BRIEF UIT KNYSNA
Die snorkel-entoesias Helen Walne weet hoe lyk die Knysnastrandmeer onder water. Moet haar egter nie vra of die vis loop nie...
“’n Oorentoesiastiese seekat het al teen my vasgesuig met sy tentakels, deurskynende garnaaltjies het al aan my geknibbel, ek is al agtervolg deur ’n dubbelbandvlindervis én gekielie deur see-anemone in die koelte van ’n kaai.”
‘Al hierdie rommel, tesame met eindelose lekkergoedpapiere, druk ek voor by my surf- hemp in...’
Ek lyk seker vreemd: ’n Bedremmelde vrou wat in die vlak water rondploeter soos ’n afgetrede krokodil, in net ’n verbleikte surf- hempie en ’n Mr Price-mansonderbroek.
Toe ek regop staan, hoor ek die jillende kinders op die kaai en sien hoe ouers in my rigting beduie. Hulle het ’n halfsekonde gelede nog gedink hulle sien ’n rare doegong raak. “Ag, dis net ’n vrou,” sal Ma of Pa brom, en dan die kroos wegsleep na die naaste koffiewinkel vir ’n sny koek – of hoe ook al somervakansiegangers hulle tyd verwyl op Knysna.
Winter is egter my gunstelingtyd in dié dorp van seeperdjies en skibote. Die strandmeer is dan koud en helderskoon, en die enigste hengelaars is die vroue wat elke dag met handlyne van die hawehoof af visvang. “Is daar vis?” sal hulle my vra wanneer ek verbysnorkel. “Baie, en grotes!” sal ek antwoord.
In die somer vra mans met groot visstokke my vreemde dinge: Kan ek dalk afduik en rondkyk vir ’n paar plakkies wat ’n vriend twee dae gelede hier rond verloor het? Soek ek kreef? En hoe groot is die vis? Vir húlle vertel ek dat ek heeldag nog niks vis gesien het nie.
Ek besoek Knysna gereeld om vir my ouers te kuier en om seker te maak my ma het nie weer geval nie. Maar ek kom ook vir die water; die skoonheid wat onder die oppervlak van die strandmeer verskuil lê. Tog sien ek nooit enigiemand anders hier snorkelduik nie. “Jig, nee, dis vuil daar,” sal die puriste onder my duikvriende sê. “Wat op aarde is daar te sien?”
Aa, my vriende! In die Knysna-strandmeer – tussen die bootjies en die vergete buitebande, die slik en die seewier – het ek al van my beste waterskatte opgespoor. ’n Bloupylstert wat so naby my verbyseil dat ek daaraan kan raak. Seekatte wat feestelik uitkamp naby hulle mosselskulpversierde lêplekke.
Ek gee hulle name: Dwayne, Duncan en Robert. Een slag het ek twee naakseeslakke opgespoor wat op een of ander manier hulleself uit hulle tropiese tuiste in die Filippyne hierheen gesmokkel het. Ek het al eienaardige inkvisse gesien, en Shrek-agtige slakke. ’n Oorentoesiastiese seekat het al teen my vasgesuig met sy tentakels, deurskynende garnaaltjies het al aan my geknibbel, ek is al agtervolg deur ’n dubbelbandvlindervis én gekielie deur see-anemone in die koelte van ’n kaai.
En ek het al die seeperdjies gesien! Na dosyne invalle in die strandmeer weet ek waar hulle woon. Bedreig, en so skugter soos lamplig tydens beurtkrag – en slordiger as wat jy sou dink – vereis dié seeperdjies ’n sagte, stadige aanslag. Hulle knik hulle koppies en hou jou dop met moeë ogies. En swem dan stadig weg, die piepklein vinne op hulle ruggraat wat fladder asof daar ’n bries is.
Daar is ook hartseer gesigte: ’n Dooie rog op die bodem van die strandmeer met ’n bek vol hoeke; ’n jong strepie verstrengel in vislyn en “vasgeboei” aan ’n klip. Dié kon ek darem loswoel en red.
Vonkelwynbottelproppe, Wet Wipes, plastiekballe – al hierdie rommel, tesame met eindelose lekkergoedpapiere, druk ek voor by my surf- hemp in en vat dit saam met my om weg te gooi.
Ná twee uur in die water een wintersoggend, my hande gevries in kloue, strompel ek uit die water en in die rigting van my kar. Ek is deurmekaar van die koue, maar met ’n glimlag op my gesig.
“Wat het jy gesien?” vra ’n visserman my. Hy is besig om hengelgerei van sy afgeleefde bakkie af te pak.
“Áls!” antwoord ek uitgelate, en net daar in die parkeerterrein wys ek hom die foto’s op my onderwaterkamera. “Sjoe,” sê hy, “ek het geen idee gehad dat hier so baie lewe is nie!”
“Min mense weet dit,” antwoord ek.
Terwyl ek na my kar stap, roep hy agterna: “Enige vis?”
Ek het gemaak asof ek hom nie hoor nie. Toe ek wegry met my kar se verwarmer op sy warmste, tuur ek oor my geliefde strandmeer en sy onderwatertopografie wat ek so goed ken.
Iewers hier in die baaitjie word Dwayne en Duncan dalk pas wakker; verder diékant, weet ek, skuil ’n ruiker vol bekerdiere, tans besig om fyn kossies deur hulle glasagtige lywe te filtreer; en, net links van die verroeste ysterstruktuur wat doer uitsteek, glip ’n dubbelbandvlindervis moeiteloos deur die water, min gepla met Eskom, olifante, of croissants wat iewers in die son verorber word.