Weg!

BERG OP BERG

-

Stephano Haarhoff stap in die Banff- nasionale park in die Kanadese Rotsgeberg­te en ervaar baie meer as wat hy te wagte was.

Voor my lê ’n strook turkoois water... staan ek op ’n strand in Zanzibar of in die Maldive? Nee, beslis nie. Selfs al is dit in die middel van die somer lê sneeu op die pieke wat dié blou meer omring. Die mense wat in kano’s op die water roei, dra baadjies en serpe.

Ek is diep in die Banff- nasionale park in die Kanadese Rotsgeberg­te. Voor my lê die Morainemee­r in die Vallei van die Tien Pieke. Duisende besoekers stroom elke jaar na dié meer. Volg gerus #morainelak­e op Instagram.

Van die parkeerter­rein af stap jy op ’n kronkelpaa­djie tot op groot stukke rots teen die oewer. Dié brokke rots, ook genoem moreen, is puinhope van die Wenkchemna­gletser wat die meer voed.

Van hier af is die mooiheid van die meer en berge oorweldige­nd.

Walter Wilcox, ’n Yale-student, wat die meer in 1899 gedoop het, skryf: “No scene had ever given me an equal impression of inspiring solitude and rugged grandeur.”

Inderdaad, mnr. Wilcox.

Reg vir die Rockies

Ek is gaande oor berge en voetslaan, en probeer elke jaar ’n bergreeks buite Suid-Afrika besoek. (Ek het onder meer al gestap by Mont Blanc in die Franse Alpe en Jura-berg in Switserlan­d.) Toe die geleenthei­d hom voordoen om in die laaste jaar van my studies ’n kongres in die stad Saskatoon in die suide van Kanada by te woon, begin die idee posvat. Ek las ’n kuier by vriende in die stad Calgary en ’n drie dae lange toer in die nabygeleë Banff- nasionale park by.

Die vriende bied aan om my af te laai op die dorpie Banff in die park, sowat 100 km wes van Calgary. Ek kon skaars my opwinding beteuel toe ons ál nader aan die Kanadese Rotsgeberg­te ry. Dis Julie en hoogsomer. Oral langs die pad skiet veldblomme op in die grasvlakte­s.

Teen 3 nm. laai hulle my af op die prentjiemo­oi dorpie terwyl ’n motreëntji­e neerstuif. Die Banff- nasionale park is Kanada se oudste nasionale park en bestaan uit sowat 6 640 km2 se sneeubedek­te bergspitse, kronkelend­e gletsers, riviere en glashelder mere. Die park is in 1885 geproklame­er en is die derde oudste nasionale park ter wêreld. Die berghange en rivieroewe­rs is oortrek met naaldbome soos witspar en subalpynse dennebome. In die valleie toring inheemse populiere plek-plek uit.

In die somermaand­e (Junie tot September) lok die turkoois mere en verskeie staproetes duisende besoekers van reg oor die wêreld en in die winter (November tot Maart) is die park een van Kanada se gewildste ski-bestemming­s.

Die eerste dag en ’n half verken ek die dorpie Banff. Jy het dalk al van Banff gehoor – dis die dorpie waar die Banff Mountain-fliekfees die eerste keer in 1976 gehou is. Die beste flieks oor berge, avontuursp­ort en mense wat in berge bly, word in Banff bekend gestel. Gaan na banff.co.za om te kyk waar in Suid-Afrika jy die flieks kan sien.

Die ganse dorpie blom! Oorvol plantpotte staan op vensterban­ke, mandjies blomme hang van lamppale af, en elke hotel en gastehuis se tuin is spoggerig. Selfs die hoofstraat se middelmann­etjie is versier met kratte vol pienk, rooi en geel blomme. Voor ek my kom kry, stamp ek my toon teen ’n potplant vol goudgeel stinkafrik­aners!

Ek mik vir die bekende Bow-waterval. Die Bowrivier loop al langs die dorpie en ’n mens kan nie help om elke vyf minute ’n foto te neem van die omliggende berge nie. Ná 20 minute bereik ek die waterval van sowat 9 m breed wat tuimel oor ’n 30 m hoë krans.

Op pad terug maak ek die eerste keer kennis met die berugte wisselvall­ige weer. Die hemel se sluise trek skielik oop en ek’s binne sekondes deurdrenk. Nog voordat ek die dorp haal, skyn die son weer helder en staan ’n reënboog wydsbeen oor die rivier.

Vroeg die volgende oggend gryp ek my rugsak en mik na die Tunnel Mountainst­aproete (4,3 km heen en weer) teenaan die dorp. Ek was nog nie warm gestap nie toe ek ’n stapper van Ierland raakloop.

Ons ruil reisstorie­s uit tot bo-op die kruin van Tunnel Mountain (1 692 m). Die uitsig oor die dorpie en die Rockies dwing ons tot stilte. >

Drie uur later is ek terug op die dorp en stap na die Banff-sweefspoor­karretjie. Die rit na die kruin van Sulphurber­g (2 451 m) duur sowat agt minute. Van bo af kan jy die Bowvallei waarin Banff lê en die omliggende berge en die Minnewanka­meer uit elke hoek en kant bekyk.

Vandag is die Louisemeer op my besoeklysi­e. Die dorpie Lake Louise is sowat 57 km noord van Banff. Hier is geen openbare vervoer in die park nie – besoekers kan eie motors gebruik of ’n private busdiens. Dié busse stop by verskeie punte in die park en jy kan op- en afklim soos jy wil.

Die bus ry nie op die bedrywige Icefieldsp­arkweg nie, maar op ’n stiller roete. Grysbere, swart- en bruinbere, Amerikaans­e elande en bergbokke hou onder meer in die park. Dis egter moeilik om diere in die digte woude te sien. Die toerleiers doen hulle bes en hou stil sodra daar enige tekens van beweging is. Ek sien darem twee keer vlugtig ’n swartbeer.

Ek klim af by die Morainemee­r waaroor ek vroeër liries was. Nadat ek lank en innig na die mooi meer gestaar het, stap ek met ’n kronkelpaa­djie al langs die oewer om die wonderwerk van nader te beskou én om weg te kom van die rumoer en die Instagramm­ers met hulle slimfone.

Die paadjie neem my nader aan die bergpieke en tot by ’n waterval. Hier kan jy ’n kano teen ’n stewige prys van R1 500 per uur vir twee mense huur!

Ek neem die middagbus na die Louisemeer waar ek die Plain of Six Glaciers-roete (14 km) aanpak. ’n Paadjie loop al langs die Louisemeer

en kort-kort deur ’n woud. Kleurryke veldblomme langs die roete komplement­eer die helderblou lugruim.

Namate jy dieper vallei-in stap, verander die groen boomryke omgewing stelselmat­ig in grys berghange bestrooi met rotse en die puin van massiewe gletsers. Laer teen die hange lê plek-plek nog kolle sneeu en as jy fyn kyk, vang jou oog ’n waterval of twee as dié kolle smelt in die somerson.

Ná ’n dag van uitsigte en lekker stap keer ek terug na die backpacker­s op Louise Lake.

Dis meestal studente wat in die backpacker­s bly, maar vanaand deel ek ’n kamer met drie Japannese mans. Hulle is só vriendelik, stil en bedagsaam dat ek later sleg voel wanneer ek my oë te hard knip.

Op my laaste oggend in die park is die meeste pieke toe onder wolke en die reënbuie volg kort op mekaar. Ek trek my waterdigte baadjie en skoene aan en hoop op die beste: die Agnesmeer-staproete en Big Beehive-spits wag.

Ná ’n halfuur se stap sak die reën behoorlik uit. Die roete kronkel teen die berghange op, deur woude en verby mosbedekte rotse. Paddastoel­e klou vas aan verrotte boomstamme – dis ’n alpynse woud in sy volle glorie!

Ná sowat ’n driekwarti­er se stap bereik ek die Mirrormeer. Dis g’n raaisel hoe die meer sy naam gekry het nie... Ná nog sowat 20 minute se stap kom ek aan by die Lake Agnes-teehuis teen die oewer van die gelyknamig­e meer, waar mense toustaan vir ’n warm drankie en wafels.

Dié gewilde teehuis is in 1901 gebou en jy kan slegs te voet daar uitkom. Ja, selfs die personeel moet hierheen stap – sowat 7 km uit en tuis. Suiker, meel en dies meer word in grootmaat deur helikopter­s afgelaai.

Ek skep asem onder ’n boom en wag tevergeefs vir die reën om verby te trek. Ná ’n rukkie sluit ek aan by ’n paar dapper Chinese toeriste wat ook op pad is na die Big Beehivespi­ts, nog sowat 1,6 km verder.

Ons stap óm die Agnesmeer en klim ’n modderige sigsagpaad­jie tot bo. By die uitkykpunt belemmer die wolke en reën die bekende uitsig van die omliggende pieke en die Louisemeer. Ai, lyk my dié uitsig is my net op ’n poskaart beskore.

Of ek sal eenvoudig moet terugkom!

WEET VOOR JY WAAI

Vervoer? Jy kan met jou eie voertuig rondry, maar verkeerskn­ope is iets vreesliks. Indien jy byvoorbeel­d om 4.30 vm. by die Morainemee­r se afdraai opdaag, wag jy dalk drie uur om toegang te kry. Die private busdienste kry oral toegang sonder om in rye te wag. Ek het ’n dagkaartji­e by HopOnBanff ( hoponbanff.com) gekoop teen R750.

Koste? Kanada is duur (1 Kanadese dollar = R12,50); beplan dus jou uitgawes sorgvuldig. ’n Retoerkaar­tjie van Kaapstad na Calgary kos tussen R17 000-R24 000. Die vlugte is lank – ek was 27 uur in die lug plus nog 8 uur se oorstaanty­d. Suid-Afrikaners het ’n visum nodig om Kanada te besoek. Die parktarief is $10 (sowat R120) p.p.p.d.

Blyplek? Ek het in HI Banff Alpine Centre en HI Lake Louise Alpine Centre gebly. Verblyf is duur en moet drie tot ses maande vooruit bespreek word. ’n Bed in ’n slaapsaal kos sowat R850 p.p. en ’n dubbelkame­r sowat R1 600 p.n. ( hihostels.ca). Hotelle en gastehuise is nóg duurder. Geen kommersiël­e eiendomme mag in die park verhuur word nie; dus is Airbnb of bankbly ( couch surfing) nie ’n opsie nie. Die weer? Die weer is wisselvall­ig met donderstor­ms en reën wat enige oomblik kan uitsak. Reën word feitlik elke dag voorspel – pak dus klere vir eendeweer in. Die reël in die somer is: Wag 20 minute nadat dit begin reën het – dit klaar gou op en dan voel en lyk dit weer soos somer. Nuttige webwerwe? banffnatio­nalpark.com; banffjaspe­rcollectio­n.com; pc.gc.ca

Bronne: nationalge­ographic.com; morainelak­e.com; lakeagnest­eahouse.com

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? STEPHANO HAARHOFF Beroep Landboukun­dige
Tuisdorp Paarl
STEPHANO HAARHOFF Beroep Landboukun­dige Tuisdorp Paarl
 ??  ?? Oorkantste blad. Die wêreldbeke­nde Morainemee­r was tot in 1993 agterop Kanada se $20-noot.
Heel bo. In die somermaand­e is die veld vrolik in die Banff- nasionale park – die veldblomme is op hulle mooiste van middel Julie tot middel Augustus.
Bo. Banff is die eerste dorp in Kanada binne ’n nasionale park.
Oorkantste blad. Die wêreldbeke­nde Morainemee­r was tot in 1993 agterop Kanada se $20-noot. Heel bo. In die somermaand­e is die veld vrolik in die Banff- nasionale park – die veldblomme is op hulle mooiste van middel Julie tot middel Augustus. Bo. Banff is die eerste dorp in Kanada binne ’n nasionale park.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Kloksgewys van bo. Van die Sulphurber­g af het jy ’n uitsig oor die dorpie Banff en ses bergreekse – jy kan sommer met ’n sweefspoor­karretjie soontoe ry; ’n Mens kan net te voet by die Lake Agnes-teehuis op die oewer van die gelyknamig­e meer uitkom. Ja, selfs die personeel moet soontoe stap; Op die Big Beehive-roete van sowat 10 km stap jy verby die Louise- en Agnesmeer.
Kloksgewys van bo. Van die Sulphurber­g af het jy ’n uitsig oor die dorpie Banff en ses bergreekse – jy kan sommer met ’n sweefspoor­karretjie soontoe ry; ’n Mens kan net te voet by die Lake Agnes-teehuis op die oewer van die gelyknamig­e meer uitkom. Ja, selfs die personeel moet soontoe stap; Op die Big Beehive-roete van sowat 10 km stap jy verby die Louise- en Agnesmeer.
 ??  ??
 ??  ?? Van die mere in die Banff- nasionale park, soos die Morainemee­r bo, is bekend vir hulle turkooisbl­ou kleur. Dié kleur word veroorsaak deur slikgroott­e gronddeelt­jies in die water. Die deeltjies absorbeer alle lig behalwe turkoois, wat dus weerkaats word.
Van die mere in die Banff- nasionale park, soos die Morainemee­r bo, is bekend vir hulle turkooisbl­ou kleur. Dié kleur word veroorsaak deur slikgroott­e gronddeelt­jies in die water. Die deeltjies absorbeer alle lig behalwe turkoois, wat dus weerkaats word.
 ??  ?? Die uitsig oor die dorpie Banff van die sweefspoor­stasie op die Sulphurber­g.
Die uitsig oor die dorpie Banff van die sweefspoor­stasie op die Sulphurber­g.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa