Weg!

Thaddeus Chedau

-

Thaddeus is ’n hoofman van een van die Khwe-Boesman-gemeenskap­pe naby Divundu. Hy is 60 jaar oud en gebore in die ooste van wat nou die BwaBwatana­sionale park is. Hy het my op ’n stappie deur die bos geneem (hy doen dit soms vir toeriste) tussen die B8-teerpad en die Kavangoriv­ier, net buite die grens van die nasionale park, naby Divundu.

‘Watter diere dink jy eet so?” vra Thaddeus. Hy wys na die geskoffeld­e grond by ons voete. “Vlakvarke?” raai ek.

“Jy’s reg,” sê hy, “jy’s miskien ’n jagter. Daar is baie vlakvarke hier. Die olifante was ook onlangs hier, ek het hierdie week spore gesien. Hulle is nie ver nie. Hier teen drieuur se kant sal jy hulle hoor, want hulle het kleintjies, hulle moet water toe en kan nie so lank weg van die rivier af bly nie.”

“Hierdie stuk woud wil ons nie opkap nie. Hierdie boom, dis die knoppiesdo­ring. Onse tou kom uit hierdie boom, ons maak dit van die vesel onder die bas. Wanneer ons huisbou, het ons dit nodig.

“Tradisione­el is ons mense versamelja­gters. As jy so lewe, dan kom jy gereeld, elke paar maande, op plekke wat jy dalk nie ken nie. Wanneer jy so by ’n nuwe plek kom en jy jag en word dors, miskien weet jy nie waar die waterpan is nie – dan is dié my GPS.”

Thaddeus wys na waar ’n olifant modder teen ’n boomstam afgeskuur het.

“Hierdie vertel my die olifant kom van die pan af. As sy spore nog staan, kan ek hom net volg. Ek volg dan daai olifant terug na water toe.

“Partykeer is jy in die bos, saam met jou vrou en babatjie. Dalk sien jy wolke wat baie sterk is, dan kom die reën sterk.”

Hy buk af na die fyn rank van ’n soort katdoring.

“Jy vat sy blare en gooi dit op die vuur, dan sal die rook die wolke swakker maak. Jy sal sien die wolke gaan uitmekaar.”

’n Ander plant, wat hy “kjoenkjara­t” noem, se wortel is ’n soort moetie.

“Ou mense van my ouderdom of ouer gebruik hierdie ding as jy jag. Jy kan nie meer heeldag agter diere aanhardloo­p

nie, want die ouderdom het vir jou gevat. Jy vat die wortel, en loop by die spoor van wat jy wil jag – eland of koedoe of wat ook al. Jy spoor, jy spoor, jy spoor. Jy kry waar die dier gepiepie het, en jy vat daai spoor.”

Hy beduie hoe jy die spoor uit die sand opskep met jou hand, en die sandjies dan in jou sak gooi en saamdra.

“Later kry jy die dier wat stop, omdraai en staan en kyk vir jou – en dan weer begin hardloop. As hy begin hardloop, dan maak hy mos só.”

Hy wys hoe ’n spoor sou lyk wanneer die dier skielik wegspring, dat die sand eenkant toe spat.

“Jy kom tot by daai plek waar die bok begin hardloop het, en gaan sit, en sê ‘kjoenkjara­t-kjoenkjara­t-kjoenkjara­t’ terwyl jy die wortel tussen jou palms vryf en gwha! Dan plant jy die wortel daar in die sand. Skaars 150-200 m verder sal jy sien die dier begin swakker word. Swakker, swakker, swakker.”

“So jy toor hom ’n bietjie?” vra ek.

“Ja. Hy maak die dier se kop baie seer.” “Soos hoofpyn?”

“Ja, hy kan nie eens mooi hardloop nie.”

Dis warm en ons begin stadig terugdraai na waar ons voertuig geparkeer is.

“Ek het saam met my pa oor spoorsny geleer. As jy eland jag, dan sê hy ‘moenie water drink uit die kalbas nie, want dan gaan jy nie die eland doodmaak nie’.

“Jy dra net die water en sny sy spoor tot jy hom kry. As dit eland is, drink jy nie water nie. As dit koedoe of vark of ander diere is, mag jy water drink as jy dors voel.”

Ons stop by olifantspo­re, en Thaddeus onthou ’n storie.

“Eenkeer stap ek hier en hoor iets by die bos. Ek hoor ‘fha, fha’ – iets wat die reuk soek. Dis ’n olifant.

“Ek kyk, maar ek sien nie. Die olifant beweeg nie. Hy het kind kom kry daai aand. Ek het klaar verby die kind gestap – die ma staan voor my, en ek is in die middel. Die ma ruik my, maar sien my nie. Ek hoor weer ‘fha, fha’. Ek gaan terug. Bietjie, bietjie, sy sien my nie. Later gaan ek verby die kindjie. Ek dink: God het my baie mooi opgepas.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa