VOËLS
“Uile jag met ’n hele arsenaal wapens. Die meeste spesies kan – danksy vlugvere met sagte rafelrande – geruisloos vlieg.”
DEUR
staat om in swak lig te kan jag.
Maar die uil se spesiale wapen is sy uitstekende gehoorsintuig. Sy vermoë om klank te hoor is min of meer gelykstaande aan ons s’n.
Maar anders as ons, kan uile vasstel presies waarvandaan ’n klank kom. Daai kiertsregop “ore” bo-op heelwat uilspesies se kop is eintlik vereklossies en het niks met hulle gehoor uit te waai nie.
Uile en ander voëls se ore is bloot gate in die kante van hulle skedel, gewoonlik bedek met
’n paar vere. En die oorgate van die nonnetjiesuil is asimmetries; die een sit dus hoër as die ander. Gevolglik hoor die uil se ore ’n klank op ietwat verskillende oomblikke, wat hom dan in staat stel om die oorsprong van die geluid noukeurig te bepaal. Verder dien die stywe, hartvormige verekrans op die nonnetjiesuil se gesiggie as ’n satellietskottel wat klank versterk.
Dit laat armsalige diertjies wat snags rondskarrel met net ’n skrale kans om te ontsnap. Dink net hoe bloedstollend klink die nonnetjiesuil se gekrys vir hulle!
En vir mense ook. Hierdie grieselrige klank het waarskynlik aanleiding gegee tot menige mens se wantroue in uile.
Maar eintlik is uile boeiende voëls en hulle speel ’n groot rol in plaagbeheer. In die vet jare skiet knaagdiersyfers gewoonlik die hoogte in. In antwoord hierop broei nonnetjiesuile dan vir die beker. Waar een wyfie in ’n gewone jaar gemiddeld ses eiers lê, kan sy in ’n bloeityd tot 19 lê!
Die teenoorgestelde is ook waar: In die maer jare hou sy haar in en broei soms glad nie.
Wanneer dit by neste kom, is die nonnetjiesuil nie kieskeurig nie. Enige holtetjie of spleet sal deug.
In die veld broei hulle gewoonlik in grotte, hol boomstamme of ou hamerkopneste, maar in beboude gebiede sal jy hulle neste bo-op dakke, skoorstene en watertenks sien en selfs in myne en op groot masjinerie.
Geboude en goed geplaaste uilkaste word gou ontdek. Ons het eens ’n vakansiehuis by die Vaalkopdam buite Pretoria gehad en ’n broeipaar het daar hulle intrek in só ’n uilkas geneem. Ek het gedink dis fantasties wanneer muisgeraamtes gaste op die voorstoep welkom heet, maar my ma het nie saamgestem nie...
As een van die min voëlsoorte wat bykans wêreldwyd voorkom, is die nonnetjiesuil ongetwyfeld een van die mees aanpasbare en suksesvolle uilspesies – én een van die dominantste nagjagters. Wanneer jou nekhare weer een donkeraand orent vlieg van daardie spookagtige roep, hoop ek dit is nie van vrees nie, maar eerder verwondering.