Weg!

Jupiter op sy beste

-

In Augustus is Jupiter in opposisie – dit beteken dié planeet, die aarde en die son is in lyn en dat Jupiter baie helder vertoon. Jupiter kom dus op in die ooste nes die son sak in die weste. Sodoende is die planeet heelnag sigbaar en kan jy dit na hartelus bestudeer.

Kyk mooi op 1 Augustus as jy nog nie seker is waar om Jupiter in die naghemel te kry nie. Die helder “ster” reg onder die Maan is Jupiter.

’n Entjie ondertoe sit ’n redelike helder gelerige ster – dis Saturnus. Die twee sit al heeljaar so neffens mekaar en dit bly so vir die res van die jaar.

Sowat 400 jaar gelede het nog iemand Jupiter met belangstel­ling dopgehou – onse Galileo Galilei. Die teleskoop is pas ontwerp en Galileo het self een gebou. Hy het nog altyd in die hemelruim belang gestel en die helder Jupiter was ’n voor die hand liggende teiken.

Soos dit ’n goeie “wetenskapl­ike” betaam, het hy noukeurige sketse van sy waarneming­s gemaak – ’n ronde bal met ’n klompie sterre in die agtergrond, sommige van hulle netjies in ’n ry!

Toe hy dit op daaropvolg­ende aande waarneem, sien hy die rytjie sterre “volg” vir Jupiter, maar dat hulle heeltyd van posisie verander. Dit neem hom nie lank om uit te pluis dat dit vier helder mane is wat om Jupiter wentel nie. Ons praat vandag nog van die Galileïaan­se mane.

Galileo se teleskoop was net effens sterker as die meeste verkykers van vandag; probeer dus kyk hoeveel maantjies jy in jou verkyker kan sien en vergelyk hulle bewegings aand na aand. Skets hulle soos ons dapper vriend Galileo!

Op 1 Augustus lê die mane netjies in ’n ry. Van die naaste aan Jupiter is hulle name Io, Europa, Ganumedes en Kallisto. Jy het egter ’n teleskoop nodig om hulle soos op die grafika te kan waarneem.

Willie Koorts

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa