Weg!

MONYA PRINSLOO

-

MONYA VERTEL: Dié foto is geneem op my oupa en ouma se plaas, Luterloh, tussen Lichtenbur­g en Coligny in Noordwes. Ek dink ’n reier is ’n baie elegante voël. Met dun beentjies en al staan dié een trots op die hoogste paal: Vreesloos en min gepla met dit wat “onder” hom aangaan.

Vir my is die plaas altyd mooi, dit maak nie saak watter seisoen dit is nie. Die natuur verras my elke dag. Die plaas is anders as ’n wildreserv­aat. Daar is tonele op ’n plaas wat jy nie in ’n reservaat sal teëkom nie.

TOAST SÊ: Hierdie reier is ’n perfekte model vir ’n sterk silhoeëtfo­to. Monya se reier is nie hééltemal ’n silhoeët nie, maar hier gaan dit steeds oor die buitelyne – van die twee prominente pale en dan die reier.

Die foto wys hoekom dit só belangrik is om altyd bewus te wees van waar die horison lê in jou foto. Selfs al is dit iewers uit fokus in die agtergrond – dit speel áltyd ’n rol in jou komposisie. Deur haar hoofvoorwe­rp – die reier – bo die horison te laat uitstaan het Monya se foto soveel meer trefkrag gekry. (Dis ook die rede hoekom jy dikwels ’n standbeeld op ’n groot voetstuk sal sien staan – sodat dit bo die landskap en mense uittoring.)

Ek hou ook van die oranje gloed wat van regs by die raam insypel. Sy moes skuins in die rigting van die son geskiet het, maar nie direk ín die rigting van die son nie (wees versigtig hiervoor, jy kan jou oë beskadig).

Hierdie gloed is soms moeilik om in jou foto te beheer – dit kan te erg wees, of net reg. Verander jou komposisie effens en daar is dalk skielik te veel van ’n gloed. Eksperimen­teer en kyk waar lê die “sweet spot”.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa