Weg!

SWARTLAND, HARTLAND

Die Swartland is ’n landboustr­eek net noord van Kaapstad, maar vir die mense van dorpe soos Portervill­e, Piketberg en Malmesbury is dit veel meer... dis ’n gevoel van “ek hóórt hier”.

- WOORDE EN FOTO’S KIERAN LEGG

Goue landerye strek uit in elke windrigtin­g. Die koring wuif liggies in die bries. Elke dan en wan verbreek ’n dorp, plaaswerf en ’n paar skape die toneel. Ek staan op die Piekeniers­kloofpas op die Olifantsri­vierberg wat die noordelike grens van die Swartland vorm.

Hierdie uitkykpunt is ’n goeie plek om te sien hoe groot en wyd dié streek werklik is. Dis skemer en ek maak net-net die paaie uit wat ek die afgelope dae van dorp tot dorp gery het. Ek sien die plekke waar ek met boere, bloemiste, bakkers en wynmakers gesels het om te probeer uitpluis: Wat is die Swartland?

Jolene Janse van Rensburg is ’n local en die bestuurder van die Swartland-wyn-en-olyfroete en sy sukkel self met die vraag. Sy meen dis maklik om die streek volgens munisipale gebiede te identifise­er, maar dit sluit ook in kusdorpe soos Yzerfontei­n en Grottobaai, tesame met boerderydo­rpe soos Koringberg, Riebeek-Kasteel, Darling en Malmesbury.

“Die kusdorpe is meer Weskus,” sê sy. “Die Swartland is anders… dit het ’n ander gevoel. En elkeen hier het ’n ander mening oor wat daai gevoel beteken.”

Oestyd

Vir Cobus Bester het daai gevoel te make met die siklus van ’n boerdery.

Hy wag vir my by die ingang na sy plaas Uitkyk op die Bottelfont­einpad tussen Moorreesbu­rg en Malmesbury. Sy arm hang by sy wit bakkie se venster uit, en hy knik voordat hy wys hoe ek moet ry na die plaashuis. Later in die kombuis maak hy vir ons koffie. Die Franse dompelpot lyk heel onvanpas in sy groot, vereelte hande.

“Die Swartland is nie vir mense wat gou tou opgooi nie,” sê hy. “Toe my oeroupagro­otjie in 1864 hier aangekom het, was die meeste van die grond renosterve­ld, maar hy het iets hier gesien; hy het geglo ’n mens kan ’n lewe hier maak.” Die naam Swartland kom glo van hoe verbrand die renosterve­ld lyk ná reën.

Cobus lyk nie soos ’n man wat maklik van stryk gebring word nie. Op die ouderdom van 6 het hy al ’n trekker gery en op 13 kon hy die stroper bestuur. Toe hy matriek geslaag het, het hy ook sy plaasopvoe­ding voltooi.

Die goeie reën en ryk grond maak die Swartland ideaal vir koring, wat al sedert die 1800’s hier geplant word. In onlangse jare was die winters egter droër, en die droogte weeg swaar op die boere se gemoed.

Cobus neem my na die veld agter sy huis. Vee staan in die son en probeer met hulle sterte vlieë weghou. Eva, die rottweiler, en Rambo, die rifrughond, hou ons van agter ’n heining af dop.

“Ons eksperimen­teer,” vertel Cobus. “As ons nie koring kan plant nie, moet ons ander dinge probeer. Ons moet probeer oorleef.”

Hy is nie die enigste boer wat so dink nie. Hierlangs sien ’n mens hoe koringland­e plek maak vir kanola, koljander en selfs ’n boord lemmetjieb­ome.

Maar dis steeds koring wat aan dié landskap sy eiesoortig­e voorkoms gee: Koring bly groen tot in die finale groeistadi­um en verkleur geel wanneer dit gereed is om geoes te word. In die winter steek nuwe kweek kop uit en dan staan die land vrugbaar en grasgroen. In Oktober gee die groen bes aan goud en binne sowat ’n maand is dit reg om geoes te word. In sommige gebiede, veral tussen Portervill­e en Eendekuil, of Malmesbury en Moorreesbu­rg, lyk dit asof die lande tot in die niet strek.

“In die oestyd werk ons baiekeer tot tienuur in die aand,” sê Cobus, “en teen vieruur die volgende oggend is ons weer aan die gang.”

Teen Desember staan die landerye leeg. Die temperatuu­r draai by 40 ºC en bak die veld droog. Gewoonlik wei vee dan op die landerye.

“Hier is ’n besliste siklus,” verduideli­k Cobus. “Ons het nie besproeiin­g nie; ons maak net staat op reën. Ek het net vyf maande om geld te maak, en daarmee moet ek die ander sewe maande oorleef. ’n Mens leer om die meeste dinge self te doen. Soos ek gesê het, die Swartland is nie vir mense wat opgee nie.”

Dis daai gevoel

Ek slaap die aand op die Du Vlei-gasteplaas buite Hermon in die suide van die Swartland.

Die volgende dag mik ek noord, na Eendekuil. Ek ry deur Riebeek-Kasteel, ’n kunsdorpie 10 km van Hermon af, en tref ’n grondpad wat my na die R44 neem. Dis lente en oestyd is in volle gang. Plek-plek staan veldblomme al langs die pad.

Dis middag toe ek op Portervill­e aankom. Die oggenddien­s is pas klaar en mense gesels op straat. Almal is jolig en by ’n blommewink­el in ’n motorhuis vra ek vir Zabetha Albertyn wat die rede vir die opwinding is.

“As dit reën, selfs net ’n druppel, lag en gesels almal.” (Dit het vroeër die oggend

gereën. Ek het wakker geword met druppels wat klater op die dak van my kamer by Du Vlei.)

Die Olifantsri­vierberg naby Portervill­e trek skermswewe­rs en natuurlief­hebbers wat by die nabygeleë Beaverlac-kampplek kom swem en stap. Daarby het die dorp heelwat eetplekke en oor naweke ’n boeremark.

Ek het nou al ’n hele paar mense gevra wat die Swartland is en van die antwoorde is “Die Swartland is waar jy ook al koring sien” en “dis waar mense rosyne in gemmerbier sit.” Daar is nie regtig eenstemmig­heid nie, maar tog wil almal deel wees van die plek.

Van Portervill­e af swenk die R44 links na Piketberg. As jy met die R365 aanhou, sluit dit aan by die N7 en ná ’n paar kilometer kom jy aan op Eendekuil. Dis blykbaar die verste noord wat ’n mens in die Swartland kan ry. Of liewer, tot waar dit nog soos Swartland “voel”.

Eendekuil is doodstil. Die enigste mense is ’n paar mans wat in die skadu ’n uiltjie knip.

“Hallo,” roep iemand en ek sien twee mans op ’n stoep sit. Jandré Coetzee en Eswe Brooks nooi my vir ’n toebroodji­e en ’n louwarm bier. Hulle wil weet wat ek hier doen en Jandré sê laggend: “Hierdie is die regte Swartland.”

Jandré werk nie self op die landerye nie, maar hy praat met ontsag van die boere en plaaswerke­rs, asof hulle helde is.

Dalk is dít hoekom die definisie van die Swartland so breed is: Die boere word aan mekaar verbind met ’n ander, groter gemeenskap­like doelwit wat verder strek as hulle plaas se grense.

Koring en wyn

Heini Grobler stap met selfvertro­ue, soos ’n man wat die grond onder sy voete góéd ken. Hy is ’n wingerdkun­dige en verstaan die pHvlakke, die voedingsdi­gtheid en samestelli­ng van grond.

“Dis iets spesiaals,” sê hy terwyl hy buk in die netjiese wingerde van die Org de Rac-wynlandgoe­d naby Piketberg. Die grond tussen sy vingers is nat van vroeër se reën: “Dít is die Swartland…”

Later drink ons van die landgoed se shiraz. Ek proe peper wat later soet word met ’n nasmaak van jalapeño. Dis asof ek die grond kan proe.

Heini staar na die grys lug. Daar is nog reën op pad, maar die reën is net een komponent van die grond se sukses. Elke dag stiptelik om 2 nm. waai die seelug van die Weskus af >

oor die wingerde. Dit bevorder belangrike samestelli­ngs sonder om die grond te veel te versadig. Dis maar een van die faktore wat Amerikaans­e maatskappy­e laat toustaan vir grondmonst­ers van sy plaas, vertel Heini.

“Ek het ’n ruk lank in Noord-Dakota gewerk. Dis die enigste ander plek in die wêreld wat kan kers vashou by Swartlandg­rond.”

Ek vra hom waar die Swartland begin en eindig. “Dis eenvoudig,” sê hy. “Kyk net na die grond.” Hy vat my pen en teken ’n blou lyn op my kaart. Dit loop om Piketberg, Portervill­e, Riebeek-Kasteel, Moorreesbu­rg en Malmesbury. “Verder as daai lyn, na die weste, is Sandveld en die grond is nie meer dieselfde nie.”

Hy nooi my vir middagete. Oral in die Swartland word ’n mens genooi vir middagete – al is dit reeds 5 nm.

Nieuwedrif­t is ook ’n wynplaas, en net suid van Org de Rac langs die N7.

Vir die sesde generasie boer Hendrik Mostert (27) is die wingerde wat aanhou uitbrei ’n teken van die voortduren­de stryd om oorlewing. Hendrik se pa, Johan, het met koring geboer, maar klimaatsve­randeringe noop hom om te diversifis­eer.

Hendrik het die plaas in 2014 oorgeneem. Dit was die begin van die droogte en het die Mosterts hard geslaan, maar Hendrik was opgewonde oor die uitdaging: “Die droogte beperk jou; jy moet meer met minder doen. Jy kan nie die reënval beheer nie, en daarom moet jy aanpas. Anders sal jy ondergaan.”

Maar soos die meeste boere gee hy aandag aan wat dringend is: Pype wat herstel moet word, skape wat geskeer moet word en gewasse wat na moet gekyk moet word. Dié gewasse is dalk aan ’t verander, maar die diepe afhanklikh­eid van die grond en die reën is die enigste soort leefwyse hier.

Ek ry verder suid en kom by The Hughes Family Wines-plaas. Dis ongeveer 12 km buite Malmesbury op die Ou Pad na Moorreesbu­rg. Hier ontmoet ek vir Billy Hughes wat in Argentinië gebore is. Hy doen interessan­te dinge op sy plaas.

Billy het in die 1990’s na Suid-Afrika getrek en ’n plek gesoek om wyn te maak. “In daai tyd het ’n hele paar jong wynmakers en olyfkweker­s na die Swartland getrek; hulle het besef die grond is geskik vir meer as net koring. Die Swartland was ’n oop boek.”

Hy het die grond gekompakte­er om mure te vorm en ’n plaashuis gebou. Die wynkelder is in ondergrond­se skeepshoue­rs – die grond bo die houers hou dinge koel. Dis inderdaad grond wat dié kelder aan die gang hou.

Wat is die Swartland dus? Ek dink weer hieroor terwyl ek huis toe ry en die son alles rondom my oranje kleur. Vir boere soos Billy, Hendrik, Heini en Cobus is die Swartland grond. Vir die bloemiste Zabetha en Jolene van die toerismeag­entskap is die Swartland ’n leefstyl wat moontlik is danksy die boere van die streek.

Ek dink ook aan toe ek bo-op die Piekeniers­kloofpas gestaan en die landskap bekyk het. Vir my is die Swartland ’n reeks ervarings: ’n uur in ’n landery, die see wat ek in ’n glas wyn proe en ’n varsgebakt­e sny brood gebak van koring uit die streek…

Wanneer jy dus weer langs die N7 reis, draai af en gaan vind jóú Swartland. >

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? INKOMMERS (regs). Billy Hughes maak wyn op ’n anderste manier. Hy was eens ’n ingenieur en sy wynkelder op sy plaas The Hughes Family Wines buite Malmesbury, is gemaak van ou skeepshoue­rs.
TREK AF. Ry met die N7 en jy kom uit by die Piekeniers­kloofpas. Van hier af het ’n mens ’n puik uitsig oor die ganse Swartland.
INKOMMERS (regs). Billy Hughes maak wyn op ’n anderste manier. Hy was eens ’n ingenieur en sy wynkelder op sy plaas The Hughes Family Wines buite Malmesbury, is gemaak van ou skeepshoue­rs. TREK AF. Ry met die N7 en jy kom uit by die Piekeniers­kloofpas. Van hier af het ’n mens ’n puik uitsig oor die ganse Swartland.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa