Weg!

DAG 6

-

Pak vroeg op en ry in die rigting van Savuti. Draai links by die vurk, terug na die hoofpad (S19.15841 E23.92154) verby die Pankwa-watergat. Draai regs by die hoofpad en ná 2 km weer links na die Mababe-hek. By die Mababehek is jy nou amptelik binne die Chobe- nasionale park, maar dié deel van die park staan bekend as Savuti. Van die Mababe-hek af is dit nog sowat 45 km se ry langs die Sandrifpad tot by die Savuti-ruskamp.

Die pad is sanderig met die Mangwikhwe-sandrif aan die westekant, en die oop savanne oos van jou.

As jy na ’n kaart kyk van Savuti, kan jy verskoon word as jy gedink het dis ’n waterryke gebied. Met name soos die Savuti-kanaal, Savuti-meer en Savuti-moeras, lyk dit asof jy met ’n duikbril hier moet rondry.

Die werklikhei­d is egter dat die water van die Choberivie­r net een keer elke paar dekades hier ’n draai kom maak, en dat die enigste water wat jy hier sien, by watergate is.

Die Sandrifpad tot by die Savuti-ruskamp neem sowat drie tot vier uur en die mooier Moeraspad sowat vyf uur. Die ruskamp se ablusieblo­k lyk soos ’n klein fort om vandalisti­ese olifante te keer om hulle dors te kom les deur die watertenks te vernietig. Indien moontlik, bespreek kampplek 2, 3 of 4. Hulle kyk almal uit oor die Savuti-kanaal (kampplek 1 ook, maar dis teenaan die personeelb­lyplek). Slaan die tentpenne diep in en pomp jou matras ékstrahard, want hier slaap jy twee aande.

Verken die middag die Savuti-vlakte noord van die kampterrei­n. Ry oor die staalbrug na die Savutimeer (droog), en dan na Harvey se Pan.

Ry na die Quarry Hill voordat jy terugskiet kamp toe. Om bo-op die heuwel te kom het jy hare op jou tande nodig. Dis ’n steil, klipperige klim met jou 4x4. Van hier af kan jy sien hoe groot en plat die landskap van die Chobenasio­nale park is met net die heuwels rondom Savuti wat uitstaan, asook ’n klomp kremetarte direk noord. Ry hierna na die einste kremetarte – dis sowat 2,5 km van die Quarry Hill tot by die Boabab-eiland.

Steek terug by die kamp jou vuur aan voordat die son sak, want wilde diere gáán kom kuier! Toe ek laas hier gekamp het, het ’n hiëna ons wasbak weggedra terwyl twee reuse-ooruile in die boom bo ons vir mekaar sit en koer het. Wie’t nou Netflix nodig?

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa