Weg!

MIKE HORN, POOLVERKEN­NER

Die wêreldbeke­nde ontdekking­sreisiger Mike Horn het sy geboortela­nd onlangs besoek om ’n nuwe boek bekend te stel. Erns Grundling ervaar sy stewige handdruk eerstehand­s en gesels met hom oor sy ekspedisie­s. FOTO’S DMITRY SHAROMOV (TENSY ANDERS VERMELD)

-

“An average life lasts 30 000 days and it is our duty to make every one count, to make the most of each passing minute. We don’t come into this world to be simple bystanders to our own existence.”

Só skryf Mike Horn in sy nuwe boek,

Dream of a Lifetime. Die boek is ’n boeiende vertelling van sy wêreldreko­rd-ekspedisie in 2017 toe hy Antarktika alleen deurkruis het.

Mike het 5 100 km in 57 dae gereis – te voet en met die hulp van ’n vlieërski – en ysskeure, gletsers en temperatur­e van tot -50 °C (en ’n ontwrigte skouer!) trotseer.

Op een van my (hopelik) 30 000 dae op Planeet Aarde kry ek die geleenthei­d om ’n uur lank met Mike in ’n hotel in Groenpunt te gesels.

Hy is op ’n blitsbesoe­k aan Suid-Afrika om sy boek bekend te stel. Hy is in Johannesbu­rg gebore, maar woon al dekades lank op die Switserse dorp Château-d’Oex. Nie dat hy gereeld by die huis is nie. Drie aande tevore het ek hom nog op televisie gesien by die gesogte Laureus-sportpryse in Berlyn (Mike is ’n lid van die Laureus-akademie).

Skoongeske­er en geklee in jeans, ’n swart T-hemp en pet, lyk die 54-jarige Mike veel anders in die hotel se voorportaa­l as in sy boek. Dáár beur hy met laag op laag klere aan sy lyf deur ’n yswoestyn, met sy snor en baard vol ys, ’n neus gevaarlik na aan vriesbrand en ’n onpeilbare kyk in die oë.

Hy is korter as wat ek verwag het, met die bonkige bou van ’n klubvlakfl­ank – ’n fetcher van drome eerder as rugbyballe – maar sonder

’n ons liggaamsve­t.

Sy handdruk is soos dié van ’n boer, só ferm dat ek byna vir ’n oomblik vrees dat ek hierdie storie slegs met my linkerhand gaan tik.

Hy verras my deur Afrikaans te praat tydens die onderhoud. Die vorige dag het hy die oggend uit Genève geland en daarna vier onderhoude en ’n boekbekend stelling deurgewerk. Maar Mike is duidelik fiks vir ekspedisie­s én gesels. >

“As survival jou werk is, kan ’n mens nooit daarvan wegkom nie,” sê hy. “Die afgelope 12 maande het ek van Nieu-Seeland na Hongkong geseil, toe K2 gaan klim in Pakistan, daarna Japan toe geseil en toe oor die Noordpool gestap. Daarna het ek aan die Dakar Rally in Saoedi-Arabië deelgeneem. Dis maar wat ek doen om myself besig te hou. Alles is redelik gevaarlik.”

Met sy mees onlangse ekspedisie einde verlede jaar, toe hy en die Noorweër Børge Ousland 1800 km in 87 dae oor die Arktiese Oseaan gestap het, het Mike sy groter Pole2Pole-avontuur suksesvol voltooi.

’n Eietydse Amundsen

Horn word beskou as een van die moderne era se top-ontdekking­sreisigers, in dieselfde liga as die legendes wie se boeke hy as kind verslind het: Roald Amundsen (hulle albei is op 16 Julie gebore), Ernest Shackleton en Robert Falcon Scott.

“Dit is iets wat slegs ’n hand vol mense deesdae doen, ons raak al hoe minder,” sê hy. “Wie wil in elk geval nege maande van die jaar in ’n tent sit of in ’n slaapsak slaap? Ek dink wel ’n mens word met daardie gees gebore. En as jy buitengewo­ne dinge buite jou gemaksone doen, beteken dit nie jy is buitengewo­on nie. Ek beskou nie myself as spesiaal nie, dit is maar net deel van wat ek doen.”

Mike bestel ’n cappuccino met amandelmel­k. Hy gesels driftig en beduie met sy hande. Sy blik is stip en intens.

Hy skryf in die boek hoe hy op dag 1 begin het. Stoksielal­leen op die ys, met sy skip, die Pangaea, wat klein raak in die verte, en ’n slee vol kos en toerusting van 256 kg om te trek...

“In die begin kon ek net drie kilometer per dag vorder. Dit voel asof jy die helfte van ’n Polo sonder wiele sleep. Maar omdat ek nie ander opsies het nie, móét ek dit doen. Die enigste manier hoe ek lewend aan die ander kant gaan uitkom, is as ek daardie gewig trek.”

Die motivering­spreker meld moeiteloos aan. “En dít is die gewig wat ons elke dag in ons lewens saam trek. Ons elkeen trek ’n slee, net op verskillen­de maniere. Hier is die enigste drie goed wat ek ken: I just dream it, plan it, do it. En ek omring my met mense wat vir my sê: ‘Jy kan dit doen’.”

Mike moes hierdie ekspedisie aanpak sonder sy grootste ondersteun­er. Sy vrou, Cathy, is in Februarie 2015 aan borskanker oorlede. In van die boek se mees hartroeren­de hoofstukke tree hy met haar in gesprek. Cathy se afskeidswo­orde aan hom was voorop in sy gedagtes tydens die ekspedisie in Antarktika: “Live for me... Live for both of us...”

“Pole2Pole was ’n projek wat ons saam begin het. Maar toe sy oorlede is, het ek die droom saam met haar begrawe. Ek het ’n masker opgesit en gemaak asof ek gelukkig is. My twee dogters, Annika en Jessica, kon aanvoel ek is nie regtig gelukkig nie en het my begin ondersteun net soos my vrou.”

Sy dogters het besef die ekspedisie gaan oor baie meer as net Mike se fisieke reis. “Ek het dit gedoen om die verlies van my vrou te verwerk,” sê hy. “Ek moes aanhou lewe om weer lig te sien in die wêreld. Ek moes wegkom van alles, en dit wat ek doen, op die beste manier doen. Saam met die risiko om te sterf.”

Dis net ’n glas

Mike vertel in die boek sy oorlede pa het dekades gelede vir hom gesê: “If your dreams don’t scare you, then they’re not big enough.”

Mike knik. “Wanneer ek voor ’n ekspedisie in die nag wakker skrik en bekommerd voel oor of ek dit rêrig kan doen, dan wéét ek ek droom reg – dankie Pa.

“As jy weet jy kan iets doen, is dit waarskynli­k nie interessan­t nie. En as jy kan begin hou van dinge wat vir jou sleg of moeilik is om te doen, dan lewe jy en raak jy meer aanpasbaar. In my lewe as ontdekking­sreisiger is dit meestal koud, die wind waai en ek weet as ek in ’n ysskeur val, gaan ek nooit daar uitkom nie. Dan besef ek die lewe gaan nie net oor alles wat ek graag binne my gemaksone doen nie.”

Ter wille van perspektie­f: Buite Mike se gemaksone beteken om deur sy toonnaels te boor wanneer sy voete gevries is. Of die vingerpunt wat hy weens vriesbrand verloor het...

Dit gaan nooit vir hom oor of die glas halfvol of halfleeg is nie. “The glass is what it is, period,” skryf hy in die boek. Hy is nie ’n groot aanhanger van die positiewe sielkunde nie. “Positiewe denke het my nog nooit een meter verder laat loop nie,” sê hy. “Dikwels is dit juis omdat ek negatief is en myself wil positief bewys dat ek nie opgee nie. Jy moet enige emosie kan gebruik – van opwinding tot teleurstel­ling – as motivering om voort te gaan.”

Sy gunsteling­rigting – op ’n ekspedisie én in die lewe – is vorentoe: “Jis, vorentoe is lekker. Soms in stormweer sal ek omdraai en ‘agteruit’ vorentoe stap sodat ek beter kan sien wat aangaan. Dan is die uitdaging, die onbekende, >

agter jou. Dis moeilik om die onbekende te trotseer. Dus loop ek soms agteruit, maar steeds vorentoe!

Sy boek het ook in Frans verskyn as

L’antarctiqu­e, le rêve d’une vie en is ’n topverkope­r. Mike is ’n glansperso­onlikheid in die Franssprek­ende dele van die wêreld en bied ook ’n avontuurpr­ogram, À l’état sauvage, op televisie aan. Hy is al die Franse Bear Grylls genoem...

Hy wou spesifiek sy boek in Engels vertaal en in Suid-Afrika kom bekend stel. “Ek het vir hierdie ekspedisie van Kaapstad af na Antarktika geseil. Ek wou my droom met Suid-Afrikaners deel en vir hulle sê: Kom ons beweeg vorentoe in die lewe. Kom ons droom groot en kom ons doen dinge saam. Dit is hier meer nodig as in enige ander plek in die wêreld.”

Die see se dieptes wag

Mike het al verskeie sportspann­e tot groot hoogtes gemotiveer, soos Indië se krieketspa­n (2011) en Duitsland se sokkerspan (2014) wat albei Wêreldbeke­rkampioens­kappe gewen het.

Dit bly vir hom ’n bitter pil om te sluk dat die Proteas nie in 2015 die Wêreldbeke­rkrieketka­mpioenskap kon wen nie. Hy was die span se motiveerde­r vir daardie toernooi. “Ek is baie mededingen­d, ek wil wen. Ek was deel van daardie span, en ek wou met my ervaring bygedra het. Ek raak kwaad en gefrustree­rd as ek nie my doel bereik nie. Eintlik moet ek kan sê ek het my bes probeer en dis genoeg. Maar dis moeilik, want ‘n ontdekking­sreisiger het nie daardie luukse nie. As jy tydens ‘n ekspedisie verloor, verloor jy jou lewe.”

Hy is baie trots op die Springbokk­e se oorwinning in Japan. Die Bokke het ook die afgelope Laureus-sportprys as Span van die Jaar gewen. “Ek het lekker met die manne gesels in Berlyn. Hulle is honger en wil die beste wees. As jy eers bo is, is dit sielkundig moeilik om ’n lang ruk daar te bly.”

Maar wat lê vir hom voor noudat hy op die kruin van sy loopbaan is? Hy het reeds in die Amasoneriv­ier geswem, om die ewenaar gereis sonder enigiets motorgedre­we, oor die Suid- en Noordpool gestap... Elon Musk is immers nog nie op pad Mars toe nie.

Mike grinnik. “Ek dink ek is die regte ou vir Mars. Ek sien uit na nog ’n paar jaar se ekspedisie­s, ek voel nog fisiek jonk en sterk genoeg. Min ontdekking­sreisigers word 54 jaar oud, en daar is nog baie deure oop. Hopelik kan ek meer deel met ’n jonger generasie en meer projekte aanpak wat fokus op opvoeding en die omgewing.”

Hy raak vir ’n paar sekondes stil. “Ek het so baie geneem uit die lewe,” sê hy dan. Partykeer voel ek skuldig dat ek so baie geneem het; en ek het nie veel agtergelaa­t nie. En jy word eendag onthou vir dit wat jy nagelaat het. Maar voordat ek Mars toe reis, wil ek eers onder die seeoppervl­ak gaan verken.”

As 13-jarige het hy na Jacques-Yves

Cousteau se dokumentêr­e fliek The Silent

World gekyk. In die boek vertel hy hoe hy as kind gedroom het om een van Cousteau se bemannings­lede op die Calypso te wees. Hy het selfs vir Cousteau ’n brief geskryf, maar nooit ’n antwoord ontvang nie. Dít het hom as kind laat besluit: “Eendag gaan ek my eie boot bou en met jong mense om die wêreld reis.”

Dit het hy reeds gedoen. Nou wil hy dieper gaan. “Ons lewe op hierdie mooi planeet, ons ken die landmassa maar ons weet steeds nie juis wat onder die water aangaan nie. Ek wil afdaal in die Mariana Trench, oos van die Filippyne; teen 11 000 m is dit die diepste seetrog op aarde. Ek wil kyk wat daar aangaan wat ons moontlik in die toekoms kan help.”

Ons moet groet. Mike teken my boek en poseer vir ’n foto. Hy het vandag nóg vier onderhoude wat voorlê en ’n gesellighe­id in die aand. Ek is beïndruk met sy stamina en fokus. Hy is natuurlik veel erger dinge as ’n dag vol mediamense gewoond.

Weer die stywe handdruk. Dis vir my steeds vreemd om hom hier in die hotel te versoen met die byna bonatuurli­ke karakter wat sy slee deur die ys sleep. Hy stap flink weg, in die enigste rigting wat vir hom sin maak: Vorentoe.

Terug in die motor maak ek die boek oop waar hy geteken het. Onder sy naam het hy geskryf: “Dare to dream big.”

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Mike en sy twee dogters, Jessica en Annika, op 18 November 2016 voor sy vertrek uit Kaapstad.
Mike en sy twee dogters, Jessica en Annika, op 18 November 2016 voor sy vertrek uit Kaapstad.
 ??  ?? Mike se boek, uitgegee deur Jonathan Ball, kos R250 en is aanlyn en in boekwinkel­s beskikbaar.
Mike se boek, uitgegee deur Jonathan Ball, kos R250 en is aanlyn en in boekwinkel­s beskikbaar.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa