Weg!

TAKEL SUID-AMERIKA SE GROTE

Berg Aconcagua in Argentinië se Andesgeber­gte is die hoogste spits in Suid- én Noord-Amerika. Dis een van die min spitse wat jy op eie stoom kan klim – en dís presies wat Heinrich Human gedoen het.

- HEINRICH HUMAN Tuisstad Mbombela Beroep Fotowinkel-eienaar

My ouers, Gene en Poppie, het my al as klein tjokkertji­e van vier of vyf jaar oud saamgeslee­p Drakensber­g toe. Ná skool op Nelspruit (nou Mbombela) het ek ’n paar maande as ’n kelner gewerk om Afrika se hoogste spits, berg Kilimandja­ro, in Tanzanië te klim. Dié klimtog was ’n wonderlike ervaring en ek het daarvan begin droom om die hoogste spitse op die sewe vastelande, bekend as die Seven Summits, te klim.

Teen 6 960 m is berg Aconcagua in Argentinië naas berg Everest die hoogste van dié sewe.

Hulle sê as jy berg Aconcagua met gemak kan klim, jy Everest sal kan tem.

En omdat berg Aconcagua nie ’n “tegniese” klim is nie, kan jy dit alleen doen, dus sonder ’n ekspedisie-agentskap. Dit het my gepas, want ek’s mal daaroor om die wildernis manalleen in te vaar!

DAG 1 Confluenci­a-kamp

Ná drie vlugte en ’n busrit of twee klim ek af by die hek van die Aconcagua- provinsial­e park.

Hier is talle dagroetes in dié park. Berg Aconcagua staan onverbidde­lik in die verte.

Die omgewing is dor, maar die gesmelte ys van twee gletsers vorm die rivier waarlangs ek vandag stap.

Ná twee en ’n half uur kom ek by die Confluenci­a-kamp (3 390 m) aan. Ek drink my eerste mate, ’n kafeïenryk­e kruiedrank­ie, wat Argentyne vir ’n bietjie woema drink.

DAG 2 Confluenci­a-kamp

Ek stap sowat 15 km tot by die Plaza Franciauit­kykpynt (4 000 m) en terug – van hier af kan jy berg Aconcagua se suidelike wand duidelik sien. Ervare stappers beveel dié roete aan om gewoond te raak aan die hoogte bo seespieël.

Die gletser waarlangs ek stap, kreun en kraak. Dis een van die vreemdste geluide wat ek nóg gehoor het.

DAG 3 Plaza de Mulas-kamp

Die Plaza de Mulas-basiskamp (4 300 m) is sowat 20 km se stap van Confluenci­a af. Op pad stap ek verby interessan­te plekke soos Playa Ancha, ’n 10 km lange uitgestrek­te vlakte en die Quebrada del Sargento Más-uitkykpunt van waar jy die berg Piramidé kan sien waar die 500 jaar oue mummie van ’n Inka-seun in 1985 gevind is. Ek gewaar ook snippe en ’n Andesvos.

Ek is doodmoeg toe ek nege uur later by Plaza de Mulas aankom. Dié bedrywige tentedorp is verskeie stappers se finale bestemming – hier’s sowat 200 mense vandag. Hier is warm storte, plaaslike boetiekbie­r, toilette, eetsale, mediese dienste en Wi-Fi – alles teen ’n prys. Én die wêreld se hoogste kunsgalery, The Nautilus, in ’n tent.

Ek het nie etes vooraf gereël nie en mag dus nie in die eetsaal eet nie. (Drie etes ’n dag is sowat R1 500!). ’n Franse klimmer moet egter so gou moontlik bergaf weens erge hoogtesiek­te en druk twee etekaartji­es in my hand. Ek lê weg aan varkribbet­jie en groente in plaas van ’n bakkie gerehidree­rde spaghetti bolognese.

’n Mens sukkel maar om te slaap vanweë die senuwees wat knaag en die rock-and-rollen reggae-musiek wat tot in die vroeë oggendure blêr. >

DAG 4 Plaza de Mulas-kamp

Vandag is ’n rusdag. Ek gesels met ander stappers wat van die spits af kom, toets my gehuurde speelgoed, stap na nabygeleë gletsers en probeer om my tent aan die kant te maak – ’n onmoontlik­e taak! En bestudeer die kaart en roetes waarskynli­k 100 keer weer en weer.

DAG 5 Plaza de Mulas-kamp

Vandag stap ek met een van my sakke tot by die Plaza Canada-kamp (4 910 m) en terug. Oor ’n dag of wat sou ek die res van my goed in waterdigte sakke pak. Van die goed gaan ek later by verskillen­de punte hoër op teen die berg onder klippe versteek en weer met die afkomslag optel.

Die son sak eers ná 9 nm. Ek dommel weg met Bob Marley se “I Shot the Sheriff” in my ore.

DAG 6, 7 & 8 Plaza de Mulas-kamp

Die stappers hou deurentyd die weervoorsp­elling dop vir ’n mooiweerve­nster – ons kan eers oor sewe dae – op 14 Februarie – die spits uitklim!

Ek bring dus twee ekstra aande in die basiskamp deur – nóg rock en reggae! Ek hou my besig deur weer my gehuurde plastiekst­ewels en crampons op ’n gletser naby die kamp te toets.

DAG 9 Plaza Canada-kamp

Ek klim vandag weer tot by die Plaza Canadakamp. Dis die eerste van drie “hoë kampe” voor die kruin. Ek voel opgewonde, maar ook onrustig nadat ek verskeie ouens se stories gehoor het. Dis glo snerpend koud en die wind tier bo-op die spits!

Die aand kry ek ’n kloppende hoofpyn en drink die eerste keer ’n pil vir hoogtesiek­te.

DAG 10 Nido de Cóndores-kamp

Vanoggend voel ek weer piekfyn! Dis ’n helder dag en ek voel gewoond aan die min suurstof.

Ek stap teen ’n slakkegang – dit neem sowat 4 uur om net 3 km te stap. Toe ek rondom my kyk, besef ek ek is byna op dieselfde hoogte as die berge wat twee dae tevore hoog bo my

uitgetroon het. Die Nido de Cóndores-kamp (5 450 m) se naam is heel gepas – jy sien gereeld kondors, ’n soort aasvoël, wat in die lugruim sweef.

Tentopslaa­n is ’n uitdaging. Eers anker jy die hoeke van die tent met tentpenne. Daarna ryg jy die stutpale in hulle gleuwe in. Een onervare klimmer het eers die pale probeer inryg voor hy die tent geanker het. Die tent het teen die berg af gefladder en sy ekspedisie was daarmee heen.

DAG 11 Nido de Cóndores-kamp

Ek probeer my kragte herwin deur Futurelife, Game en Rehydrate te drink en ’n paar gerehidree­rde etes en droëwors af te wurg.

In die koue en teen hierdie hoogte het ’n mens nie ’n eetlus nie. (Ek het meer as 10 kg verloor gedurende die ekspedisie.)

Ek probeer ten minste vier liter water per dag drink. Dis ’n hele proses, want jy moet sneeu smelt. Ek ontmoet vir Julien Allanic, ’n Fransman, en ons besluit om saam die spits aan te durf.

DAG 12 Plaza Cólera-kamp

Ons mik vir Plaza Cólera (6 000 m), die laaste kamp voor die spits. Vandag trek ons ons crampons aan – jy stap byna heeldag op ys. Die ys is eintlik ’n seëning, want anders sou ons glygly op fyn gruis bergop moes sukkel.

DAG 13 Spits toe!

Ons staan om 2 vm. op. Nie een van ons het ’n oog toegemaak nie.

Ek smelt sneeu vir ’n koppie tee en ’n bakkie Futurelife en trek aan. Dit neem ongeveer ’n uur om al my toerusting in orde te kry. My hande is in vier pare handskoene gewikkel en ek dra vir die eerste keer spesiale ekspedisie­klere – die weer kan enige oomblik verander.

Ons begin om 4 vm. in die pikdonker stap – dis sowat 5 km tot by die spits. Toe die son opkom, gooi die spits ’n yslike skaduwee oor die landskap. Ek kyk áf op berge van 6 000 m hoog.

Ek trek die boonste twee paar handskoene uit om ’n foto te neem. Toe ek die kamera ’n paar sekondes later in sy sakkie terugsit, kan ek nie >

meer my vingers voel nie! Ek maak my baadjie oop en druk my hande onder my kieliebakk­e in. Eers ná ’n kwartier voel ek ’n prikkelend­e brandpyn in my vingers namate die bloed in my hande weer begin sirkuleer.

Die temperatuu­r is -34°C! Enige liggaamsde­el wat jy nie bedek nie, gaan jy verloor.

Die laaste 300 m is moordend. Baie mense draai by hierdie punt om. Jy kan die kruin sien en die stappers bo jou hoor gesels, maar dit voel asof jy in ’n hel van ys is. Dié paar meter gaan jou sowat vier uur neem! Dít smokkel met jou kop. Iewers kry ek ’n skoot innerlike krag. Een. Voet. Voor. Die. Ander...

Ek en Julien is van die eerste mense op die kruin en bring ’n uur daar op ons eie deur. Julien se GoPro-videokamer­a vang my waar ek soos ’n klein seuntjie huil.

’n Paar oomblikke gelede was ek teen die grond; nou voel ek soos ’n kampioen. My 20 jaar oue droom het waar geword.

Ek strompel daardie aand 6 nm. weer by my tent in.

DAG 14-17 Afdraande af

Gisteraand was dit vrekkoud – ek het amper in my tent verkluim! Die klippe waarmee ek die tentpenne toegepak het, het teen die grond vasgevries. Ek moes een klip losskop en dit met geweld op die ander klippe neergooi om my tentjie los te kry.

Ek stap in twee dae by die berg af, eers deur die Nido de Cóndores-kamp waar ek die res van my bagasie optel, en dan na die Plaza de Mulasbasis­kamp. Dis natuurlik báie makliker af as op.

Ek weet nou dat die meeste stappers portiere kry om hulle toerusting in sarsies af basiskamp toe te dra, maar dié idee het nooit by my opgekom nie. Ek het met ’n sak van sowat 40 kg by die berg afgeslinge­r.

Op die laaste dag loop ek ’n volle dag tot by die park se hek waar die bushalte is. Die bus tel my om 8 nm. op en teen middernag is ek terug in die stad Mendoza waar ek en Julien my 43ste verjaardag vier. ’n Pizza, ’n bier en ’n warm stort was die beste geskenk ooit!

WEET VOOR JY GAAN

Hoe werk dit? Ek het van Johannesbu­rg tot in Mendoza gevlieg. Dis drie vlugte: Johannesbu­rg na São Paulo na Buenos Aires na Mendoza en kos sowat R20 000 vir ’n retoerkaar­tjie.

Suid-Afrikaners het nie ’n visum nodig vir Argentinië nie.

Ek het ’n stappermit gekry by die department van provinsial­e woude en parke in Mendoza – dit kos US$600 (sowat R9 000). Kontak hulle op aconcagua@mendoza.gov.ar

Ek het staptoerus­ting by Orviz Mountain Shop ( orviz.com) in die stad gehuur en twee muile by Aconcagua Mountain Guides om bagasie basiskamp toe te dra (R5 000). Jy kan wel jou hele ekspedisie (gidse, maaltye, draers) deur hulle reël.

aconcaguam­ountaingui­des.com Hoe het jy voorberei? Ek het 3 tot 4 keer per week ’n 7 km-roete (met ’n helling van 300 m), met ’n swaar rugsak gestap en fiets gery. Ek het ook wildernisr­oetes in die Wolkbergwi­ldernisgeb­ied en ’n agt dae lange staptog in die Drakensber­g aangepak. Nog wenke? Pak genoeg babapoeier in. Dis jou beste vriend as jy nie kan stort nie! Die grootste geheim is natuurlik die aanpassing by die klimaat – moenie kortpaaie vat op die berg nie.

Kyk na nog van Heinrich se foto’s op Instagram: @heinrich_human

LUS OM OOK SUID-AMERIKA

TOE TE GAAN?

Gebruik ons webwerf wegreis.co.za om die vlugpryse van verskillen­de lugdienste te vergelyk. Óf skakel

021 879 2210 of stuur ’n e-pos na wegreis@travelchec­k.co.za vir hulp.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? LEWE BO SEESPIEËL. Van die hek na die Aconcagua-park het Heinrich gemik na die Confluenci­a-kamp (bo, links), waar hy mate, ’n tradisione­le Suid-Amerikaans­e drankie (links) gedrink het vir ’n kafeïenins­puiting. Die park is die tuiste van die Andesvos (bo).
LEWE BO SEESPIEËL. Van die hek na die Aconcagua-park het Heinrich gemik na die Confluenci­a-kamp (bo, links), waar hy mate, ’n tradisione­le Suid-Amerikaans­e drankie (links) gedrink het vir ’n kafeïenins­puiting. Die park is die tuiste van die Andesvos (bo).
 ??  ?? SNEEUDAG (oorkantste blad). Nido de Cóndores is die tweede van drie “hoë kampe” voordat ’n mens die bopunt van Berg Aconcagua bereik.
SNEEUDAG (oorkantste blad). Nido de Cóndores is die tweede van drie “hoë kampe” voordat ’n mens die bopunt van Berg Aconcagua bereik.
 ??  ??
 ??  ?? ACONCAGUA-HOOFKWARTI­ER. Plaza Canada is die eerste hoë kamp op pad na die spits. Groot rotse keer genadiglik die ysige wind weg.
ACONCAGUA-HOOFKWARTI­ER. Plaza Canada is die eerste hoë kamp op pad na die spits. Groot rotse keer genadiglik die ysige wind weg.
 ??  ?? DIAMANTE IN DIE HEMEL. Die nag daal oor die Plaza de Mulasbasis­kamp.
DIAMANTE IN DIE HEMEL. Die nag daal oor die Plaza de Mulasbasis­kamp.
 ??  ?? LAAG OP LAAG (oorkantste blad). Die uitsig uit Heinrich se tent by Nido de Cóndores-kamp.
LAAG OP LAAG (oorkantste blad). Die uitsig uit Heinrich se tent by Nido de Cóndores-kamp.
 ??  ?? KOUD MAAR MOOI. Heinrich op pad na Summit Ridge (heel bo) en (bo) na Plaza Colera.
KOUD MAAR MOOI. Heinrich op pad na Summit Ridge (heel bo) en (bo) na Plaza Colera.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa