Vir die voëls
AS VOËLS SKAARS IS...
Ek het nie ’n duidelike grens oorgesteek nie, maar iets sê vir my dat ek Namakwaland verlaat en in die Boesmanland beland het. Die gevoel van verlatenheid is anders hier. Dié gevoel versterk sowat
30 km noord van Concordia af, wanneer selfs die heinings begin verdwyn.
Vir ’n voëlkyker is dit opwindend. Geen heining beteken mos toegang is nié verbode nie. Teoreties, ten minste. Ek hou stil en wag dat die ergste stof gaan lê voordat ek uitklim. Plek-plek sien ek tekens van verroeste draad, half begrawe onder die sand. Selfs die mees kluisenaaragtige eienaar sou jou sekerlik kon vergewe dat jy die “heining” per ongeluk misgekyk het. Wat sou ’n heining in elk geval moet in- of uithou in hierdie eentonige landskap? Met dié in gedagte stap ek al verder van my Fortuner af weg.
My doel vir die dag is om die lied van ’n rooilewerik op te neem. Dié lewerik kom slegs in ’n klein repie van die Boesmanland voor en nêrens anders ter wêreld nie.
Naby Aggeneys is ’n bekende waarnemingsplek waar ek dit al tevore gesien het. Maar ek is vasbeslote om my eie kol te ontdek. Ek het gisteraand ’n reeks parallelle rooi lyne op Google Maps se satellietkaart gesien, mooi in die middel tussen Concordia en Goodhouse in die Noord-Kaap.
Ek sê vir jou, nie eens jou st. 8-aardrykskundejuffrou sal weet waar dít is nie. Van Springbok af ry jy ’n entjie noord Okiep se kant toe. Daar mik jy regs en hou aan tot die teerpad in Concordia eindig. Van daar af volg jy jou neus in die rigting van die Oranjerivier se berge vir sowat 50 km totdat jy by Goodhouse kom. Wikipedia sê dat Goodhouse se naam glo afkomstig is van die Nama-woord gudaos, wat “skaapdrif” beteken. Dit was waar die Nama-herders die Oranjerivier met hulle vee oorgesteek het.
Maar terug by voëls. Net soos ek gehoop het, was daardie parallelle rooi lyne inderdaad golwende rooi duine – goeie habitat vir ’n rooilewerik. Die voël se naam kom van die vere wat ’n perfekte skakering van die omgewing se sand is. Die kleure wat pas, is dalk meer as ’n evolusionêre toeval: Daar is die idee dat die lewerike hulleself doelbewus in stof bedek, wat dan deur hulle vere absorbeer word. Hierdie vlekke (grimering, basies) is al by ander voëls ook gesien, aasvoëls inkluis.
Dis alles baie interessant, maar waar is die vervlakste lewerike? Die ysige woestyndagbreek verander in ’n blink lugspieëling van hitte en hier is geen teken van lewerike nie.
Trouens, hier is geen teken van énige voël nie. Net ’n absolute stilte. Ek is só verveeld dat ek vasgevang raak deur die spore van ’n klein gedierte. Die spore eindig by ’n vetplant. Ná ’n woeste gegrawe wriemel ’n pers-en-grys skink, ’n soort akkedissie, in my hand. Die hoogtepunt van my dag!
Toe ek na my kar terugsukkel, oordink ek my droewige dag. Ek het nie my doel bereik nie. Ek het skaars enige voëls gewaar, afgesien van die janfrederik wat ek nie kon uitken nie en die Namakwa-patryse wat op pad was na ’n watergat in die verlatenheid. Ek is ontwater en net so vol stof soos ’n lewerik en het in die laaste ses uur nog nie ’n enkele mens gesien nie. My selfoon het nie een keer gebiep of gelui nie (nie dat hier ontvangs is nie). Geen e-posse, geen sperdatums, geen verkeer, geen misdaad, geen stres en geen verantwoordelikhede nie. Dit is net ek en die woestyn. Toe besef ek: Soms is die beste voëlkykdae die stil dae.
Op nog baie slegte voëlkykdae!