BRIEF UIT VREDEHOEK
Ingeperk in sy woonstel in Vredehoek, Kaapstad, besef Toast Coetzer ’n eilandlewe is nie te sleg nie.
“Ons karre se batterye staan en afloop. Ons staar lank by vensters uit. Die boeke wat ons lees, word dikker. Ons dink meer oor dinge. Dié op-’n-eiland-wees help ons om op prioriteite te fokus: die mense na aan jou, jou volgende maaltyd.”
‘My eiland is so groot soos die woonstelblok se erf: 25 m x 45 m. Hier is darem bome, en dié lok spreeus, mossies, duiwe... ’
In my regterhand is ’n braaitang en nou en dan draai ek ’n hoenderporsie daarmee om. In my linkerhand hou ek my slimfoon teen ’n hoek waarteen ek die beeld op die skerm mooi kan sien. ’n Gros wildehonde draf atleties in ’n tweespoorpaadjie af. Die gras is lank; die somerreën was goed in die Laeveld. Ek kyk na WildEarth se regstreekse uitsending op YouTube. Ek ry saam op ’n wildrit iewers in ’n privaatreservaat. Moderne tegnologie. My pa sou net sy kop geskud het. ’n Gids in kakie verskaf kommentaar; dis 1 500 km hiervandaan maar klokhelder.
’n Kameraman zoem in en uit. Ek sien wat hy sien: ’n wildehond se ronde lapore draai, luisterend in die skemer.
’n Hoenderboudjie drup skielik vet in die kole en ’n paar sekondes lank lyk my braai soos ’n brandstapel. Ek skuif vervaard van die porsies kante toe. Krisis ontlont.
Die uitsending het nou oorgeskakel na ’n ander voertuig, elders in dieselfde reservaat. Dié gids fluister – hy is na aan olifante. ’n Klein olifant fopstorm die voertuig. Duisende mense lewer kommentaar onderaan die video. Oulik! Cool!
Ek kyk op van die skerm. My woonstelkompleks se twee honde – Rogue en Riley – blaf vir iemand wat verbyloop Spar se kant toe. Hulle blaf eintlik selde vir mense.
Hulle sal eerder vir ’n ander hond blaf wat te na aan die voorhekkie verbystap, maar dit het lanklaas gebeur, want dis tans week drie van inperking.
Beïndruk deur hulleself draf hulle na waar ek staan en braai. Dis herfs in Kaapstad. Alles is mooi. Vredehoek lê hoog teen die voet van Duiwelspiek in Kaapstad, en ek kan die sweefspoorhuisie se regop knoetsie uitmaak bo-op Tafelberg.
Dit lyk asof iemand een blokkie Lego daar vasgekrak het. Die dag se laaste son – wat buite sig (dis al agter Leeukop vir my) sak oor die Atlantiese Oseaan – gooi ’n oranje gloed teen die andersins grys kranse.
Rogue en Riley wil ’n rooster aflek wat neffens my staan. Ek du hulle weg met ’n voet. Vriendelike honde, dié twee. Nie myne nie – hulle behoort aan die paramedikus in ons blok.
As ek na die ander kant kyk, deur ’n boom se takke, sien ek deel van die Kaapstad-hawe, en Tafelbaai. Wanneer ek soggens regop sit in my bed in die slaapkamer, sien ek die rooi flank van die SA Agulhas II vasgemeer in die hawe, ’n skip wat ’n paar keer per jaar hiervandaan vaar na Suid-Afrika se navorsingsbasis in Antarktika, en ook soms Marion-, Goughen Tristan da Cunha-eiland besoek. Ek was self al gelukkig om saam te vaar na Tristan da Cunha, 2 800 km hiervandaan.
Met die inperking dink ek gereeld aan die Tristane – as eilandbewoners in ’n vergete hoek van die wêreld is afsondering tweede natuur vir hulle. Daar’s nie eens ’n lughawe nie. As jy iets spesifieks nodig het, dalk ’n nuwe kombuiskraan, moet jy dit bestel en iemand moet dit vir jou – per boot – in Kaapstad gaan haal. Niks gebeur vinnig op Tristan nie. Jy het altyd tyd om te dink oor jou volgende skuif.
Skielik is ons almal op ’n eiland. Ook vir ons gebeur dinge ’n bietjie stadiger deesdae. Ons karre se batterye staan en afloop. Ons staar lank by vensters uit. Die boeke wat ons lees, word dikker. Ons dink meer oor dinge. Dié op-’n-eiland-wees help ons om op prioriteite te fokus: die mense na aan jou, jou volgende maaltyd.
My eiland is so groot soos die woonstelblok se erf: 25 m x 45 m. Hier is darem bome, en dié lok spreeus, mossies, duiwe, soms ’n suikerbekkie. Hulle is nog vry, en vlieg onbewus tussen eilande.
Baie mense se eilande is veel kleiner as myne, en ek dink ook aan hulle wat soms opkyk uit ’n plakkerskamp en óók verlang na die vryheid van ’n voël. Die gelukkige mense wat op plase woon, se eiland is ruim. Hulle kan arms swaai, in die wind in roep, hard fluit agter ’n hond aan.
Hier van my eiland af reis ek nou op ander maniere. Die internet, Google Earth, DStv Online en boeke. Ek kyk weer na die foonskerm. ’n Ander gids staan nou by ’n gronddam. Die kamera zoem in op twee kleindobbertjies. “Sjuut, bly stil,” sê die gids, “ek hoor uile...” en die kamera dartel na bo, tas tussen donker bome rond.
Ek besluit die hoender is gaar en haal die stukke een vir een van die rooster af.