Weg!

TOEKA SE DAE

-

ANNAS FAUL van Caledon vertel: Ek en my pa, Annas sr., het ons eie reusagtige Volkswagen Kombi in 1971 voltooi. My pa het dié voertuig self ontwerp – dit was meer as 9 m lank, 2,6 m breed en 2 m hoog! My pa was ’n verkoopsma­n by Ford op Prieska in die Noord-Kaap. Karre was sy passie; hy het hulle binnegoed verstaan en al die toerusting gehad om die “Padvark” te bou soos dit in April 1993 se Volksie Familie- tydskrif gedoop is.

Die Kombi is op die onderstel van ’n vyf ton swaar Thames Trader-vragmotor gebou en sy raamwerk het bestaan uit ses Kombi’s wat aan mekaar vasgesweis was. ’n Tweedehand­se 1956-Ford F100-sessilinde­r-petrolenji­n het dié monster aangedryf, en die 114-liter-petroltenk was ons eie handewerk.

My pa moes net die Kombi vir die voorkant van die wa koop – vir ’n skamele R50. Die ander vyf was skenkings.

Eerstens het ons ’n groot tafelraam van yster gebou. Ons het drie Kombi’s in die lengte van voor tot agter deurgesny, en elke kant met 40 cm verleng om die voertuig breër te maak. Ons het die afgesaagde stukke van die drie Kombi’s met plofklinkn­aels ( pop-rivets) en gom aan die ysterraam vasgemaak. Die hele toetie is op die onderstel van die vragmotor geplaas en gesweis.

Daarna het ons ’n houtvloer regdeur die voertuig gelê. Die ander drie Kombi’s het ons horisontaa­l deurgesny, sowat 8 cm onder die syvensters om die dak van die voertuig te lig. My pa het dit gehaat om in tente en woonwaens te buk en wou seker maak dat ’n volwasse man gemaklik in sy Kombi kon rondstap.

Ons het ’n slaapbank agter in die Kombi gebou wat in ’n dubbelbed kon oopvou. Die kombuis was in die middel, met die eet- en sitkamer aan die voorkant, wat ook ’n tweede slaapkamer kon wees.

Die rusbanke agter die bestuurder­sitplek kon oopvou in twee driekwartb­eddens.

Die voertuig is daarna met ’n dun aluminiump­laat geïsoleer en kassies is ingebou. Die “Fordswagon” het drie jaar geneem om te bou en altesaam R3800 gekos.

Ons moes die heining verwyder om die wa uit die erf te kry. Nadat my pa se skepping padwaardig verklaar is, het ons op Port Alfred vakansie hou. Jy kan jou voorstel hoe verbaas die dorpenaars was toe hulle ons sien aankom.

Kort voor lank het die hele dorp gegons oor “Annas Faul se woonwa”. Groepies mense sou ons gereeld aangaap.

Ongelukkig is my pa twee jaar later oorlede en moes my ma die wa verkoop. Ek sou dit graag by haar wou oorkoop, maar ek was maar net 18 jaar oud en ’n eerstejaar­vakleerlin­g by die Spoorweë met ’n salaris van R60 per maand!

Deesdae is mikrohuise en TV-reekse soos Small House Nation hoogmode. My pa was duidelik ’n man ver voor sy tyd!

As jy dalk weet wat van Annas se pa se Kombi geword het, stuur vir hom ’n e-pos by

2782574155­2@vodamail.co.za.

 ??  ?? Die Fauls se kolossale kombi kon selfs hulle boot sleep op pad na Port Alfred. Dié monster het bestaan uit ses kombi’s.
Die Fauls se kolossale kombi kon selfs hulle boot sleep op pad na Port Alfred. Dié monster het bestaan uit ses kombi’s.
 ??  ?? Kloksgewys van links af: Die Fauls het die kombi in hulle agterplaas gebou. Hulle moes ‘n deel van die heining verwyder om dit uit die erf te kry! Die wa se eerste bestemming was Port Alfred. Die ganse dorp was in rep en roer oor die bly-en-ryding. Die kombi is stuk vir stuk gebou – hier is die houtvloer pas gelê.
Kloksgewys van links af: Die Fauls het die kombi in hulle agterplaas gebou. Hulle moes ‘n deel van die heining verwyder om dit uit die erf te kry! Die wa se eerste bestemming was Port Alfred. Die ganse dorp was in rep en roer oor die bly-en-ryding. Die kombi is stuk vir stuk gebou – hier is die houtvloer pas gelê.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa