 (en hiervoor is ’n 4x2 met goeie grondvryhoogte genoeg) volg van Palmwag na Sesfontein en dan na Opuwo en verder noord tot by die
Kunenerivier, waar die pad doodloop by een van Afrika se wonderlikste plekke, die Epupawaterval. Maar alles wes van die C43 is slegs vir 4x4’s, en dan moet jy liefs ook jou GPS saamvat, en brandstof en drinkwater vir ’n week.
Suidwaarts ratel die konvooi oor soms klipperige terrein, soms sanderig, tot by die piepklein Orupembe. Hier koop jy koue koeldrank, want dis die enigste plek binne 100 km in elke koers waar jy hierdie voorreg het.
Padlangs sien jy dalk ’n paar springbokke, of twee skaars witborsjakkalsvoëls wat passerdraaie kerf deur die blou-blou lug. Jy waai vir ’n Ovahimba-man wat gesig wys, skielik, uit die bosse waar sy beeste wei. En jy wonder hoe maak ’n mens ’n bestaan hier? Vir jou, lugverkoel in jou viertrek, is dit ’n woesteny, maar vir die Ovahimba is dit huis. Dis jý wat vreemd en onvanpas is hier.
Die droë rivierlope is die Kaoko se goue drade. Die voertuie ry makliker in en langs hulle, en dis ook die habitat (water wat soms onder sand uitsypel, groot bome, groen stoppels) wat die wilde diere hier laat uithou teen die oorweldigende elemente.
Onthou, dis woestyn, en reën selfs skaarser as koue koeldrank.
In die Khumibrivierloop sien jy jou eerste kameelperde, en al ontwyk die legendariese woestynolifante en -leeus jou, vier jy elke klein diertjie wat jy sien. Ander riviere wink: Hoarusib, Hoanib... watter een is vir jou?
Tussendeur gaan lê die Kaoko se stof oral op jou vel, dit kruip selfs in jou ore in. (Nee, jy kan stort wanneer jy ’n week later in Swakopmund aanland.) Sodoende, mettertyd, hoor jy al hoe beter wat hy vir jou fluister: Daar’s plek vir jou hier ook, al is dit tydelik, kom kyk gerus. >