Weg!

Hoekom so baie satelliete in ’n ry?

-

Ek en my vrou, Antoinette, het onlangs in een van die Eagle’s Nesthuisie­s by Klein-Aus Vista in Namibië gebly. Ek het my kamera om 8 nm. begin regstel om foto’s van die Melkweg te neem en toe ek opkyk, sien ek ’n satelliet verbykom.

Ek het my vrou geroep om te kom kyk. “Dis te oulik,” het sy gesê, maar ek het besef dat ek en sy nie na dieselfde satelliet kyk nie – daar was sowaar drie! Ek het die kamera se sluiter 30 sekondes lank oopgelos en dié foto geneem.

Ons het daardie aand agt satelliete waargeneem wat almal in dieselfde baan beweeg het – hulle was ook ongeveer almal dieselfde afstand uitmekaar. Dit lyk my daar sweef baie blik in die ruimte rond...

FREDDIE VAN RENSBURG, Pretoria

Die sterrekenn­er WILLIE KOORTS sê: Freddie-hulle het ’n paar van die honderde Starlink-satelliete gesien wat Elon Musk en sy maatskappy, SpaceX, die ruimte instuur. Daar word 60 van hierdie satelliete op ’n slag gelanseer en hulle beweeg mettertyd verder uitmekaar – aan die begin lyk hulle soos ’n string pêrels in die nagruim.

Die satelliete is aanvanklik baie helder, maar word oor ’n tydperk van ’n paar maande stelselmat­ig in ’n wentelbaan van 550 km bo die aarde geplaas, waarna hulle nie meer met die blote oog sigbaar is nie.

SpaceX beplan om uiteindeli­k 1 584 satelliete te lanseer om wêreldwye internetde­kking aan sy intekenare te verskaf, maar menige sterrekund­ige het al sy misnoeë oor dié helder satelliete uitgespree­k. Dit bemoeilik wetenskapl­ike waarneming­s en maak dit byna onmoontlik om ’n wyehoekfot­o van die sterre te neem sonder dat ’n klomp satelliets­trepe dit bederf. Die Starlink-ingenieurs het gelukkig ’n plan beraam om die satelliete te verdof.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa