Halfkrone op die oë
deur Morkel van Tonder
Tafelberg-Uitgewers, 1978
So gaan die uur en ’n half na Groenkloof verby en kom hy knap ná halfses op die hoogte bokant die plaas aan. Hy trek die perde van die pad af. Dis September en die Boland is besig om wakker te word. Die populierbos se botsels dans teen die laatnamiddagson en vorm ’n band van lig agter om die wit opstal. Na regs, aan die berg se kant, sluit die denne by die populiere aan, maar hulle lyk besadiger, ’n bietjie somber in hulle digtheid. Die bergwindjie speel nie deur hulle nie, terg nie die blare soos die populiere s’n nie, gaan bo-oor hulle groenvastigheid. Maar so is Groenkloof: dit het baie lig en skaduwee en die laaste tyd lê die donkerte swaar oor hierdie goeie aarde. Die boorde wys hoe goed die aarde is: ry op ry, bankvas, staan die appelbome. Kyk maar van watter kant jy wil, hulle breek in eindelose vurkformasies voor jou oë weg. Die adel van die arbeid roep daar van onder af uit elke ry en wanneer die windjie reg stoot, hoor jy die kom en gaan van die waterval in die kloof bokant die denne. Só beskyf Morkel van Tonder (1923-2013) ’n plaaslandskap buite Grabouw in sy roman Halfkrone op die oë. Soos met sy vroeë roman Die sneeu bly altyd wit was hierdie ook eers as ’n radiovervolgverhaal uitgesaai. Wat Halfkrone op die oë relevant en interessant maak, is dat dit ’n verhaal is oor die Groot Griep van 1918. Dit speel af in die Grabouw-omgewing, kort voor die pandemie Suid-Afrika bereik het.
Die algemene praktisyn op die dorp, dr. Anton Fuchs, wat kort tevore met Ingrid getrou het, raak vroeg reeds onrustig:
Begrafnisse maak Anton altyd bedruk. Dis nie die dood nie – aan dié is hy al in ’n sekere sin gewoond – maar die behae wat mense in verdriet kan skep. Maar dalk is dit glad nie oor die begrafnis nie. Miskien is dit die Septemberson wat vandag so traag, so vaal was. En die wind wat hier waai: ’n weemoedige, grys wind wat soos ’n pes oral indring. Dalk is dit sy onrus oor die epidemie wat deur Europa loop. Duitse en Oostenrykse soldate sterf in die veiligheid van hulle loopgrawe, en in Spanje is miljoene siek. Môre-oormôre is dit hier: eerste seker in die hawestede. En hy is alleen... en Ingrid nog meer. In die lig van ons eie staat van inperking tydens die Covid-19-pandemie gee hierdie dialoog tussen Anton en die predikant, ds. Minnaar, ’n mens hoendervel:
“Nou maar wat meen u moet gedoen word?” “Wanneer die griep ons tref soos hy al ander plekke in die wêreld getref het, sal alles tot stilstand kom. Die trein sal nie loop nie, die winkels sal moet sluit, die skole ook. Mense moet begin kos opgaar, en medisyne. Hulle moet weet wat hulle moet doen as iemand in die huis siek word. En laat ek dit nou maar sê, dominee, hulle moet ook weet wat om te doen as iemand in die huis doodgaan. Een sterfgeval in ’n week is niks, maar vyf op ’n dag is ’n krisis.” “Maar broer Fuchs, jy kan mos nie ernstig wees nie, ek meen vyf op ’n dag?” Die spanning bou op tot die krisisweek van 19 Oktober, wanneer verskeie mense sterf. Halfkrone op die oë is ’n puik roman wat ’n deernisvolle blik bied op ’n klein boeregemeenskap se stryd met ’n pandemie. Dit bied baie stof tot nadenke, veral in hierdie dae...