Kinderblad
Omtrent twee-derdes van die aarde se oppervlak is toe onder seewater. In dié oseane woon derduisende spesies waarvan elkeen op spesifieke maniere oorleef.
’n Seeskilpad het ’n ingeboude GPS
Wel, soort van. Hulle kan die aarde se magnetiese veld aanvoel en dit help hulle om koers te hou. Dís hoe ’n seeskilpadwyfie haar pad terugvind na die strand waar sy as kleintjie uitgebroei het – om ook háár eiers daar te gaan lê.
Die pistoolgarnaal skiet sy prooi met ’n borrelgeweer
Die diertjie is maar so groot soos jou pinkie, maar hy’s dodelik vir ander garnale. Sy een knyper is vergroot en wanneer hy dit knyper vinnig en hard toeslaan, maak dit ’n borrel wat die seediertjies rondom hom dronk slaan. Hulle kan nie wegswem nie en bly hang net daar in die water waar hulle die skokgolf gevoel het.
’n Jellievis dink nie wat hy doen nie
Want ’n jellievis het nie ’n brein nie! Om die waarheid te sê, hy het ook nie ’n hart óf ’n enkele been in sy lyf nie. Maar hoe lewe iets sonder ’n brein?
Pleks van ’n brein het jellievisse ’n eenvoudige netwerk senuwees wat sonlig en beweging van prooie in die water rondom hulle kan waarneem en dan met hulle tentakels vang.
Party jellievisspesies se tentakels is oortrek van stekeltjies wat in sy prooi se lyf vassteek en dit dan vol gif spuit. Die gif verlam die prooi en kan selfs ’n seedier se hart laat staan. Die gevaarlikste een van dié soort jellievisse is die Australiese boksjellievis. Die gif in sy tentakels is genoeg om 60 mense dood te maak! Jaaiks!
Seekatte speel wegkruipertjie
Hulle is baie slim diere en kan leer hoe om “gereedskap” te gebruik. Partykeer dra ’n seekat die twee helftes van ’n kokosneut se dop met hom saam en wanneer iets hom bang maak, klim hy binne-in die een helfte en trek die ander helfte oor sy kop. Nou kan niks hom bykom nie!
2000
Dis omtrent die aantal tande wat ’n witdoodhaai elke jaar verloor! (Mense het 20 melktande wat uitkom wanneer jy ’n kleuter is, en die 32 volwasse tande wat jy kry wanneer die melktande wissel.)
Maar dink nou net hoe woes gaan ’n haai met sy prooi te kere wanneer hy iets te ete vang. Sy tande is ook sy hande – g’n wonder hulle breek los uit sy kakebeen nie! ’n Haai se tande sit in rye onder mekaar in sy kake ingeryg. Wanneer ’n tand uitval of afbreek, kom ’n nuwe een in sy plek uit.
2,7 m
Dis die lengte van ’n narwalmannetjie se horingtand. Nes die tande van olifante en walrusse is dié “horing” eintlik niks anders as ’n tand nie. Narwalle kom nie hier by ons voor nie – hulle hou in die koue waters rondom Rusland, Groenland en Kanada.
19 000 km
Dit is hoe ver boggelrugwalvisse elke jaar trek. Dié walvisse vreet hulleself lekker vet in die koue Arktiese waters en trek dan na die tropiese dele (nader aan die ewenaar) waar die water warmer is wanneer hulle moet kalf.
Die “paaie” waarlangs diere of voëls oor die aardbol rondbeweeg, noem ons migrasieroetes.
18m
Dís die lengte van die langste karkas van ’n reusepylinkvis wat al op ’n strand uitgespoel het. Dié eienaardige diere woon in die diepste waters en wetenskaplikes het nog nie baie van hulle gewaar nie. Dit lyk soos ’n enorme seekat, met ’n pylvormige kop, agt arms met suiers en nóg twee langer tentakels waarmee hy sy prooi vasgryp.
Eeue gelede het die seevaarders geglo só ’n gedrog is ’n seemonster wat ’n hele skip onder die water kan insleep. Hulle naam vir die dier was “kraken”.
WEN DIE BOEK!
Een gelukkige Slim Jan kan ’n kopie van dié bielieboek wen! Antwoord die vraag om aan die kompetisie deel te neem: Wat was die ou seevaarders se naam vir ’n sogenaamde seemonster? SMS die sleutelwoord SEEMONSTER en jou antwoord na 35981 (R1,50 per SMS; gratis SMS’e geld nie.) Sluitingsdatum: 20 April 2020. Die boek word deur Tafelberg uitgegee en kos R305 by takelot.com.