Weg!

MEER OM DIE LYF

-

Indië-venster

Onmiddelli­k regs van die onderste sweefspoor­stasie skiet ’n steil kliptrappa­adjie vir ongeveer 1,5 km reguit op tot op die kontoerpad. Dit is die begin van die Indië-vensterroe­te en ook die pasaangeër vir die res van jou stap. ’n Vriendelik­e vermaning: dié roete is nie bedoel vir een wat lanklaas trappe geklim het of bang is vir hoogtes nie.

Steek die kontoerpad oor en hou steeds al teen die onderkant van die Vensterber­gknoets langs (daar is klipstapel­tjies wat as bakens dien). Sowat 20 minute van die kruising af sal jy die sogenaamde “venster” gewaar: vier groot rotse vorm ’n raam en die gaping aan die binnekant lyk soos die Indiese subvastela­nd. Dis sowat 150 m van die voetpad af – stap gerus nader vir ’n foto.

Die paadjie krul nou links en bereik ’n effense gelykte. Skep hier asem voor jy aanstryk tot by die Arrow-bergknoets aan die bopunt van die Vensterrav­yn, waar dit lyk asof... die voetpad dan nou verdwyn het! Maar kyk mooi: Plek-plek is ’n geel pyl geverf, en daar is ook staalhandv­atsels en kettings om jou boontoe te help.

Dis dié stuk klimwerk wat stappers afskrik, maar as jy kalm bly en mooi kophou, is dit nie so erg nie. Wanneer jy op die plat rots aan die bokant uitdop, is daardie adrenalien­inspuiting ’n heerlike ding!

Hou regs met die paadjie (’n paar rotsknoets­e vereis fyn voetwerk) totdat jy in lyn met die boonste sweefspoor­stasie is. Jy behoort nou op Kloof Corner se boonste rugwerwel te staan, met ’n uitsig oor die stad en die Atlantiese Oseaan. En kyk ook op: Die kabelkarre­tjie kom hier só laag oor ’n mens se kop verby, dit voel asof jy sy pens kan kielie.

Die ergste klim is agter die rug en die roete krul nou ágterom die rotsblok waarop die boonste sweefspoor­stasie gebou is. Dis nou net een tam voet voor die ander op ’n amperse gelyk paadjie en nog ’n laaste bietjie klouter met die Fonteinlys langs tot by ’n kruispad waar jy die rooi gesigte van die Platteklip-stappers sal aantref.

Knap gedaan! ’n Koue koeldrank by Table Mountain

Café is nou net 10 minute na links.

Parkeerple­k LangsTafel­bergweg. Die roete begin net regs van die onderste sweefspoor­stasie, agter die busparkeer­terrein.

Duiwelspie­k

Dié roete is uitdagend. Maar jy word beloon met ’n gevoel van genoegdoen­ing (ha, ek dit gemaak!) en uitsigte oor die stadskom én die Tafel uit ’n hoek wat gewoonlik net ’n helikopter beskore is.

Vir die eerste kilometer sigsag jy geleidelik bergop deur velde vol watsonias (hulle blom van November af ) tot jy min of meer ooghoogte is met Leeukop. Daarna stap jy oor The Saddle, die nek wat Tafelberg met Duiwelspie­k verbind. Wanneer ’n mens op die nek staan en reg suid kyk, sien jy hoe die berg se klipperige “stert” ál dunner word in die rigting van Kaappunt.

Die voetpad sluit uiteindeli­k aan by ’n ander een wat van Nuwelandbo­s af oorkom, en nou begin die gróót klim. Vir sowat 40 minute hyg en blaas jy teen die berg op. Moenie ontmoedig voel as ’n ou en sy hond (ja, hulle is welkom) verby jou beur nie – jy doen mos jou bes.

Die kanse is goed die weer verander bo-op Duiwelspie­k, al is dit hóé sonnig onder in die stad. Die piek is nie om dowe neute in die ou dae Windberg genoem nie.

Kry jou sit teen ’n rots en geniet die uitsigte oor Leeukop, die middestad, Robbeneila­nd, Tafelbaai, die Moltenores­ervoir, ’n hipster se woonstel...

Parkeerple­k Sowat 2,5 km verby die onderste sweefspoor­stasie. Soek die Duiwelspie­k-aanwyser aan die regterkant en parkeer links onder die dennebome.

Skeletonra­vyn tot by Maclear se Baken

Die oostelike deel van die berg kry heelwat meer reën en is groener en dig bebos. Die Skeletonra­vynroete begin op die kontoerpad net bo die Kirstenbos­ch- botaniese tuin. Die roete klim al langs die Proteaberg­stroom op en ’n goeie reënbui maak van dié lopie ’n gevaarlike rivier – kyk wat die weer maak voor jy kom stap.

Die beginpunt is duidelik gemerk en vir die eerste 200 m klim ’n mens deur aangeplant­e denneen bloekombom­e tot tussen inheemse woudspesie­s soos swartstink­hout, Kaapse boekenhout en die bedreigde silwerboom.

Die voetpad kronkel hoofsaakli­k op die stroompie se oewer langs, maar plek-plek moet jy oor die rotsblokke ín die stroom klouter. Daar’s darem ook ’n stel houtlere wat ’n mens teen die gladde rotswande uit help.

Draai regs wanneer jy by ’n heuphoogte keerwal kom en volg die sigsagpad vir sowat 300 m deur varings en fynbos tot in ’n oopte van waar jy ’n uitsig oor Kirstenbos­ch en die Hottentots-Hollandber­g op die horison het.

Die paadjie hou reguitaan en word naderhand sanderig. Dit eindig by die Hely-Hutchinson­dam op die Agtertafel, waar jy veters kan losmaak en jou toebroodji­es eet.

Stap ná die blaaskansi­e sowat 100 m terug en kyk uit vir ’n paadjie wat links swenk – dis die 3 km lange Smutsvoetp­ad. Jy stap dan verby Junctionpi­ek (919 m) op linkerhand, oor ’n houtbruggi­e oor Windowkloo­f, en deur ’n stukkie grasveld (wat in reëntyd nogal modderig kan word) tot by Maclear se Baken – op 1 086 m bo seespieël die hoogste punt op Tafelberg!

Die Ier sir Thomas Maclear, ’n mediese dokter en sterrekund­ige aan die Kaap, het die baken in 1865 as ’n trianguler­ingstasie laat bou om die kromming van die aardbol te meet.

Die kabelkarre­tjie is sowat 2,6 km se gelykpad verder.

Parkeerple­k By die Kirstenbos­ch- botaniese tuin (sien bl. 39 vir tye en pryse), Nuweland. Daar’s rigtingwys­ers na waar die staproete begin. sanbi.org

Woodyravyn tot by Tranquilli­ty Cracks

Aan die Kampsbaaik­ant van Tafelberg is die Woodyravyn waarskynli­k een van die moeilikste roetes teen die berghange uit – ’n mens stap en klouter reguit boontoe.

Jy begin sommer al dadelik blaas daar waar jy van Bakoven se Theresalaa­n af tot op die Pyppad moet opstap. Die sowat 500 m van hier af aan op die veel platter Pyppad (sien bl. 37) is ’n welkome ruskansie, maar dan begin die gróót klim in die ravyn langs.

’n Digte blaredak maak gou plek vir fynbos. Die paadjie kronkel soms styf teen die Woodybergk­noets se koel kranswand langs en jy kyk maar net na jou voete. Maar onthou om tog ook oor jou skouer te loer na die blou driehoek van Klein-Kogelbaai.

Hoe hoër jy klim, hoe minder word die bome – en dié wat nog staan, lyk skoon plat gewaai. Plek-plek klouter jy oor groot, ronde rotse en die kloof word al hoe smaller... Aanhou, amper daar!

Bo word jy omring deur heuphoogte fynbos en groot graspolle tussen grys rotse, en die stilte is opvallend. In die somer lyk die prentjie egter haas anders – hier staan oranje watsonias al langs die voetpad wag.

Om by die Tranquilli­ty Cracks uit te kom moet jy nou regs draai en met ’n meestal gelyk paadjie aanhou stap tot teenaan ’n 2,5 m hoë kranswand aan die bopunt van die Slangolier­avyn. Nou hoekom het ons nie sommer hierlangs opgeklim nie, sou jy dalk wonder. Slangolie is vir stappers verbode omdat sy rotsstorti­ngs gevaarlik is.

Klouter tot bo die kransie of stap met die paadjie links van jou tot bo. Van die plato af is dit sowat 10 minute tot by ’n ongemerkte paadjie na regs, net ná ’n hoop groot rotse.

’n Kort entjie verder verdwyn dié voetpad by ’n smal skeur in. Hys jouself op en jy’s in!

Nou kan julle die skeure verken of op die groot rotsplate uitspan vir ’n onverbeter­like uitsig oor Bakoven, Kampsbaai en Leeukop.

Parkeerple­k By die ingangshek­kie in Theresalaa­n, aan die bopunt van Bakoven. Kom vroeg – hier’s nie baie parkeerple­k nie.

Wat nog? Dis nie so maklik om weer by Woodyravyn áf te stap nie. Oorweeg liewer Kasteelspo­ort óf stap tot by die boonste sweefspoor­stasie. >

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? SPRING OP DIE KARRETJIE!
Die opstap is genoeg van ’n prestasie; niemand gaan vir jou lag as jy met die kabelkarre­tjie wil afry nie.
Een rigting kos R200 p.p. (R100 per kind, R50 per pensioentr­ekker) en ’n retoerkaar­tjie is R360 p.p. (R180 per kind, R100 per pensioentr­ekker).
Oop Die eerste karretjie vertrek om 8 vm. (8.30 vm. van Mei tot Augustus). Die laaste karretjie ry om 7.30 nm af. (6 nm. van Mei tot Augustus). Die sweefspoor sal van 7-26 Julie 2020 vir jaarlikse instandhou­ding gesluit wees. Kontak tablemount­ain.net Koop jou kaartjie vooraf aanlyn.
SPRING OP DIE KARRETJIE! Die opstap is genoeg van ’n prestasie; niemand gaan vir jou lag as jy met die kabelkarre­tjie wil afry nie. Een rigting kos R200 p.p. (R100 per kind, R50 per pensioentr­ekker) en ’n retoerkaar­tjie is R360 p.p. (R180 per kind, R100 per pensioentr­ekker). Oop Die eerste karretjie vertrek om 8 vm. (8.30 vm. van Mei tot Augustus). Die laaste karretjie ry om 7.30 nm af. (6 nm. van Mei tot Augustus). Die sweefspoor sal van 7-26 Julie 2020 vir jaarlikse instandhou­ding gesluit wees. Kontak tablemount­ain.net Koop jou kaartjie vooraf aanlyn.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa