STAP SAAM: KAAPSTAD SE WILDERNIS
“Ons gewaar ’n sebra, ’n rooipensskilpad, ’n bontebok en ’n rooiborsjakkalsvoël skaars 3 km binne die Kaap van Goeie Hoop-deel van die Tafelbergnasionale park.”
Ons gewaar ’n sebra, ’n rooipensskilpad, ’n bontebok en ’n rooiborsjakkalsvoël skaars 3 km binne die Kaap van Goeie Hoop-deel van die Tafelberg- nasionale park. Dis nou nie die Groot Vyf nie, maar die park grens aan een van SuidAfrika se grootste stede en dié deel (Kaappunt genoem in die volksmond) beslaan net 77 km².
Ek en my twee dogters, Emilie (8) en Bella (5), is op pad na die Olifantsbosstrand langs die westelike kus van die Skiereiland om die Skeepswrakroete te stap.
Kaappunt is ’n verbasend “wilde” plek en ons voel gou soos skipbreukelinge langs ’n vreemde kus. Dít is om twee redes. Eerstens lyk die stuk kuslyn waarlik ongerep: Die blou Atlantiese Oseaan grens aan leë strande, wat jy met ’n paar bobbejane en hadidas deel, en ’n landskap oortrek met kusfynbos en klipperige koppies.
Daarby het ek my heeltemal misgis met die aanwysings van die staproete...
Die plan is om die Skeepswrakroete te stap en dan met die Sirkelsvleiroete terug te stap na ons voertuig.
Dit klink mos eenvoudig, nè?
Hoewel die bordjie by die Olifantsbosparkeerterrein duidelik sê “Direct route: Along sea shore and return 1.5 hours” kyk ek dit heeltemal mis. Die troppie volstruise en mak bontebokke het my aandag afgelei. Trouens, die bontebokke is só volop (en mak) soos hoenders op ’n plaaswerf; elke nou en dan dop een agter ’n bos uit.
Van die bordjie af loop die paadjie in die rigting van die see. In die somermaande staan koningskandelare soos helderrooi wawiele in die veld.
Teen die see lê klipplate en groot rotse. Vóór die klipplate draai nog ’n paadjie na links.
Aangesien ek saam met my twee kinders stap, kies ek die “road more travelled by;” dus die netjiese paadjie eerder as om seelangs oor die rotse te sukkel.
Ons stap ’n halwe kilometer tussen kusfynbos deur. Ek sien geen bordjie of klipstapel nie... ’n Mens verwag mos om in ’n stadium nader aan die strand te beweeg. ’n Keer of wat vat ek ’n afdraaipaadjie tot op die klipplate, maar sien geen verdere tekens van ’n roete oor die rotse nie.
Ná nog sowat 500 m kry ons wel ’n netjiese paadjie oor die klippe tot op ’n sandstrand.