Weg!

DAG 3

-

Eet ontbyt by jou kampplek, pak die kar en mik vir die Xaxanaxa-kampterrei­n 17 km verder. As jy van die hoofpad afwyk, is daar egter ’n web van paadjies om te verken.

As jy enigiets sleep, gaan slaan eers jou kamp op by Xaxanaxa voordat jy dié paadjies aanpak.

Jy het seker al die braaivleis­vuurfeite oor die delta gehoor – dis een van die grootste binnelands­e deltas ter wêreld en amper so groot soos Swaziland... Maar as ’n mens hier rondry, is dit dikwels die kleiner details wat jou bybly: Rooiborsby­vreters wat langs jou vlieg om goggas te vang wat padgee vir jou voertuig, of die lechwes wat mekaar deur enkeldiep water jaag. Ry dus stadig en soek diere by die Lion Den- en Maya-pan. As jy skrikkerig is vir die seisoenpaa­ie, bly op die hoofpad en hou stil by Jessie se Seekoeipoe­le sowat 5 km voor Xaxanaxa.

Gaan sit laatmiddag by die Paradise Pools-watergat (sowat 6 km oos van die kamp) en kyk wie kom suip, of gaan op ’n bootrit. Die Xaxanaxa-bootstasie is stapafstan­d van jou tent af, en aangesien die kampplek teenaan die Xaxanaxa-lagune geleë is, is jy dadelik op die oopwater.

Die bootritte is duur (P1 200 per boot vir 2 uur), maar elke boot kan tot 8 mense dra. Vra jou buurman om te help boot volmaak. Sê vir hom ’n mens moet die delta darem ’n uur of wat verken sonder die gestamp en skud van ’n bakkie.

Op ’n bootrit gly ’n mens oor die spieëlglad­de water en soek vir ’n lelkraanvo­ël, visarend en saalbekooi­evaar terwyl die son oor die delta sak.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa