DIE FILIPPYNE IS FANTASTIES!
Ná die fliek The Beach was elke Jan Rap en sy maat in Thailand. En wie het nog nie ’n Bintang-bier in Bali gedrink nie? Maar wat van die Filippyne? Sybrand Mostert besoek dié eilandgroep en wonder waar is al die toeriste...
“Skaars 100 m verder dobber ons skielik in ’n enorme seegroen strandmeer omring deur hoë kranse. Ons duik in die water en swem saam met skole tropiese visse.”
Ek en my vrou, Linda, ruil dikwels huise met buitelanders. Dis pret en ’n goedkoop manier om te reis – ons het al in Londen, Parys en die Italiaanse meregebied gebly. Ons was egter bra skepties toe ons ’n uitnodiging uit die Filippyne kry om te bly in ’n huis in Manila, die hoofstad. Ons weet niks van dié land af nie en boonop is dit vrekver van die huis af. Maar ná deeglike huiswerk besluit ons: hoekom nie?
Die Filippyne is soos wat Bali en Thailand 20 tot 30 jaar gelede gelyk het: Dis meestal ongerep en het nog nie onder hordes toeriste deurgeloop nie. Die plan was om ’n paar dae in Manila te bly en dan van die eilande te verken. Maar watter een – daar is meer as 7 000 eilande in die Filippynse eilandgroep! Kleintjies, grotes, mét geriewe, sonder geriewe of amper geen ontwikkeling nie! Ons kies Bacuit Bay op Palawan, ’n lang, smal eiland suidwes van Manila en die piepklein Small Bamboo-eiland langs die ooskus van die Culion-eiland. Strande, snorkel, skubaduik... Filippyne hier kom ons!
Manila-mania
Die ruilhuis, oftewel -woonstel, is in die gegoede Makati-buurt in Manila. Ons is verlig, want die middestad is rof! Die verkeer is dol, dis stowwerig en wárm – 31°C in die winter!
Ons kuier alte lekker in Makati. Die luukse woonstelgebou is tussen vele parke.
Dis naby verskeie restaurante en vyf reusewinkelsentrums.
In die dag doen ons inkopies en lê langs die swembad met skemerkelkies. En laatmiddag kyk ons hoe die son sak oor Manila Bay – die woonstel is op die 39ste verdieping! Die enigste ding waaroor ons moet besluit, is in watter restaurant gaan ons vanaand aansit.
Ons trotseer die stad op twee daguitstappies. ’n Bestuurder en ’n 4x4 was gelukkig ingesluit in die ruilvakansie. Dit duur tot twee uur om net 30 km te ry! Ons besoek die Pintokunsmuseum net buite Manila. Dié puik museum met verskeie galerye is omring deur ’n tropiese tuin.
Ons volgende uitstappie is na die Intramuros, die ou, ommuurde stad in Manila Bay. Die ganse Manila is byna in die Tweede
Wêreldoorlog vernietig – maar dié ou deel van die stad is mooi gerestoureer.
Beeldskone Bacuit
Tot siens, Manila. Ons vlieg tot op die kusdorpie El Nido op Palawan, die poort tot Bacuit Bay. Die El Nido Garden and Beach Resort aan die buitewyke van die dorp is ons tuiste vir die volgende paar dae. Ek’s verheug oor die swembad. Die see is warm, maar dit is meer verfrissend om in ’n koue swembad af te koel.
’n Paadjie loop voor die oord verby en die driewieltaxi’s wat op en af ry, versteur soms ’n mens se rus. Maar Bacuit Bay is verruklik. Dis die mooiste versameling eilande wat ek en Linda nóg gesien het. Oral in die baai verrys eilande met skerp donkergrys kranse uit die blou water – so ’n kalksteeneiland word ook karst genoem. Omo-wit strande, versteekte strandmere vol vis en grotte wat jou na jou asem laat snak. Bacuit is net so indrukwekkend soos soortgelyke baaie in die suide van Thailand en Viëtnam se bekende Ha Long Bay.
Die beste manier om Bacuit te verken is per boot, en ten minste twee keer! Vier boottoere >
vertrek van El Nido af, elk op ’n ander roete.
Dit was net ek en Linda en nog vier toeriste op die boot – dis duurder maar veel vinniger om ’n klein groepie op en af van die boot te laai. Die eilande is ongerep en hier is nie kaaie of vasmeerplekke nie. Jy moet oor rotse en klippe waad voordat jy in die boot kan klim. Onthou jou waterskoene!
Ons het die Miniloc-eiland twee keer besoek. Stiptelik om 8.30 vm. jaag ons snelboot voor die res van die toeristebote uit. Gilbert is ons vriendelike skipper. Ons is eerste by Miniloc. Sowat 50 kajakke lê in die deining en wieg. Ek en Linda roei elkeen in ’n kajak deur ’n smal kanaal met ’n la-a-ang strand aan die een kant.
Skaars 100 m verder dobber ons skielik in ’n enorme seegroen strandmeer omring deur hoë kranse. Ons duik in die water en swem saam met skole tropiese visse.
Later, terug op die snelboot, luier ons in by ’n groot grot, genaamd die Cathedral. Dit voel asof jy Moeder Natuur se Sagrada Familia binnegaan! Vir middagete mik ons na die Snake-eiland waar die bemanning hulleself oortref: Gebraaide hoender, garnale en vis, voorgesit met vars vrugte en slaai.
Die dorp El Nido is afgeleef. Ek en Linda beoordeel ’n dorp op grond van die toestand van die sypaadjies. El Nido het omtrent geen sypaadjies nie! Mense, honde, katte, motorfietse
en driewieltaxi’s beweeg op en af in die stowwerige strate.
Dinge lyk beter wanneer die son sak. Geen voertuie word snags op straat toegelaat nie, en dan wemel die plek met stalletjies en markte. Toerisme het die afgelope paar jaar posgevat in El Nido en hier’s ’n hele paar goeie restaurante. (Vier jaar gelede was kragtoevoer ’n uitdaging en was hier net een wispelturige kitsbank. Dié probleme is nou uitgestryk.)
El Nido het nie ’n swemstrand nie, dus span ons uit by Las Cabanas se strand, sowat 10 minute se ry met ’n driewieltaxi verder.
Vir middagete smul ons aan garnale en slaai by ’n kafeetjie.
Die Corong Corong-strand ’n entjie teen die kus af is ook besaai met oorde en palmbome, en dis heelwat stiller as El Nido (en het minder restaurante). Ek sou eerder daar wou bly vir die mooi sonsondergange en die rus en vrede, maar Linda stem nie met my saam nie...
Eilandbewoners...
Ons het die lekkerste vir laaste gelos: ’n Paar dae op die piepklein Small Bamboo-eiland, ’n heuweltjie in die middel van die oseaan met ’n strand so groot soos vyf tennisbane.
Hier is net sewe hutte; dus slegs 14 gaste en ’n handjie vol werknemers op die ganse eiland. Al wat jy hoor, is die ritmiese geklots van die branders en die palmtakke wat swiesj in die wind. Af en toe poer-poer ’n bootjie verby.
Die eilandjie het byna geen koolstofvoetspoor nie. Die geboue is van hout, bamboes, rottang en kokosneutdoppe. Hier’s net sonkrag en reënwatertenks sorg vir water. Groente, sitrusvrugte en speserye word op ’n nabygeleë eiland verbou en vissermanne lewer elke dag vars seekos.
Met ons aankoms het 90 seeskilpaaie uitgebroei. Hulle is in skottels gehou en later die aand vrygelaat om hulle kans op oorlewing te verbeter (wanneer daar minder roofdiere is). Die oopplankuierdeel met ’n kroeg en gemaklike leunstoele is die hart van dié ekolodge. Hier is nie ’n amptelike spyskaart nie, maar die kombuisie sorg vir drie maaltye ’n dag: hoender, garnale, tuna, slaai, vrugte...
Die hutte is funksioneel en gemaklik eerder as luuks, maar dit pas by die eiland-atmosfeer. Die dubbelbed staan die hele kamer vol, maar daar is ’n stoepie en ’n koue buitestort. Die hutte het gemeenskaplike badkamers.
Op die strandjie kan jy jou boek lees in ’n hangmat, strandstoel of gemakstoel. Sodra jy uitgerus het, stap jy see toe om te gaan snorkelduik. Tropiese visse dwarrel tussen die koraal, en in die vlak water gly ster- en rogvisse verby. Jy kan dieper swem tot by ’n steil koraalkrans, en ook ’n kajak, ’n stand-up paddle board of snorkelgoed huur. Die baai is ook ’n gewilde bestemming vir vlieër- en windplankryers, en al die toerusting vir die sportsoorte is ook te huur.
Maar vir nou wil ons net ontspan. Ons lê in die son, snorkelduik tussen vissies en saans kyk ons sterre tot ons ooglede swaar word. Dís mos die eilandlewe! >
WAT KOS DINGE?
Etes. In Manila het ons Koreaanse, Japannese, Thaise en Filippynse kos geëet. Hier is heelwat uitstekende restaurante. ’n Tweegangmaaltyd, met drankies, kos sowat R800 vir twee mense.
Op El Nido is die kos goedkoper. ’n Aandete vir twee (seekospasta en mengeldrankies) kos R335. ’n Middagete van garnale, slaai, Chinese rolletjies en twee G&T’s kos R320.
Supermarkpryse is min of meer dieselfde as in Suid-Afrika: R8 vir 500 ml Coke; R28 vir ’n liter melk; R180 vir ’n bottel Australiese chardonnay; R28 vir ’n liter lemoensap; R60 vir ’n mengeldrankie en R30 vir ’n bier in ’n restaurant.
Hoe kom ek daar? Ons het van Kaapstad na Manila gevlieg via Singapoer vir sowat R11 000 p.p. retoer. In Manila is Grab die plaaslike weergawe van Uber. Dit werk nie so eenvoudig soos Uber nie, maar dit is ’n goeie manier om die stad te verken – dit kos sowat R35 vir 4 km.
Van Manila af het ons na El Nido gevlieg, na Coron, en toe terug na Manila. Elke binnelandse vlug ( air-swift.com) het sowat R1600 p.p. gekos. Moderne veerbote vaar ook tussen die eilande – dis heelwat goedkoper.
Blyplek. Ons verblyf in die woonstel in Manila was gratis ( homeexchange.com). Die strandfronthut by die El Nido Garden Resort op die Palawan-eiland het R2600 p.n. gekos. Die oord word gelys op van
bookings.com tot airbnb.co.za. Soek dus op Google vir die beste prys. Oorweeg ook die Mahagony Resort, Las Cabanas Beach Resort, Last Frontier Resort en Double Gem Resort. As dit jou stokvelmaand was, oorweeg een van die luukse El Nido Island Resorts se eksklusiewe blyplekke.
Die hut op Small Bamboo-eiland het R1 511 p.n. gekos en $50 (R800) p.p.p.d. vir drie maaltye ( bambooislands.ph). Ons het via Airbnb bespreek.
Die blyplek sluit nie die bootrit na die eiland in nie. Jy kan die koste met ander gaste deel. Ons het sowat R1 800 betaal.
EILANDE BY DOSYNE!
Die Boracay-eiland is so gewild dat die regering dit in 2019 moes sluit om dit ordentlik skoon te maak. Dis nou weer oop. Daai eilande wat jy op toerismebrosjures sien... Boracay lyk presies so!
Die Cebu-eiland bied die beste snorkel- en skubaduikgeleenthede in die Filippyne: walvishaaie, seeskilpaaie, kleurryke koraalriwwe... Skubaduikers is ook gaande oor die Apo-rif, ’n gesonke ringvormige koraaleiland naby die Mindoro-eiland.
Op die Palawan-eiland se hoofstad, Puerto Princesa, vloei ’n ondergrondse rivier vir sowat 8 km.
Die Underground River, vol stalagmiete en stalaktiete, is ’n Unesco-wêrelderfenisterrein. Die rivier mond in die see uit, en wemel van die vis en ander seelewe.
Tao Expeditions ( taophilippines.com) bied ’n vyf dae lange seilvaart aan tussen El Nido en die Coron-eiland waar jy elke aand op ’n verlate eiland slaap.