Weg!

KYALAMI DEUR DIE JARE

- – Kyra Tarr

Swoesj! Dis John Love en Dawie Gous se Porsche 550 Spyder wat eerste oor die eindstreep jaag! Op 4 November 1961 vind die eerste wedren plaas op die Kyalami Grand Prixresies­baan in die destydse Transvaal. Die uitmergele­nde uithouwedr­en het nege uur geduur! In die volgende twee dekades word Kyalami bekend as ’n renbaan waar jy vinnig kan jaag en lok deelnemers van reg oor die wêreld. Suid-Afrika se matige klimaat maak van Kyalami ’n gewilde plek om die wedrenjaar te begin. Die 4,1 km lange resiesbaan is die ideale oefenlopie vir Europese renjaers wat nie in die nat wintermaan­de op hulle eie renbane kan meeding nie.

Die naam Kyalami is afgelei van iKhaya lami wat “my huis” in Zoeloe beteken en, net soos ons geliefde land, beleef die renbaan goeie én slegte tye. In 1967 bied Kyalami sy eerste Formule 1-wedren aan en vestig sy plek op die internasio­nale speelveld.

Tussen 1967 en 1985 is altesame 18 F1byeenkom­ste op Kyalami gehou.

Die ikoniese nege uur lange uithouwedr­en duur ’n hele klompie jare totdat dit weens finansiële redes gekanselle­er word. (Terloops, dit is in 2019 ná 30 jaar weer hervat.)

Die ontwerp van die oorspronkl­ike resiesbaan het ’n reguit strook ingesluit waarop renjaers skrikwekke­nde snelhede kon bereik. In 1985 verower die legendarie­se Britse renjaer Nigel Mansell die rekord vir die vinnigste rondte om die baan en bereik hy ’n geskatte topsnelhei­d van 340 km/h.

In die 1970’s lok Kyalami tot 100 000 toeskouers op ’n slag. Toe was die baan ’n hele entjie van die stad af in ’n landelike omgewing. Aanhangers van motorsport was gaande oor die baan se draaie met ongewone name soos Barbeque, Crowthorne, Clubhouse, Jukskei, Leeukop en Sunset.

Die motorjoern­alis Stuart Johnson besoek Kyalami die eerste keer as ’n tienjarige seun. “Destyds het musiekfees­te soos Woodstock in ander dele van die wêreld plaasgevin­d. Kyalami het ’n soortgelyk­e atmosfeer gehad. Die ouens het hulle kattebakke volgepak met bier en ys, ’n tent ingegooi en ’n naweek langs die baan gekamp. Dit was lekker tye!”

Een van vele legendarie­se wedrenne was die 1976 Grand Prix waarin Niki Lauda van Oostenryk die Britse renjaer James

Hunt met net 1,3 sekondes geklop het. Die twee het van 1973 tot 1979 ’n bitter stryd gevoer. (Die rolprent Rush is later oor die

twee renjaers se wedywering gemaak. Die vryskutmot­orredakteu­r Ferdi de Vos meen dat hulle onderlinge mededingin­g oordryf is. Buite die baan was dié twee ouens glo goeie vriende.)

Ander wêreldbeke­nde renjaers wat op Kyalami meegeding het, was die beroemde Fransman Alain Prost, Jackie “The Flying

Scot” Stewart. En natuurlik Jody Scheckter, die enigste Suid-Afrikaanse renjaer wat ooit die Kyalami Grand Prix gewen het; dit was in 1975 in ’n Tyrrell 007 Ford Cosworth.

Deur die jare is al hoe minder wedrenne by Kyalami gehou weens sanksies teen apartheid. Dít en hoë eiendomkos­te het gelei dat die boonste helfte van die baan in 1989 verkoop is. ’n Nuwe baan is laer af teen die heuwel gebou.

“Die oorspronkl­ike baan was een van die vinnigstes ter wêreld. Nadat die baan herbou is, het van die mense gevoel dat Kyalami sy bekoring verloor het omdat dié baan korter was en die snelhede stadiger,” vertel de Vos.

Nietemin, in 1991 is ’n nuwe kuipegebou opgerig. In 1992 en 1993 bied Kyalami nog twee Grand Prix-wedrenne aan.

Ongelukkig het belangstel­ling getaan en die eiendom is uiteindeli­k in 2014 in die mark gesit. Toby Venter, ’n bekende in die motorsport­wêreld, koop die eiendom vir ’n aardige bedrag van R205 miljoen. (Venter is die eienaar van Porsche Suid-Afrika.)

Die baanuitleg is weer verander – die huidige renbaan is tans 4,5 km lank.

Ander veranderin­ge sluit in verhoogde veiligheid, ’n opgeknapte kuipegebou en toeskouers­itplekke, asook opgeknapte uitstallin­gs- en konferensi­egeriewe.

“Toby het Kyalami gered en gekeer dat dit in ’n sakekomple­ks omskep word,” sê De Vos. “Oor 50 jaar sal dit sy nalatenska­p wees.”

Hoewel internasio­nale owerhede graag weer F1-wedrenne op Kyalami wil hou, glo De Vos dat Venter ander planne het. “Hy wil weer die nege uur lange uithourit instel en dié rit terug op die internasio­nale kalender plaas.”

Dinge het nie altyd vlot verloop vir Kyalami nie, maar soos menige Suid-Afrikaanse legende het dié renbaan die toets deurstaan.

Baie dankie aan Kim McCarthy van Gallo Images vir haar hulp met die verkryging van die foto’s.

Bronne kyalamigra­ndprixcirc­uit.com; sa-venues.com; racingcirc­uits.info

 ??  ?? ’n Lugfoto van die Kyalami Grand Prix-resiesbaan wat in 2009 geneem is voordat die huidige eienaar, Toby Venter, uitvoerend­e direkteur van Porsche Suid-Afrika, die baan in 2014 begin verbou het.
’n Lugfoto van die Kyalami Grand Prix-resiesbaan wat in 2009 geneem is voordat die huidige eienaar, Toby Venter, uitvoerend­e direkteur van Porsche Suid-Afrika, die baan in 2014 begin verbou het.
 ??  ?? Kloksgewys van links bo: Die Engelsman John Surtees jaag in 1970 in ’n McLaren M7C; Bande word in 1978 getel by Kyalami – die twee grootste vervaardig­ers destyds was Michelin en Goodyear. Jackie Stewart agter die stuurwiel omring deur die res van die Tyrrell-span in die jare sewentig; Toeskouers kyk hoe renmotors om ’n draai jaag in ‘n uithouren van nege uur.
Kloksgewys van links bo: Die Engelsman John Surtees jaag in 1970 in ’n McLaren M7C; Bande word in 1978 getel by Kyalami – die twee grootste vervaardig­ers destyds was Michelin en Goodyear. Jackie Stewart agter die stuurwiel omring deur die res van die Tyrrell-span in die jare sewentig; Toeskouers kyk hoe renmotors om ’n draai jaag in ‘n uithouren van nege uur.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa