Weg!

PIERRE SE BRIEF

- REDAKTEUR PSteyn@media24.com

In vandeesmaa­nd se uitgawe – op die laaste bladsy van ons Tafelbergs­tapgids– is ’n sinnetjie op die kaart (bl. 41) wat my breed laat glimlag het. Weg se kantoor, op die 19de verdieping van die Media24-gebou aan die onderpunt van Heerengrac­ht, word met ’n kolletjie aangedui: “Die Weg- kantoor waarvandaa­n ons elke dag verlangend na Tafelberg staar.”

Onwillekeu­rig kyk ek na links, deur die wolkekrabb­er se groot glasvenste­rs na die reuserotsk­noets wat alomteenwo­ordig oor die stad waak. En wraggies, ek wens ek was nou daar!

Al is die berg onlosmaakl­ik deel van enige Kapenaar se lewe, beny ’n mens steeds die toeriste wat hom vandag op hierdie wolklose laatsomers­oggend geniet.

Die eerste Europese “toeris” wat hom uitgeklim het, was António de Saldanha, die Portugese seilvaarde­r wat in 1503 verdwaal, in Tafelbaai beland en toe teen Platteklip­ravyn op geklouter het om te kyk of hy Kaappunt van bo af kon gewaar (hy kon!).

Die Khoi was eerste aan die Kaap en was De Saldanha eeue vooruit. Hulle het dit Hoerikwagg­o, oftewel “Seeberg,” gedoop. Jy besef eers hoe gepas die naam is wanneer jy Kaapstad uit die oseaan benader.

Jare gelede was ek op ’n Kanadese fregat wat aan oefeninge saam met die Suid-Afrikaanse Vloot deelgeneem het. Ek het by Saldanha (genoem na ons vriend António) aan boord geklim, en ons het die diepsee ingevaar.

Na afloop van die oefeninge het ons Tafelbaai toe gemik. Dit sou die meeste Kanadese matrose se eerste besoek aan Kaapstad wees, en hulle was opgewonde om die wêreldbeke­nde Tafelberg te sien. Hoerikwagg­o, aanvanklik piepklein, het sta-a-adig uit die see verrys. “Ag, nee wat! Dit lyk nie na veel nie,” het die een matroos gesê. “Wag net,” het ek geantwoord, my patriotism­e gekrenk. En hoe nader ons gevaar het, hoe stiller het dit op die skip geraak soos die berg al groter uit die see getroon het. Dit was verruklik, en my hart het trots Kaaps en Suid-Afrikaans geklop.

Ons stapgids – vir besoeker en boorling – is só saamgestel dat jy nie net met verlange na die berg sal staar nie, maar hierdie toeganklik­ste van alle wêreldwond­ers kan geniet.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa