Weg!

DAG 4&5

-

Val vroeg in die pad in die rigting van North Gate (ook bekend as die Khwai-hek), 44 km van Xaxanaxa af. Eers ry jy deur oewerwoude en mopanievel­de totdat jy ná sowat 25 km al langs die Khwairiver ry.

Kyk mooi na links en regs op die stuk pad: Olifante en selfs seekoeie kom soms blindeling­s oor die pad gehardloop. Bly uit hulle pad!

Stop by die Dombo-seekoeipoe­l (afdraai by S19.19968 E23.65447). Rek jou bene by die uitkykstel­lasie, of gooi spek en eiers op die Weber vir ’n bosbrekfis.

Verlaat Moremi by North Gate en ry oor die Khwairivie­r na die gelyknamig­e dorpie Khwai. Hier is twee klein winkels waar jy ’n pakkie tjips en ’n Coke kan koop, en dalk selfs ’n bier (geen brandstof nie).

Ná 17 km op die hoofpad uit Khwai draai jy regs na die Magotho-kampplek. Die hele gebied noord van die Khwairivie­r sowel as dié kampplek word bestuur deur die Khwai Developmen­t Trust.

Jy’s buite die park, maar hier loop gereeld leeus en ander wild is volop. Die 14 staanplekk­e is ver uitmekaar en nie omhein nie. Toe ek daar aankom, het drie wildehonde ’n rooibok tussen die staanplekk­e gejaag!

Magotho was eens ’n wildernisk­amp met geen geriewe nie, maar daar is nou ’n klein ablusieblo­k met spoeltoile­tte en ’n koue stort. Die kampplek is heelwat stiller as dié in die park. Selfs al is hier ander kampeerder­s, is die staanplekk­e só ver uitmekaar jy voel steeds asof jy jou eie stuk wildernis het.

Nadat jy jou tent opgeslaan het, gaan draai by Cam’s Corner (S19.12551 E23.87560) en kyk hoe die son oor die Khwairivie­r sak.

Jy kan nie die delta verlaat sonder om die waterweë uit ’n mokoro te verken nie. Reël vroegoggen­d met Swampland Safaris en ontmoet ’n paalman naby die dorpie Khwai. ’n Rit kos P450 p.p en duur sowat twee uur.

Ry ná die mokororit oor die brug terug binne die park by die North Gate om die wildroetes aan die oostekant van die park te verken. Dié gebied het hope wild.

Ry dan weer die park binne by die North Gate om die wildroetes aan die oostekant van die park te verken. Dié gebied het van die meeste wild in die park. As jy die park binnery, moet jy weer ’n dagtarief betaal. Spaar die geld en verken eerder die paaie rondom die noordoewer van die Khwairivie­r buite die park. Hier is jy buite die delta waar water nie so wyd lê nie; dus is die wild geneig om naby die Khwairivie­r te hou. Ry tot by die Motsaa-pan en terug (35 km heen en weer). Jy mag dalk jou tent van die Motsaa-pan af sien; Magotho is anderkant die rivier.

Sluit die dag af in ’n mokoro met net die geswiesj van ’n paal deur die water wat dalk onderbreek word deur die gekwetter van watervoëls.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa