Weg!

PIERRE SE BRIEF

- PSteyn@media24.com

Hierdie is ’n moeilike redakteurs­brief om te skryf. Teen die tyd dat jy hom lees, is dit drie weke later. Wie van ons weet hoe die wêreld môre gaan lyk, wat nog te sê 21 dae van nou af? Dalk lees jy net hierdie woorde op ’n skerm, want in dié stadium – op die eerste dag van Suid-Afrika se inperking weens die Korona-virus – is daar ’n kans dat die 187ste uitgawe van Weg net digitaal beskikbaar sal wees aangesien ons nie tans op papier kan druk nie.

Ons spanne staan wel gereed om dit te druk en versprei sodra ons toegelaat word om dit te doen. Natuurlik hoop ek dit gebeur, maar as ons nie kan nie, kan ons nie. Dan maak ons ’n ander plan – iets waarmee Suid-Afrikaners nogal goed is. Dis hoekom dit ook vir my ’n bemoedigen­de redakteurs­brief is om te skryf, al lyk die wêreld om ons donker. Ek sien hoe ons redaksione­le en bedryfspan­ne, ons advertensi­evennote en ons jare lange vriende in die reisbedryf mekaar ondersteun, op hulle voete dink en planne maak. Weg se mense werk harder as ooit, al is dit agter ons rekenaars in ons woonplekke.

Sedert ons ontstaan in 2004 is ons gefokus op reis in Suid- en Suider-Afrika. Ons is trots Suid-Afrikaans en Afrikaan. Ons skryf eerlik oor bekostigba­re bestemming­s, en ons tree as padvinders op sodat ons lesers met gemoedsrus ons land en vasteland se mooi plekke kan verken. Maar ons is veel meer as net ’n gids of bestemming­stydskrif – ons vertel ook die stories van die unieke mense wat ons op ons reise raakloop. En gelukkig het ons ’n magdom stories wat nog geskryf moet word. Ons werk nou is om leunstoel-ontvlugtin­g te bied. Neem verbeeldin­gsreise saam met ons, lees stories oor plekke waarvoor jy lief is, en plekke wat jy droom om eendag te besoek.

En moenie bekommerd wees as jy nie jou Weg onmiddelli­k in die winkel kan koop nie. Al ons tydskrifte en gidse kan digitaal afgelaai word by zinio.com, magster.com en pressreade­r. com. Intekenare van Netwerk24 kan Weg onder e-publikasie­s vind om die jongste uitgawe – en ook uitgawes uit die argief – te lees. Pas julleself asseblief mooi op, en wees gaaf met ander mense. En beplan solank daai vakansie, want ook hierdie wêreldstor­m sal verbygaan.

RE REDAKTEUR

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa