Weg!

Tankwa Padstal, naby Ceres

- – Liana Mocke

Die kans dat jy die enigste reisiger gaan wees by dié afgeleë padstal langs die grondpad tussen

Ceres en Calvinia is skraal. Of dit nou wintertyd of bloedige somersdae is, staan hier altyd ’n paar motorfiets­e, viertrekvo­ertuie, gewone karre en donkiekarr­e geparkeer. Met die AfricaBurn-fees in Mei staan hier ook aardige voertuie wat lyk soos iets uit Mad Max!

Hein en Susan Lange groet vriendelik wanneer jy die sementstoe­p betree. Hulle het die padstal in Junie 2011 oopgemaak en Hein se broer, Walter, het in Desember daai jaar die Werkswinke­lkroeg langsaan oopgemaak.

Moenie hier stilhou vir ’n vinnige inloer nie; kom span uit op die stoep en luister na Hein se stories. Bestel middagete terwyl jy met die ander vakansiega­ngers geselsies aanknoop en raad ruil oor watter grondpaaie om te vermy. Dié gebied is bekend vir woeste sinkplaatp­aaie, maar jy kan ’n bandherste­lpakkie by die padstal koop (R60) indien die noodlot jou tref.

Op snikheet dae kan jy en jou gesin afkoel in die klein sementswem­bad terwyl julle aan tuisgemaak­te gemmerbier teug en wag vir julle Tankwa-burgers.

Die burgers met roosterkoe­ke, tuisgemaak­te patties en skyfies kos tussen R80 en R130 en ’n ordentlike koppie boeretroos kos R20. Hein-hulle maak self die moerkoffie, en ná een koppie gaan jy wawyd wakker wees vir die res van jou toer deur die Tankwa.

In die winkel kan jy van ’n pak kaarte (R60) koop tot ’n stokou strykyster wat nog met kole warmgemaak word (R130). Hier is hoedens (R90-R160), serpe (R160-R180), handsakke (R200) en allerhande tuisgemaak­te produkte. Die kinders kan hulle speelgoed aanvul met albasters (R10-R30), tolle (R5) en poppe (R60).

Lus vir skaapkop vir aandete? Hein maak hulle skoon en verkoop hulle teen R90 elk.

Boonop het die padstal gratis Wi-Fi en terwyl jy met die mense by die huis gesels, kan die kinders op die ou plaastrekk­er en klimraam baljaar.

“Ons hou van mense, dís hoekom ons die padstal het,” sê Hein van agter die winkel se outydse vertoonkas vol knipmesse en vuuraanste­kers. “Met die inperking het ons besef hoe baie ons die lekker kuiers saam met ons besoekers op die stoep mis.”

Die Tankwa Padstal speel ’n groot rol in die plaaslike gemeenskap. Dis dié bymekaarko­mplek van baie van die gemeenskap se kuiers. En kliniekbes­oeke word hier gehou.

Dit maak nie saak waarheen jy op pad is nie: Sutherland, Calvinia, Ceres, Middelpos oor die Gannagapas of die Tankwa-Karoo- nasionale park... Wees op die uitkyk vir die motorwrak wat op sy neus staan. Dis die padstal se hek – jou koppie boeretroos wag op die stoep!

Oop Elke dag van 9 vm. tot 5 nm.; gesluit op Woensdae

Waar? Op die R355 – die grondpad tussen Ceres en Calvinia – sowat 85 km noord van Ceres.

Kontak hlange@breede.co.za; “Tankwa Padstal” op Facebook.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa