ONTSNAP NA KAAPSE WATERS
’n Mens hoef nie na die diepsee te vaar om ’n wonderwêreld onder die water te ontdek nie – die Kaapse Skier
eiland het ’n paar mooi snorkelduikkolle langs die kus.
DEUR
Die eerste keer toe ek ’n sloephaai gewaar, vat ek ’n haastige hap suurstof en sit hom dadelik agterna. Ek duik onbeholpe in die kelpwoud agter die groot grys fatsoen van die haai aan. Maar dié flik moeiteloos sy stert – en verdwyn.
Terug bo die water babbel ek opgewonde terwyl my meer ervare duikmaats hulle oë agter hulle duikbrille rol.
’n Paar weke later, in dieselfde baai, kruis ek paaie met ’n kortstert-pylstert. Weer sit ek hom agterna met ’n geleende GoPro in die hand, maar dis tevergeefs... Die pylstert gly soos ’n duikboot oor die sand en verdwyn. Ek jaag ook streephaaie, rooi romans, robbe, seekatte... Ek “jag” met my kamera, ploeter deur die kelp, my vingers dom van die koue.
Ek is ’n tipiese wally – ’n groentjie wat nie weet wat sy doen nie.
Dis nou vier jaar dat ek dié stokperdjie beoefen en ek het intussen baie geleer. Dit verg meer as net op die oppervlak ronddobber met ’n snorkel en duikbril. Jy duik áf, bodem toe. Jy hou jou asem la-a-ank op en bly met behulp van gewigte (’n duikgordel) onder om vir langer meer te kan sien. Snorkelduik is soos meditasie – dit verander jou hoe langer jy dit doen.
Jy moet bewus wees van jou omgewing terwyl jy jou ten volle daarin begewe. Jy moet jou asem ophou al wil jou liggaam instinktief die teenoorgestelde doen. Jy moet kalm bly in soms onstuimige waters. Jou liggaam moet beheer word terwyl jou gedagtes vrye teuels kry.
Hiervoor is die gehalte van die Kaap se waters goed. Op ’n perfekte dag is die Skiereiland se water glashelder en as die son in die lugruim gloei, wapper die waaierkelpfrille soos goue linte en lê die rotsgleuwe diggepak met glinsterende anemone. In só ’n oomblik kan jy bloot aan ’n kelpstam vashou en roerloos in die water hang en kyk en kyk totdat jy amper vergeet waar jy is. Totdat die knop in jou keel en die verlange in jou borskas jou herinner: Haal asem.
Op die oppervlak kan jy dan ’n paar minute lank dryf en jou sinne weer bymekaarhark. Jy kan weer afwaarts tuur na die goue amfiteaters doer onder, waar die sonlig karteldanse maak op die sand. Dan sal jy wéér wil afduik om van nader te gaan kyk. Net nog een keer. Om te kan wegsink in stilte met net die krikgeluidjies van die garnale in jou ore, en die verbasend harde vinwoer van visse wat verbyswem...
In teenstelling met KwaZulu-Natal en sy warm water en koraalriwwe, is die Kaap se waters nie juis ’n gewilde duikbestemming nie. Maar dít is aan die verander, want ál meer duikers (ek gebruik die term losweg, want dié tydverdryf sluit in snorkelduik – op die oppervlak – en vryduik, dieper af) vaar die Skiereiland se koue waters in, en ’n paar maatskappye bied selfs begeleide snorkelduiktoere en -lesse aan (sien kassie op bl. 46).
Dis kóúd. Jou gesig voel soos ’n bevrore visdam. Die gevoel in jou vingers verdwyn.
Jou voete raak lam van die koue. Die Atlantiese Oseaan aan die Kampsbaai-kant van die Skiereiland kan by 9 °C draai terwyl die Valsbaai-kant gemiddeld 15 °C is. Maar hierdie koue onderwaterklimaat bied ’n tuiste vir ’n verskeidenheid diere en plante, waarvan talle nét hier voorkom.
Die meeste mense waag dit net in hierdie waters met ’n duikpak, maar ander – soos ek – verkies die koue aan die boud. Die koue is deel van die ervaring. Dit maak die warm word ná die tyd – in die kar met koffie en sjokoladeéclairs – soveel lekkerder. Trouens, ek dink my vermoë om die koue te trotseer het te make met die éclairs van The Sweetest Thing in Simonstad... dit gee my ’n bietjie spekbeskerming.
Byna 1 000 km² se oseaan lê binne die grense van die Tafelberg- nasionale park se mariene beskermde gebied. Hierdie waterdeel van die park strek van Mouillepunt tot by Muizenberg. Die Kaap se onderwaterwêreld word dus beskerm. Daarby is dit toeganklik: Jy hoef nie Jacques Cousteau te wees om dit te beleef nie.
Ek kan my asem maar so goed ophou soos ’n salamander met sigaretlonge. En ná ’n insident met ’n rots in woeste water – wat my bebloed gelaat het – vat ek nie meer kanse nie. Ek weet nou van beter. Wanneer die see onstuimig lyk, bly ek weg. Ek het al dieper geduik; tussen blouhaaie, selfs getango met robwelpies en in die oopsee met makohaaie geswem, maar van my beste ervarings in die see was enkele meter van die strand af.
In die vlak water het ek gesien hoe ’n sebrahaai ’n inkvis jaag totdat die inkvis op ’n klip gaan lê en homself soos seewier kamoefleer.
Ek het in ’n rotspoel gestaan terwyl ’n paar trekduikers rondom my induik en visvang, hulle lywe wat soos koeëls deur die water flits met ’n silwer borrelstreep agterna. >