Weg!

Brief uit Dordabis

Op reis deur Namibië midde-in ’n droogte het sy tot ’n belangrike insig gekom, skryf Sophia van Taak: As die boere nie moed opgee nie, durf toeriste ook nie.

-

Iewers op ’n plaas in die lies van die Langbeenbe­rg brand die laaste van drie vure. Die een was vir vleisbraai, nog een flonker vir later se waswater, en dié ene, die een wat nog hoog brand, is vir gesels. ’n Groot mot het pas met vaste koers die vlamme ingevlie’... sy einde tegemoet.

Omheen lê die veld stil. Vroegaand het tarentale nog geroep en gemsbokke deur die dor doringruig­tes geknars. Nou is dit net ek en die vuur hier. En ’n hoop brandhout wat nie suinig is nie – dié dat ek afsonderli­k donkie stook, uit die wind uit kon braai én nou vuurmaak op die ander punt van die stoep, van waar ek die berg se buitelyn nog net-net teen die duisternis kan natrek.

Na die noorde toe pronk ’n spitsie, dan ’n laagte, dan weer drie boggels. Die sterre roer nie. Niks roer nie, slegs die vlamme. My kop vat en los, vat en los gedagtes. Maar eintlik sit ek net – met my rugkant ysig koud, maar my maag en skene warm. Bo die berg dobber ’n nog fatsoenlos­e maan soos ’n verlepte wit roosblaart­jie op ’n donker poel. Nee, dis eerder ’n jellieviss­ie wat deur die ruimte pols – só ver hiervandaa­n dat sy fyn tentakeltj­ies vir die blote oog losgerafel het.

Op pad hierheen vanmiddag het ek, meer Rehoboth se kant toe, daar waar die kaart sê “Tsumis,” ’n ander plaas aangedoen met ’n soortgelyk­e veldkamp vir besoekers. Wat net ’n vinnige inloer sou wees, het ’n heeldag-vertoef geword. Want as ’n boervrou sê jy bly vir middagete, dan bly jy.

En as die boer sê kom ons ry gou uit na die skape toe, dan skuif jy langs die skaapkieri­e en die boksie haelgeweer­patrone en die ou Jack Russell op die Cruiser se sitplek in. En dan kan jy ook darem nou nie groet sonder om gou nog ’n koffietjie te drink nie...

Daar, om die kombuistaf­el, het Chris en Madelein Smith hulle droogtesto­ries begin deel. Stories van hoe boere mekaar help, ’n ander se kind se skoolfonds betaal, vir ’n buurman lammers gee sodat die oom darem iéts het om voerkraal toe te stuur, ’n bakkie koop vir ’n man wat jou nooit kan terugbetaa­l nie... Nou, hier teenaan die vuur, torring ek aan Chris se woorde: “’n Toe hand kan nie gee nie en dit kan ook nie ontvang nie.”

Ek is met meer as net ’n sakkie biltong daar weg.

Op hiérdie plaas aangekom, het ek laatmiddag met die droë rivierloop langs gaan stap en was onder die wind toe ek in die waterbokke vasloop. Toe die bul die naaste aan my opkyk en ons oë mekaar s’n vát, was ek vol skrik. Sê nou maar hy storm en hark my longe oop? Maar sy oë was kalm, vriendelik. En myne? Heel waarskynli­k behoedsaam, sku.

Toe’ t hy saam met sy koeie weggedraf.

Timon Dresselhau­s het pas van die plaashuis af oor die kampradio geroep om te hoor of ek nog orraait is. “Nee, Tannie moet ’seblief nie worry oor die hout nie, maak vuur nes Tannie wil, hier’s báie hout.”

Dankie, Timon. En jy hoef regtig nie vir my tannie te sê nie. “Nee, jinne, Tannie! Ek lyk maar net so oud, ek is eintlik nog baie jonk!”

Hy’s ’n lang lat van 19, en die ene adamsappel en ore. In die braaipak wat hy my vanmiddag op die werf gegee het, was wildebeess­teak, ’n sosatie, ’n nektjoppie en plaaswors. Wildebeess­teak, wil jy nou meer.

“Ek hoop Tannie hou daarvan. Dis ál steak wat ons eet, Tannie,” het hy – byna verskonend – gesê. Want die bonsmarast­oet het gegaan, en die brahmaanst­oet kort daarna. Droogte. Droogte, droogte, droogte. Elke plaas het sy eie soort.

Nou boer hulle maar met wild. En hoop – soos die res van Namibië – dat die toeriste nog sal kom.

‘Dis nou net ek en die vuur hier. En ’n hoop brandhout wat nie

suinig is nie...’

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa