REISJOERNAAL: DIE GURNEYS KOM HUIS TOE
Op die laaste skof van hulle reis ry Patrick en Marie Gurney deur Malawi, Zambië en Zimbabwe voordat hulle uiteindelik voor hulle huis in Johannesburg stilhou.
“Marie en ons Hilux was die helde van hierdie reis. Sommige sal sê dis maklik om ’n Toyota te kry om meer as 50 000 km moeilike terrein baas te raak, maar dis ’n ander storie om ’n vrou te kry wat bereid is om 520 nagte te kamp!”
Malawi is ’n vreedsame land met vriendelike mense. Die Malawimeer wat stil en blou oor die landskap uitstrek, laat ’n rustigheid oor ’n mens neerdaal terwyl jy deur die platteland ry.
Dis November en snikwarm. Gelukkig het dinge by die Songwe-grenspos tussen Tanzanië na Malawi vlot verloop en ek was weer eens dankbaar vir die Carnet de Passage vir die Hilux.
Tans reis ek alleen (Marie het ’n paar dae gelede uit Selous, Tanzanië, na Johannesburg gevlieg vir sake) en die kampplek by Nkhatabaai se Sunga Moyo Campsite and Lodge is ’n lekker verrassing: Welige groen gras en groot bome wat in 36 ºC skadu bied. ’n Paar oorlandkampeerders vertel my hulle bly dreig om te waai, maar kom nie sover nie. Ek bly ’n volle vyf dae oor.
Ek en Marie was al ’n paar keer vantevore in Malawi, en daarom mik ek ná my kort verposing by Sunga Moyo suid om haar by die lughawe in Lilongwe op te tel en aan te stoot Zambië toe, om die Suid-Luangwa- nasionale park te besoek. Die rit Lilongwe toe is maar 375 km lank, maar dit neem my 6 uitputtende uur; die Hilux se remkussings het finaal ingegee en moet reggemaak word.
Luangwa se ontwykende luiperde
Van Lilongwe af is dit nog sowat 190 km (4 uur se ry) tot in die park, met ’n gladde grenskruising by Mchinji. Ons bly drie aande aan die oewer van die Luangwarivier by die Track and Trail River Camp – dis net vyf minute se ry van die park se Mfuwe-ingangshek af.
Elke kampplek het sy eie water, kragpunte en kookplek... hier’s selfs ’n buitelug-gimnasium! Maar die beste deel: Jy kan met ’n G&T by die swembad lê en die aksie op die rivier deur ’n verkyker betrag!
Maar toe verander die weer, met ’n lae bank wolke wat inrol en reën wat plek-plek uitsak. Dit het sake bemoeilik om die luiperds in die park te soek – die eintlike ding waarvoor ons hierheen gekom het. Ons het kilometers aaneen elke boom gefynkam, maar nie ’n enkele kolkat gewaar nie. Suid-Luangwa het darem wel ’n groot swerm rooiborsbyvreters opgelewer, en ook poekoes – die alomteenwoordige wildsbokke in die park.
Dis ’n unieke landskap: Wye vloedvlaktes, kronkelende hoefystermere en die savannegrasvlakte, met hier en daar mopanies, hardekoolbome, hoë ivoorpalms en worsbome.
Gemeet aan die meeste van Afrika se superparke is Suid-Luangwa klein – 9 050 km² – die Selous-wildreservaat wat ons in Tanzanië besoek het, beslaan byvoorbeeld 50 000 km², maar dit het ’n groot konsentrasie wild rondom die Luangwarivier. Die tariewe is ook billik: Ons toegang kos US$30 (R443) p.p. en kamp US$5 (R74) p.p.
Zimbabwe is volgende in ons visier, maar die 1 150 km na Livingstone moet in skofte verdeel word. Ons oornag die eerste aand by die Moorings-kampplek en doen die volgende dag die museum op Choma aan om te gaan kyk na die konstruksiemasjinerie wat in die 1950’s gebruik is om van die Gwembevallei se plantegroei ontslae te raak sodat dié laagte die Karibadam kon word. Toeka se tegnieke was nogal innoverend vir daardie tyd: buite die museum lê enorme ysterballe wat soos krale aan ’n dik ketting geryg en dan met twee kruiptrekkers in ’n reguit lyn oor die grond gesleep is. Alle bosse en bome in die pad van dié balle is platgevee. >
Zim se goeie teer
Zimbabwe is my geboorteland en sal altyd ’n spesiale plek in my hart hê. Dié mense weet van plan maak, en hulle is hulpvaardig en nederig.
Ons was in 2011 laas hier en merk op dat heelwat intussen verander het. Die winkels se produkvoorraad lyk goed en al die groot kettingwinkels het ’n vastrapplek gekry, maar om inkopies te doen bly steeds verwarrend: ’n Mens kan met ’n kombinasie van “effektenote”
( bond notes, ’n plaasvervanger wat ingetree het toe die regering in 2009 ophou Zimbabwiese dollars druk het) en Amerikaanse dollars betaal.
Van laasgenoemde kan ’n mens slegs vyftig per dag trek (omtrent die ekwivalent van R740). Maar toemaar, winkels aanvaar ook soms Suid-Afrikaanse rand!
Ons kom ook gou agter dat ons internasionale kredietkaarte by
Pick n Pay aanvaar word en Amerikaanse dollars in harde kontant kan jou brandstoftenk volmaak (hoewel dit eintlik onwettig is – dié dollars moet streng gesproke eers in effektenotas omgeskakel word.) Eenvoudig, nè? Dit klink chaoties, maar dit werk!
Ons ry Zim by Vic Falls binne en die toeristespore lê hier só dik vergeleke met die res van die Zimbabwe lyk dit soos ’n heel ander land. Cesare Braccioli, ’n vriend van ons, bly al 20 jaar hier, en hy speel gasheer en gids.
Ons skuif aan Hwange- nasionale park toe vir ’n paar dae van diere kyk. Ons het die afgelope paar maande deur nege Afrika-lande gereis, en in ag genome Zim se stormagtige verlede het dié land verbasend goeie teerpaaie. Op een punt ry ons selfs met ’n seksie van die padnetwerk langs waar tweespoorteerpaaie wat ’n halfeeu gelede gebou is, steeds begaanbaar is.
Hwange se Sinamatella-ruskamp is afgeleef maar netjies en daar’s tekens van opknapwerk. En wraggies – toe ons daar wegry, kruis ons paaie met ’n luiperd! Uiteindelik!
In Hwange kan ’n mens ’n piekniekplek as kampplek bespreek. Só slaan ons suid van Sinamatella by die Mandavudam se piekniekplek kamp op. Dis wel mooi hier langs die reservoir, maar ons sien geen wild nie en sal dit eerder as ’n middagete-aftrekplek aanbeveel.
Die Masumadam lewer egter ’n hele klomp olifante én ander wild op en ons besluit om twee aande hier te staan. Ander toeriste maak ook hulle opwagting, maar toe die son sak, het ons die plek vir onsself.
Ons volgende stop is by vriende in Bulawayo en ons woon die een aand ’n plaaslike mimiekuitvoering van Repelsteeltjie by. Dis fantasties om te sien wat met só min geld in die kunste vermag word. Sulke belewenisse laat my hart weer warm klop vir my geboorteland. Elke keer dat ek hier kom kuier, wéét ek sonder twyfel: dís waar ek hoort. Al die spore van my kinderjare, tot op die ouderdom van 17, lê hier – en daarmee saam soveel eerste ervarings... soos my eerste soen.
Ons laaste kuier in Zim is in die Matobo- nasionale park waar ons drie aande by die Mtshelelidam kamp. Die dam is vol en die plantegroei groen. Ek onthou toe my oudste broer jare gelede my pa se geliefde Rolleiflex-kamera in dié einste water laat val het, en die paniekerige gespook om dit uit te vis. Wonder bo wonder het die kamera daarna steeds gewerk!
Waar is die sjampanje?
Ons is vooraf gewaarsku oor ’n moontlike gesloer by die Beitbruggrenspos én dit is boonop nou Kersvakansie, maar genadiglik kom ons die oggend sonder enige drama deur. Ons het 9 nm. daar aangekom en ná 20 minute aan elke kant is ons deur – ek dink dis dalk ’n eerste!
Ek het byna vuurwerk en sjampanje verwag toe ons SuidAfrika ná byna 18 maande binnekom. Helaas was daar geen verwelkomingskomitee nie; net ek en Marie wat mekaar met ’n glimlag en trane gelukwens.
By Musina swenk ons oos vir ’n vinnige draai in die Kruger. Ons kamp ’n paar dae by Pafuri. Dis byvoorbeeld luuks om ’n keuse van restaurante binne ’n nasionale park te hê. Hier het ons ook teerpaaie; jy kan in jou eie kar ry en teen 15 km/h na diere kyk. Die Kruger is fantasties.
Ek en Marie sien Suid-Afrika nou deur ander oë. Hier’s goeie paaie, goeie diens en ons het toegang tot alles wat ons kan begeer: wyn, hummus, kaas en koeksisters... Daarby het ons ’n ryk kultuur wat ons nie altyd genoeg waardeer nie.
Ek dink Marie en ons Hilux was die helde van hierdie reis. Sommige sal sê dis maklik om ’n Toyota te kry om meer as
50 000 km moeilike terrein baas te raak, maar dis ’n ander storie om ’n vrou te kry wat bereid is om 520 nagte te kamp! Marie se taaiheid en toewyding het my ’n paar keer daarvan weerhou om tou op te gooi.
Dit verg uiters goeie kommunikasie om ’n reis soos dié deur te sien. Ons het oor byna alles onder die son gesels en ’n paar fantastiese musiekspeellyste saamgestel. (Jasmine Thompson se weergawe van “Rather Be” het Marie gered toe sy in Ethiopië wou ineenstort.
Saam het ons in die woestyn gedans, in die Rooisee gedryf, in hangmatte geslaap, oor 47 bergpasse gery, na berggorillas en sjimpansees gesoek en ware pelgrims in Jerusalem en
Lalibela gesien.
Jy ry, jy kook, jy maak skoon, jy lag, jy huil, jy kla en soms skree jy. Maar jy kry ook elke dag meer lief – sonder voorbehoud. >