Swerwerskos
deur Pieter Pieterse
HAUM-Literêr, 1991
As jy ooit per (on)geluk ’n ding soos ’n takkraal wat van muisbos gebou is langs die pad tussen Lambertsbaai en Elandsbaai sien, vertoef ’n wyle. Daardie muisbosskerm kan jou lewe só goed doen. Kyk jy so tussen die roosters en die botteltjies wyn van Goue Vallei en die bokkoms en die driepootpotte rond, sal jy ’n knewel van ’n kêrel met sulke hamhande gewaar, besig om op ongekende skaal kreef en mossels en wat die see ook al bied, gaar te maak – ’n man wat nie aldag skoene dra nie en wat bry soos net ’n Namakwalanner kan bry. Vra jy hom of hy “meneer Edward Turner” is, dan sê hy: “Nei, ek is Etwagt Tugnig. Wat dgink jy?” En vra jy hom, wyl sy vrou, Elmien, die panne der panne der panne brood in die oliekonka-oond druk, watse resep hulle vir die brood gebruik, gee hy dit graag. “Miel,” sal hy vir jou sê. “Gegte boegemiel. Die ien mit KOEKENAAP GOLLEG MILLS van agteg en SELF GAISIENG van voog – as jou vgou miskien vig jou ’n stukkie ondegbgoek van die sak wil maak. Van dié miel – ’n halfsak. Dan, vig suugdieg, egtappels uit die Sandveld. Oek ’n halfsak.”
Met hierdie geurige en kleurryke vertelling begin Pieter Pieterse (1936-2002) se boek Swerwerskos. Pieterse was ’n geliefde skrywer, bobaas-storieverteller en TV-aanbieder van programme soos Swerwerskos, Van die Kaap tot die Kunene en Maak ’n las.
As kind het ek Saterdagoggende na die reeks Swerwerskos op TV gekyk. Pieterse, wat toe saam met sy vrou, Jenny (beter bekend as die “Ingilsman”), in die Weskus in sy woonwa, Die Spookhuis, gewoon het. Hy was ’n ware swerwer en het ’n plat-opdie-aarde aanbiedingstyl gehad, vol humor en ligte oomblikke.
Hierdie boek, wat ’n groot aantal resepte insluit, is op versoek van kykers saamgestel. Die name van sommige resepte laat ’n mens glimlag, voor jy jou lippe aflek: ’n hors de worsie op ’n stokkie, die Ingilsman se kreefvetkoekies, ’n tunastykie op die kole...
’n Verdere lekkerte van dié boek is dat Pieterse nie slegs resepte lys nie, maar ook ’n paar staaltjies en gedagtes deel – in dieselfde ontspanne verteltrant van die TV-reeks.
Só skryf hy oor kreef:
Ook bekend as Jasus lalandii. Of “lekker lavreeslikiaaii”. Of sommer net “crayfish” of “rock lobster” of “die rooispinnekoppe van die Weskus” of “die manne met die bolwange”. ’n Hele paar maniere is daar om kreef wettig in die hande te kry. As jy aan die Kaapse Weskus kom, kan jy gaan duik vir hom. Onthou net, dis nie Durbs se water hierdie nie. Klim bietjie so ’n skoot ongewapend in hom in en kyk hoe ver kom jy! Hulpbehoewend. Dis wat hy jou maak. As jy nie agterna iemand het om jou te help soek na alles wat jy by jou moet hê nie... ’n Duikpak. Dis al genade.
Ek het byna verstik van die lag toe ek lees wat oompie Willie Nowers van Buffeljachts oor perlemoen te sê het:
Hy vertel dat die oumense die badwater uitgegooi het as die seunskinders klaar gebad het. Die meisiekinders mag nie in dieselfde water bad nie. Daar kan dalk net moeilikheid kom. “Mit hu man wat hiegie peglemoen iet, gat jy nie eegs saam in dieselle sie swem nie, dan’s jy innie moeilikheid.
Dis hoe geil Búffeljachts se peglemoen is.”