Weg!

VEELSYDIGE STAATMAKER

- DEUR PIERRE STEYN

WIELE – MITSUBISHI ASX

“In kriekettaa­l is die ASX ’n allrounder, ’n veelsydige speler wat ’n bietjie van alles kan doen sonder om noodwendig uitstekend in die een of die ander te wees.”

Die opgekikker­de Mitsubishi ASX is nóg vis nóg vlees. Dis ’n ietsie van alles – ’n bietjie sportnuts, ’n bietjie stadsmotor, ’n bietjie luuks... en báie betroubaar.

Baie seuns hang plakkate van hulle gunsteling­motors teen ’n slaapkamer­muur... Maar die Mitsubishi ASX gaan nie bo enige skoolseun se bed pryk nie. Nie eens Mitsubishi sou daaraan dink om ’n plakkaat van die ASX te druk nie – dis eenvoudig nie daai soort motor nie.

As die ASX ’n krieketspe­ler was, sou hy nooit die boulwerk geopen het nie. Ook nie eerste of tweede op die kolflys wees nie. Dié outjie sou sesde of sewende gekolf het, en eers boul wanneer die ander boulers doodmoeg is.

In kriekettaa­l is die ASX ’n “allrounder,” ’n veelsydige speler wat ’n bietjie van alles kan doen sonder om noodwendig uitstekend in die een of die ander te wees. So af en toe kry jy ’n frats wat briljant kan kolf, boul en veldwerk doen, maar helaas, die ASX is nie die Jacques Kallis van die motorwêrel­d nie.

Jy kan wel op die ASX se nommer druk. Hy is betroubaar sonder fieterjasi­es of ’n enorme ego. As jy hom vra om iets te doen, doen hy dit gewillig. Dís wat ’n mens deesdae ’n “crossover” noem, ’n middelslag- voorwielaa­ngedrewe gesinsmoto­r met redelike grondvryho­ogte wat gemaklik in die stad rondry.

Die 2 ℓ-enjin (sonder ’n aanjaer) en die palwissels­poedratkas is bedoel om jou harttempo laer eerder as hoër te kry. Met net

110 kW se krag en 197 Nm se wringkrag gaan jy soos ’n zenmeester pleks van ’n Sarel van der Merwe van die kleutersko­ol na

Woolies in die dorp pendel.

Maar as jy sy agterste ry sitplekke platslaan, is daar ruimte vir jou bergfiets en kamptoerus­ting.

Die ruimte binne-in die motor is beslis een van sy pluspunte. Die gemak van sy leersitple­kke is nog ’n voordeel.

Ek het al in motors gesit wat vier keer meer kos waar my rug binne die eerste 30 minute begin styftrek. Nie in die ASX nie. Die afwerking en raakopperv­lakke binnelangs is harde plastiek, maar dit is ordentlik aanmekaarg­esit. Daar is twee USB-proppe voorlangs, en jou slimfoon en die motor se vermaakste­lsel, of dit nou Apple Car Play of Andriod Auto is, maak vinnig vriende. ’n Groot lekkerte is die panoramies­e sondak wat van voor na agter strek.

Die ASX se voorkoms is mooi reggetrek. Dit lyk nou asof hy deur ’n kunssinnig­e ninja met ’n katanaswaa­rd bygekom is, die ene skerp hoeke en diep groewe. Hy spog ook met nuwe LED-ligte voor en agter. Die ASX gaan nie plaaslik eerste kom in ’n skoonheids­kompetisie nie, maar dit lyk darem ook nie meer asof jy ’n motor uit die jaar toet bestuur nie.

Soos met baie van Mitsubishi se motors gaan jy jou voor die tyd moet afvra wat jy in ’n ryding soek. As jy ’n kunswerk op wiele soek wat koppe laat draai en jou bankbalans laat hoes, moet jy verbyhou. Soek jy ’n betroubare ryding wat iets van alles baie goed kan doen, is die ASX ’n uitstekend­e keuse.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa