Weg!

FOTOWENKE

-

Onderwater­fotografie is ’n perd van ’n ander kleur. Daar’s seestrome om mee rekening te hou en die diere is skugter – én vinnig.

Die lig is glad nie soos op land nie. Die water absorbeer lig en dit beïnvloed die “white balance” – jy moet ’n bietjie aan jou kamera verstel sodat foto’s natuurlik lyk. Fyn deeltjies (genoem “backscatte­r”) wat in die water dryf, laat ook soms flitsfoto’s lyk soos iets wat in ’n toegewasem­de badkamer geneem is.

Maar onderwater­fotografie is lonend: Alles wat jy afneem, is ánders. Vreemde kleure, weerkaatsi­ngs en bonatuurli­ke lig beteken dat ’n nuwe kreatiewe veld vir jou oopgaan.

Begin in die vlak water. Ek het eers anemone in getypoele afgeneem. Jy kan duur onderwater­hulse aanskaf vir jou D-SLR (wat beter resultate sal lewer), maar ek gebruik ’n kompakte waterdigte kamera, die Olympus Tough TG-5. (Die nuutste model, die TG-6, kos R9 700 by orms. co.za). Hierdie kamera lewer puik foto’s – al die foto’s vir hierdie artikel is daarmee geneem.

Boonop is dit klein en lig. Jy kan ook piepklein goedjies afneem met die mikroskoop-funksie. Ek het al seeslakkie­s afgeneem wat skaars 3 mm lank is.

Een middag laat, terwyl ek terug kus toe swem, gewaar ek ’n kortstert-pylstert op die sand tussen die kelp. Hy was mooitjies geparkeer soos ’n sluimerend­e oorlogskip – met die bleek bene van baaiende toeriste daar naby.

Op ’n ander grou laatmiddag dryf ek in stilte in die donker water, omgeklits deur die sterk suidooster en hou ’n groototter dop wat vis jag. Ek kyk hoe sy dik stert hom soms voortdryf en ander kere bo hou soos ’n boei totdat hy later iets vang en rots toe swem om aan sy aandete te knabbel.

Daar’s soveel om te sien aan die “vlak kant” van die see – jy moet net fyn kyk. Kyk daar, teen daai rots! Dis ’n naakseesla­k, reënboogkl­eurig soos ’n karnavalda­nser in ’n uitrusting vol blinkers. Oe, en daar! Kyk daai stapel streephaai­e wat bo-op mekaar lê en sluimer in ’n rotsgleuf. En daar! ’n Seekat wat uitloer van agter ’n hoop leë mosselskul­pe; ’n skool strepies wat lyk soos ’n vloot van resieskarr­etjies; ’n tapyt van alge so blou soos die vlerke van ’n vlinder...

Wanneer die water troebel is, kan jy op een plek bly en na die klein goedjies soek. Party naakseesla­kke is só klein jy kan hulle skaars met die blote oog sien. Maar bekyk hulle deur ’n makrolens en dis so goed jy kyk na ’n ruimtewese, ongewoon in vorm en kleur.

Kolonies hidroïede lyk soos ’n blombeddin­g, maar is eintlik diere. Eendmossel­s wuif hulle ragfyn “armpies” om plankton te vang. Jy sien dalk viseiers weggebêre in die voering van kelpblare, die silwer ogies van die embrio’s wat loer na die waterwêrel­d wat wag.

Namate die wêreld verswelg raak deur mense en hulle dinge – karre, sekerheids­komplekse, slimfone, slímmer virusse – het die see die afgelope paar jaar ’n toevlug geword. ’n Plek waar ek makliker kan asemhaal, selfs wanneer ek dit ophou.

Ek was nie altyd tuis in die water nie. Die see het my broer gevat en jare lank het ek die water vermy. Wanneer ek verby die plek ry waar hy verdrink het, sou ek die radio harder stel en anderpad kyk.

Daarom het elke herdompel – byna elke

dag – ’n dieper betekenis: Ek wil die see tem, sy tande stomp skaaf, sy gevaar neutralise­er.

Maar dis nie al nie. Die see gee my meer as wat ek ooit kon droom. Wie’t geweet jy kry jellieviss­e wat lyk soos reënboogkl­eurige rugbyballe wat pols? En hoe sonderling is ’n perlemoen wat met sy oë op stokkies onder sy valletjies­romp uitloer? Hoe is dit moontlik dat ’n seekat kan verkleur van rooi na groen na bruin na wit? Hoe kan ’n klipvis so voor op die wa wees dat hy hom op my skouer kom tuismaak soos ’n glibberige papegaai, en ek is die seerower? Ek giggel sommer!

Ek het deesdae ’n beter kamera. Ek verstaan my plek in die oseaan beter. My hart klop steeds vinniger as ek ’n sloephaai of pylstert gewaar, maar ek weet nou dat hulle nie net hier is om my te vermaak nie. Die see is hulle tuiste. Hulle eet, loop ’n draai en gooi flikkers... En ek moet my plek ken, ek is bloot ’n besoeker, ’n toeskouer. Ek mag nie inmeng of pla nie.

Op ’n onlangse uitstappie dryf ek in die kelpwoud rond. Ek kyk na my vingers, wit van die koue. En toe gewaar ek ’n sloephaai, en nog een. Hulle sweef onder my verby. Toe hulle verby is, trek ek ’n long vol asem en swem stadig af tot op die bodem. Daar op die sand lê ek en wag.

Toe, van agter ’n rots, verskyn ’n groot sloephaai en swem reguit na my, onbewus van my teenwoordi­gheid. Nog drie volg hom. Hulle kom tot téén my, sentimeter­s van my gesig af. Ek sien die grys fluweel van hulle vel, die blink rondom hulle neusgate, die goud van hulle oë.

“Daar’s julle,” sê ek. “En hier is ek.”

Toe hulle wegswem, swem ek stadig na bo, terug na die son en die rumoer van die mense op die strand; ’n balkende pikkewyn wat waghou op ’n rotspunt.

Dis altyd moeilik om die see te verlaat. Op pad terug kus toe duik ek vir oulaas af om na die knoets rooi anemone te kyk wat ek weet teen ’n spesifieke rots klou, die rots net regs van waar die swart-enwit gestreepte wildeperde hou.

Ek draai om en kyk terug na die kelpwoud. In ’n baan lig hang ’n skool hottentotv­isse soos ’n silwer kandelaar.

Môre sal alles nog hier wees. En oormôre. Ek moet net stadiger beweeg, en nie ’n wally wees nie. >

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa